ADVERTISEMENT:

 

Wyle Pierre van den Heever (51). Foto verskaf.

Pierre sal onthou word vir sy omgee-hart

 

Die Covid-19 virus ontsien niemand nie en saai steeds hartseer en verwoesting in die lewens van baie. Die afgelope week het talle hulle stryd teen die virus verloor, onder hulle ook die 51-jarige Pierre van den Heever.

“Hierdie week groet ons ‘n groot boom wat te vroeg geval het. Nie net was jy die anker in ons lewens nie, jy was ons veilige hawe, raadgewer, rots waaraan ons kon vashou. Jy het God met oorgawe gedien en so ook die gemeenskap van Louis Trichardt. Hoeveel aande het ek ‘n oproep gekry van iemand in nood, dan het jy gaan aantrek en dadelik gaan help, of dit nou ‘n mamma was wat nie melk vir haar baba het nie, of wat ook al. Daar waar jy nou by Jesus se voete sit, hou maar ‘n oog oor my en die kinders. Jy laat ‘n groot leemte in Louis Trichardt - daar is letterlik honderde mense wat oor jou treur - jy was ‘n ware man van God,” sê Pierre se vrou, Helena.

Pierre Armand Grobler van den Heever is op 16 Augustus 1969 in Louis Trichardt gebore. Volgens sy ma, Elsie, was hy was ‘n woelige maar vriendelike knapie. Hy was in Laerskool Louis Trichardt en het sy hoërskoolloopbaan by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in Polokwane voltooi, nadat hy vir ‘n rukkie by Kuschke Landbouskool was. “Pierre was hardwerkend en het ‘n baie goeie hart gehad. Hy het uit sy pad gegaan om vir iemand iets te doen” sê ‘n bedroefde Elsie.

Helena noem dat Pierre vir 18 jaar in die lugmag was. Daar was hy ‘n vlugsersant wat as brandweerman gewerk het. Hy was ook ‘n uitstekende skut wat in die lugmag se skietspan was en het ‘n verskeidenheid ander kwalifikasies verwerf. Hy het onder andere as ‘n paramedikus gekwalifiseer. 

“Nadat ons ontmoet het, het hy besluit om ‘n pakket te neem. Terwyl hy gewag het dat alles afgehandel word, het hy vir ses maande in die Kongo gaan werk. Voordat hy Kongo toe vertrek het, is ons op 14 Februarie 2006 getroud. Ek moes agterbly om die besigheid aan die gang te hou en om te sien na die kinders, Pierre se ma, asook sy ouma.  Hy het in dieselfde jaar teruggekom en hier by my by die Grassnyer Kliniek ingeval wat ek reeds in die jaar 2000 begin het. Saam het ons ‘n groot sukses van die besigheid gemaak,” sê Helena. Sy voeg by dat hulle gedurende Desember 2017 op klein skaal minderbevoorregte mense deur middel van skenkings begin help het. Só het Feed the Hungry gegroei tot waar hulle huidig ongeveer 700 mense van kos, klere, komberse, meubels ensovoorts voorsien. “Ek gaan voort met Grassnyer Kliniek en Feed the Hungry soos wat Pierre dit sou wou hê. Pierre was die ruggraat van Feed the Hungry – hy het my in elke opsig ondersteun,” sê Helena.

Saam het Helena en Pierre in hulle vrye tyd aan allerlei soorte avontuursport deelgeneem. Dit het ingesluit om met vierwielmotorfietse te ry. Hulle het ook Zipline gedoen – iets wat albei baie geniet het.

Drie dae voor sy verjaardag is Pierre op 13 Augustus in Tzaneen se MediKliniek aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede. Toe Pierre siek geword het, was hy aanvanklik vir drie dae in die Zoutpansberg Privaathospitaal.  Daarna is hy oorgeplaas na Tzaneen, waar hy eers vir ‘n week in ‘n algemene Covidsaal was en die res van die tyd in die intensiewe sorgeenheid.

“Pappa Pierre was en sal altyd die sonskyn in ons lewens wees - tot ons weer sien.” Sֶo sê Armand, Herculine, Jeanine, Shawn, Lena, Marie, Fanie, Natasha en Craig.

“Dankie aan almal wat boodskappe stuur, koekies en blomme aandra en sommer net daar is vir ons,” sê die familie.

Helena bring hulde met die volgende woorde: “Ek groet nie my man nie, want jy is by my elke dag in my hart en siel. Tot ons weer sien.  Love you xxx.”

 

News - Date: 19 August 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: