ADVERTISEMENT:

 

“Hier op Levubu is daar elke dag van die week ‘n lyn of twee af, partykeer soms tot vir 12 ure lank," het Hoffman gesê. Generic image.

Levubu-boere en munisipaliteit haaks oor kragonderbrekings

 

Levubu se boerderygemeenskap is nou al vir ‘n geruime tyd besig om koppe te stamp met die Makhado Munisipaliteit oor dié se skynbare traagheid om probleme met kroniese kragonderbrekings op te los.

Volgens ‘n gemeenskapsverteenwoordiger van Levubu, me. Lana Hoffman, is hulle grootste frustrasie die gebrek aan terugvoer wanneer ‘n kragonderbreking op een van Levubu se nege kragvoorsieningslyne gerapporteer word. “Ons is moedeloos verby!” het Hoffman gesê.

Reeds in Februarie vanjaar het die Levubu-gemeenskap ‘n vergadering belê met mnr. Thomas Matodzi, hoof van die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling. Van die punte op die agenda het ingesluit maniere om beter te kommunikeer, die beskikbaarstelling van ‘n bystandslys van persone om te skakel wanneer ‘n kragonderbreking na-ure sou plaasvind, herhalende onderbrekings op dieselfde lyne, die skoonsny van lyne op gereelde basis, die vervanging van vrot pale en aandag aan lyne wat slap hang asook gekraakte isolators, fluktuering van krag buite die aanvaarbare spektrum en die gebruik van hommeltuie om foute op te spoor. In een geval het ‘n boer sy lyn gemonitor en gesien dat die lyn fluktueer tussen 240 volt en ‘n ongelooflike 450 volt!

“Hy het so ‘n lekker vergadering met ons kom hou. Hy het vir ons die son, maan en sterre belowe. Ons moes net self deur al nege lyne gaan en kyk waar foute is. Daarna moes ons vir hom die foute deurgee op ‘n Excel-bladsy. Dit was Februarie. Hy het gesê hy soek dit Maart,” het Hoffman gesê. Hulle het ook ‘n WhatsApp-groep gestig, waarvan Matodzi deel was, om kommunikasie te vergemaklik.

Ses maande later het egter nog niks gebeur nie. “Ons het nog geen terugvoer gekry van gaan daar iets gebeur, waar gaan hulle begin en hoe gaan hulle begin nie,” het Hoffman gesê. Vir hulle as boerderygemeenskap is hierdie ‘n groot probleem. “Hier op Levubu is daar elke dag van die week ‘n lyn of twee af, partykeer soms tot vir 12 ure lank. Die boere hier gee 100% hulle samewerking. As daar pale geplant moet word, gee ons die TLB om die gate te grawe. Daar is mense wat staan en lig want hulle flitse is pap. Jy kan nie glo hoeveel van hulle werk doen ons nie. Ons maak in elk geval die lyne skoon, wat hulle werk is. Al wat ons vra is ons wil ‘n dag hê om die lyne af te sit, maar dit beteken een van hulle moet uitkom om te kom toesig hou. As die lyne afgesit word, moet jy papiere teken. Almal wat aan die lyne werk, moet fisies ‘n vorm invul, en soos hulle klaar gewerk het, moet hulle die vorm terugbring dat die toesighouer weet dat almal wat aan die lyne gewerk het, klaar is. Maar nou wil hulle nie vir ons ‘n datum gee nie,” het Hoffman gesê. Nog een van hulle klagte is dat elektrisiteitspersoneel skynbaar nie meer na-ure wil aandag geen aan klagte nie en die klagte laat oorstaan tot die volgende dag.

Hoffman het skermgrepe van hulle WhatsApp-kommunikasie met Matodzi aan die Zoutpansberger gestuur. Telkens wys dit hoe daar versuim word om terugvoer op klagte te gee. Nadat Matodzi uitgevind het dat Hoffman die koerant hieroor genader het, het ietwat van ‘n bekgeveg op die WhatsApp-groep ontstaan. In een van sy laaste inskrywings op die groep waarsku Matodzi kragverbruikers in Levubu dat hy van die groep sal onttrek, sou Hoffman voortgaan met haar “houding”. “Maar hy het my uitgedaag om koerant toe te gaan,” het Hoffman gesê. Matodzi sê egter in sy WhatsApp op die groep dat hy, ten spyte hiervan, steeds gewillig is om die Levubu-gemeenskap van duidelikheid en terugvoer te voorsien in dringende sake. “Dit is wat ek elke dag doen. Ek sien uit daarna om met die samewerking voort te gaan,” het Matodzi geskryf.

Dit probleem van kragvoorsiening na buitegebiede is nie beperk tot net kragverbruikers op die Levubu-lyn nie. Soortgelyke klagte is ook ontvang van kragverbruikers op die Vivo-lyn.

Die koerant het die Makhado Munisipaliteit genader vir kommentaar hieroor en spesifiek gevra aangaande die Levubu-lyne en klagte dat geen terugvoer op klagte gegee word nie.

Die Makhado Munisipaliteit het by monde van hulle woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, hierdie week gesê dat hulle wel op klagte reageer en terugvoer gee van tyd tot tyd, wanneer ‘n situasie dit noodsaak. “Ons het pas diensverskaffers aangestel om aandag te skenk aan die veelvuldige elektrisiteit uitdagings binne die munisipaliteit, insluitend Levubu,” het Bobodi gesê. Hierdie diensverskaffers, het Bobodi gesê, sal binnekort begin. Volgens hom sal ure-lange kragonderbrekings binnekort iets van die verlede wees. “Ons wil inwoners van Makhado en Levubu spesifiek die versekering gee dat die diensverskaffers handig te pas sal kom om elektriese uitdagings te minimaliseer,” het Bobodi gesê. Hy het inwoners ook die versekering gegee dat personeel van die elektrisiteitsafdeling steeds na-ure werk en sal aanhou werk tot die werk afgehandel is.

 

News - Date: 17 September 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: