ADVERTISEMENT:

 

Wyle James Shaw (53). Foto verskaf.

James Shaw se skielike dood kom as groot skok

 

Die skielike dood van die 53-jarige James Shaw van Louis Trichardt het Maandag skokgolwe deur die Soutpansberg gemeenskap gestuur.

Alhoewel James ‘n baie private mens was, was hy welbekend in die Soutpansberg. “Hy was sy hele lewe lank hier gewees en was ook hier op skool by Hoërskool Louis Trichardt,” het dogter Maryké Shaw Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

James het alleen gebly in ‘n huurwoonstel net buite die dorp en volgens Maryké is hulle nie seker presies wanneer haar pa oorlede is nie. “Sover ons weet is hy Sondagaand oorlede, klaarblyklik aan ‘n beroerte,” het Maryké gesê.

Werkskollegas van James het Maandagoggend op sy liggaam afgekom. “Gewoonlik is hy heel eerste in die oggende by die werk. Toe hy Maandagoggend nie opdaag vir werk nie, het hulle gaan kyk. Dit was toe dat hulle hom in sy bed gekry het,” het Maryké gesê.

James was die afgelope vier jaar werksaam by LTT Brake & Clutch. “Hy het die een dag hier by my opgedaag en vir my gesê hy gee nie om wat ek hom betaal nie, maar hy werk nou vir my,” onthou Floris Prinsloo van LTT Brake & Clutch. Volgens Prinsloo was hy ‘n uiters bekwame werktuigkundige en sal hulle sy toewyding en bydrae tot die onderneming beslis mis. “Hy het al my vragmotors, breakdowns, en kragopwekkers versien,” het Prinsloo gesê.

James het as jong man sy ambag as werktuigkundige by Du Toit’s Engineering voltooi, waarna hy sy eie besigheid begin het met die versiening van vragmotors en insleepdienste. Tussendeur het hy ook vragmotors gehad wat vir die plaaslike meule gery het, totdat hy by LTT Brake & Clutch aangesluit het. “Van kleins af onthou ek hoe ek saam met hom gery het as hy moes uitgaan op ‘n breakdown of iets moes gaan doen het,” onthou Maryké.

‘n Roudiens vir wyle James word Saterdag, 1 Mei, om 10:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente gehou, onderhewig aan die Covid-19 regulasies. Geen eetgoed sal ná die tyd bedien word nie, maar belangstellendes is welkom om ‘n drankie op James te gaan drink ná die diens by die MOTH se Turbi Hills Bomgat in Burgerstraat.

Wyle James word oorleef deur sy dogter Maryké, seuns Zak en James (junior), broers Robert en Freek en suster Karin van Graan. Die familie het hulle opregte dank uitgespreek teenoor Floris en Bianca Prinsloo vir al die reëlings en bystand. Hulle het ook die gemeenskap bedank vir hulle omgee en woorde van vertroosting.

 

News - Date: 30 April 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: