ADVERTISEMENT:

 

Wyle Pieter Cronjé (45). Foto verskaf.

Sakeman Pieter Cronjé (45) verloor Covid-stryd

 

“Tot wanneer toe gaan hierdie gemors nog aanhou? Hoeveel mense wil hy nog vat!?” So het ‘n hartseer Amanda Cronjé van Louis Trichardt gesê nadat haar man, bekende plaaslike sakeman Pieter Cronjé (45), die afgelope week deel geword het van die jongste Covid-19 sterfgevalle.

Pieter is op 22 Julie opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal nadat hy begin sukkel het met asemnood. In daardie stadium was hy reeds nege dae in isolasie nadat hy positief vir die virus getoets het. Laat die aand van 26 Julie is hy oorgeplaas na die Netcare Bougainville Hospitaal in Pretoria, waar hy op 27 Julie op ‘n ventilator geplaas is. Sedert Pieter se opname in die hospitaal het sy toestand wipplank gery. “Maar ons het positief en hoopvol gebly,” het Amanda gesê.

Vrydag, 13 Augustus, het Amanda die oproep gekry wat niemand wil kry nie. Haar man is kwart oor vier die middag oorlede. “Alles het onder beheer geblyk te wees. Dit is hoe ek dit ervaar het. Sy hartklop was sterk gewees en sy bloeddruk mooi,” het Amanda gesê. Sy het net die vorige dag van haar man se siekbed teruggekeer, nadat medici haar en haar twee seuns, Pieter (junior) en Rohan, ‘n week vantevore laat kom het om “te groet”. Pieter het egter sedert hul aankoms by die hospitaal tekens van beterskap begin toon ná ‘n aanpassing in sy medikasie.

Amanda-hulle is dankbaar dat hulle wel die kans gekry het om Pieter te sien. Vir haar is niks wreder as om die familie van ‘n geliefde te weerhou wat besig is om aan Covid-19 te sterf nie. “Hulle kan vir my sê wat hulle wil, jy kan nie jou geliefde so alleen los nie! Dit is onmenslik,” het Amanda gesê.

Die paar oomblikke wat Amanda saam met Pieter kon spandeer was vir haar kosbaar, alhoewel hy merendeels onder verdowing was. “Hy was egter ten volle bewus daarvan dat ek daar was, die hele tyd. Ek het vir hom gevra hy moet sy oë knip as hy my kan hoor. Hy het dit gedoen. Ek’t vir hom gesê fight hierdie ding, ons almal bid aan hierdie kant. Hy was die hele tyd positief, selfs voordat hy opgeneem is, maar ek dink jy kom op ‘n punt wat jy angstig raak en jou liggaam net nie meer kan nie,” het Amanda gesê. Wat dit betref het sy weereens gesê dat geliefdes in hulle laas oomblikke deur ‘n familielid bygestaan moet word. “Hulle weet jy is daar en hulle kan voel as jy hulle hand vashou. Dit is die belangrikste,” het Amanda gesê.

Wyle Pieter is op 28 Oktober 1975 op Piet Retief gebore maar het in Louis Trichardt grootgeword waar hy sy skoolloopbaan by Laerskool Soutpansberg begin het en by Hoërskool Louis Trichardt voltooi het.

Ná skool in 1994 het Pieter saam met sy een broer Sarel (intussen ook oorlede) by Standard Bank op Bosbokrand begin werk. Amanda het in 1995 gematrikuleer, waarna sy ook by die Standard Bank-tak op Bosbokrand begin werk het in 1996. Pieter en Amanda se verhouding as kollegas het mettertyd meer ernstig geword en hulle is in 1998 in Witbank met mekaar getroud. Drie kinders, Pieter (junior), Rohan en Mikhe, is uit die huwelik gebore.

Dieselfde tyd wat hulle getroud is, het Pieter ‘n ingenieurswerke gekoop by ‘n vriend van hom wat oorlede is. Die besigheid, PF Engineering, was geleë in Shayandima (Thohoyandou), waarna Pieter-hulle die bankwese gelos het en na Louis Trichardt verhuis het om die onderneming te bedryf. “Hy het niks van ingenieurswese geweet toe hy hier aangekom het nie. Maar hy was nog altyd goed met sy hande. So, alles wat hy daar gedoen het, het hy homself geleer in die laaste 23 jaar,” het Amanda gesê.

“Hy het ‘n hart van goud gehad. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het orals gehelp waar hy kon. Hy was die beste man en beste pa gewees,” het Amanda gesê. Baie sal vir Pieter ook onthou vir sy rustige temperament. Hy het selde kwaad geword en kon Venda vlot praat omdat hy daarmee groot geword het. “Hy was ons rots en anker. Jy kon altyd op hom staatgemaak het. Hy was ‘n planmaker en probleemuitsorteerder – hy kon regtig enige iets doen en was ‘n man van integriteit,” het Amanda haar man onthou.

‘n Roudiens vir wyle Pieter vind eerskomende Saterdag, 21 Augustus, vir onmiddellike familie en vriende plaas. Hy word oorleef deur sy vrou Amanda, kinders Pieter (junior), Rohan en Mikhe, broer Faan en skoonfamilie en vriende.

Amanda het haar dank uitgespreek teenoor al die mediese personeel wat betrokke was by Pieter se behandeling, insluitend die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal en die personeel van die Netcare Bougainville Hospitaal. Sy het ‘n spesiale woord van dank gerig aan dr. Ismail Hassan. “Dankie ook aan die gemeenskap vir almal se konstante ondersteuning,” het Amanda gesê. (Vir die onmiddellike toekoms gaan Pieter se seun Rohan aan met sy pa se besigheid in Shayandima).

 

News - Date: 21 August 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: