ADVERTISEMENT:

 

Die Makhado Munisipaliteit het hulle politieke visier gestel op al die amateur sportklubs in die dorp, soos die Louis Trichardt Rugbyklub (foto), wat gebruik maak van munisipale infrastruktuur, deur aan te kondig dat hulle hul 99-jaar huurkontrakte met die klubs gaan kanselleer.

Sportklubs reg vir hofstryd teen Raad

 

Voorsitters en verteenwoordigers van sportklubs in Louis Trichardt wat gebruik maak van munisipale infrastruktuur het op 2 Junie ‘n noodvergadering gehou om die Makhado Munisipaliteit se eensydige besluit om hulle 99-jaar huurkontrakte te kanselleer, te bespreek. Dat hierdie saak op pad is Hooggeregshof toe vir beslissing was gou duidelik.

Elf van die dorp se amateur sportklubs staar tans ‘n duister toekoms in die gesig weens hierdie kontroversiële raadsbesluit wat op 31 Mei tydens die Makhado Munisipaliteit se 159ste virtuele spesiale raadsvergadering geneem is. Die klubs sluit onder meer in die Soutpansberg Gholfklub, die Louis Trichardt Rugbyklub, die Soutpansberg Muurbalklub, die Louis Trichardt Stoeiklub (en ander klubs wat gebruik maak van die stoei- en gimnastieksaal), die Louis Trichardt Rolbalklub, die Soutpansberg Atletiekklub, die Soutpan Jukskeiklub en die posduifklubs.

Met 2021 wat ‘n verkiesingsjaar is, betwyfel baie mense die tydsberekening van hierdie omstrede besluit. “Ons weet dit is ‘n verkiesingsjaar, so hulle doen hierdie dinge om mense te ontsenu en politieke punte te wen, tot nadeel van die gemeenskap,” het DA-raadslid Brian du Plooy tydens die vergadering gesê. Hy het ook die vergadering belê. Du Plooy het egter genoem dat hy nie die vergadering belê het as politikus nie, maar as ‘n bekommerde lid van een van die betrokke sportklubs. “Hierdie is vir my ‘n hartsaak,” het Du Plooy gesê.

As rede vir die besluit om die kontrakte eensydig te kanselleer voer die Raad aan dat die klubs uitsluitlik vir “wit” mense voorsiening maak en nie toeganklik is vir die ander rassegroepe in die woongebiede om die dorp nie. Hulle beroep hulself dus op Artikel 152 van Wet 108 van 1996 van die Grondwet van Suid-Afrika. Volgens hierdie wet het munisipale rade ‘n grondwetlike plig om gelyke toegang tot fasiliteite vir alle inwoners te verseker en dat hulle enige kontrakte wat hiermee strydig is, kan herroep.

Du Plooy het gesê dat die Makhado Munisipaliteit baie duidelik hul besluit gaan deurvoer. In dié verband het hy gesê dit dat die tyd nou gekom het vir sportklubs om saam te staan. “Daar sal onkostes wees. Klubs gaan op ‘n manier finansieel moet bydra. Ons sal geld moet gaan soek as ons nie geld het nie,” het Du Plooy gesê.

‘n Ligpunt in hierdie aanslag op die dorp se sportklubs en sport in geheel het gekom met Louis Trichardt prokureur Suwil Rudolph wat homself beskikbaar gestel het om die saak, teen minimale vergoeding, namens die gemeenskap te dryf. Daarbenewens het advokaat Piet Potgieter van Pretoria homself beskikbaar gestel om op ‘n pro bono basis vir die klubs in die Hooggeregshof op te tree. Slegs sy reis en verblyf sal betaal moet word. Die vergadering het eenparige besluit om Rudolph en Potgieter se dienste aanvaar.

Vir die onmiddellike is klubs aangesê om hulle huise so spoedig moontlik in order te kry. Dit sluit in dat almal afskrifte kry van hulle huurkontrakte en hulle ledelyste moet op datum kry. “Die punte waarna hulle gaan kyk, is wat is die diversiteit van jou ledelys. Dan gaan hulle kyk wat sê jou kontrak, wat moes jy betaal het. Wat is jou agterstallige huurgeld? Het almal hulle huurgeld op datum betaal? Sportklubs moet seker maak hierdie goed is in plek,” het Du Plooy gesê. Hy het bygevoeg dat alhoewel die munisipaliteit hul tans beroep op die bepalings van Artikel 152 van Wet 108 van 1996 van die Grondwet van Suid-Afrika om die wettigheid van die bestaande huurkontrakte te omseil, die bestaan van die kontrakte wel gewig gaan dra as die saak in die hof aangehoor word.

Wat die hofsaak self betref, het Du Plooy gewaarsku dat klubs hulself moet gereed maak vir ‘n lang en uitgerekte hofsaak. Hy het verwys na die Voorsittersvereniging (VV) se stryd teen die munisipaliteit in die omstrede naamsverandering saak. Die munisipaliteit het drie keer teruggekom en telkens weer die VV op belastingbetalers se onkoste hof toe gesleep. Volgens Du Plooy wou hulle [die munisipaliteit] verlede jaar weer die naamsaak hervat, maar het daarteen besluit. “Dit lyk my hulle het nou die sportklubs in hulle visier,” het Du Plooy gesê.

Is daar lig aan die einde van die tonnel? Volgens Du Plooy glo hy die munisipaliteit het nie regtig ‘n voet om op te staan nie. “Maar hulle gaan probeer. Al vat ons hulle Hooggeregshof toe, sal hulle net weer appelleer en hulle gaan terugkom vir ‘n tweede en derde keer. Hierdie gaan ‘n lang storie wees. Drie jaar, vier jaar, vyf jaar. Maar ons kan nie toelaat dat hulle ons net van ons gronde afsit nie,” het Du Plooy gesê.

Du Plooy het weereens daarop klem gelê dat die klubs uit een mond moet praat. As uitvloeisel hiervan het die klubs die Louis Trichardt Sportvoorsittersverening gestig, met Andy Leach van die Louis Trichardt Tennisklub wat tot voorsitter verkies is. Dit volg nadat Du Plooy gesê het dat hy nie as voorsitter beskikbaar is nie. As een van sy eerste pligte as voorsitter het Leach die betrokke sportklubs versoek om binne twee weke hulle kontrakte en sake in order te kry.

“In kort is ons van mening dat hul stelling dat dit in openbare belang is, nie water hou of op Konstitusionele gronde water hou nie. Die klubs is ook inklusief; dus, vanuit politieke oogpunt hou die argument ook nie water nie. In elk geval bied die klubs ‘n diens aan die breër gemeenskap. Alle rassegroepe is welkom om lede te wees en op die bestuur te dien. Dit is jammer dat die raad hom nie eerder ophou met dienslewering as om rassisties op te tree nie. Ons sal maar kyk wat hulle stukke sê en dan daarvolgens optree,” het Rudolph hierdie week in reaksie aan die Zoutpansberger gesê.

Intussen het Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi Dinsdag gesê dat die onderskeie klubs binnekort kennisgewings sal ontvang van hulle besluit om die huurkontrakte te kanselleer. Bobodi kon nie sê presies wanneer dit gaan plaasvind nie, maar dat hulle die saak as “dringend” hanteer. Hy het bygevoeg dat hulle die fasiliteite sal behou om voortaan meer effektief te bestuur sodat almal in die gemeenskap toegang daartoe het.

News - Date: 11 June 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: