ADVERTISEMENT:

 

Johann Hammann (voor) afgeneem in die Appèlhof in Bloemfontein toe die saak daar gedien het. Skuins agter hom sit die Venda prinses, Masindi Mphephu.

Konstitusionele Hof-oorwinning 'n pluimpie vir regsfirma

 

Die Konstitusionele Hof het Vrydag uitspraak gelewer in die Venda koningskapsaak - ‘n oorwinning vir die jong prinses Masindi Mphephu en nog ‘n terugslag vir die waarnemende koning en uiters omstrede Toni Mphephu-Ramabulana. Vrydag se oorwinning was egter ook ‘n besonderse pluimpie vir ‘n prokureursfirma van Louis Trichardt wat die saak al vir bykans ‘n dekade namens die prinses veg.

Volgens Johann Hammann van Hammann en Moosa prokureurs op Louis Trichardt, het hul paaie in 2012 die eerste keer gekruis met dié van Masindi Mphephu en haar oom, Mbulaheni Charles Mphephu. “Hulle het iemand gesoek om hulle te verteenwoordig, maar hulle het nie die fondse gehad vir lang, uitgerekte hofsake nie,” sê Johann.

Wat Johann destyds al besef het, was dat hierdie geen maklike saak sou wees nie. Masindi is die enigste dogter van wyle Tshimangadzo Mphephu, wat onder die naam Dimbanyika geheers het. Hy was die seun van die voormalige Venda koning, Ramaano Patrick Mphephu. Dimbanyika is in 1997 in ‘n motorongeluk oorlede. “As Masindi ‘n seun was, sou sy die outomatiese keuse as troonopvolger gewees het,” sê Johan.

Om ‘n vrou as troonopvolger te hê was egter ‘n skuif wat vir sekere van die lede van die koninklike familie net een te veel was. Op 14 Augustus 2010 het die koninklike raad vergader om ‘n kandidaat aan te wys. Masindi en haar oom is nie genooi na die vergadering nie. Tydens dié vergadering is duidelik uitgespel dat die opvolger ‘n man moes wees. Masindi se oom, Toni Mphephu-Ramabulana, is aangewys as die voorkeur-kandidaat vir die koningskap. Die besluit is geneem ten spyte van die feit dat Toni in daardie stadium die ndumi (hoofraadgewer) van die vorige leier was. Tradisioneel mag die ndumi nie ‘n troonopvolger wees nie.

Die onmin tussen die partye het opgebou ná dié besluit, maar omdat Masindi nog minderjarig was, was dit moeilik om die koninklike familie teen te staan. Haar oom, Mbulaheni Mphephu, het haar egter bygestaan en begin soek na ‘n regsfirma wat hulle kon help baklei, sodat geregtigheid kon geskied.

In 2012 het Hammann en Moosa Prokureurs stukke geliasseer in die Thohoyandou Hooggeregshof, kort nadat voormalige President Jacob Zuma die amptelike aankondiging gemaak het dat Toni die volgende koning van die Vhavenda sou wees. Hierdie was dan ook die begin van ‘n stryd in die howe wat etlike jare sou duur.

Volgens Johann was die feit dat dit ‘n komplekse saak was wat baie tyd en geld sou kos, gou duidelik. Hulle het die regshulpraad genader, maar om andere te oortuig dat hierdie ‘n saak was wat belangrike grondwetlike beginsels raak, was moeilik. In daardie stadium het hulle ook die dienste van advokaat Alan Dodson (SC) bekom. Dodson het van meet af aan in Masindi se saak geglo en was bereid om sonder enige waarborge van vergoeding die werk aan te pak. (Dodson is vanjaar genomineer as kandidaat vir ‘n posisie as regter in die Konstitusionele Hof, wat getuig van die respek wat hy in regskringe geniet.)

Die regspan se eerste uitdaging was egter in die Limpopo Hooggeregshof. Alhoewel die stukke in Desember 2012 geliasseer is, moes hulle tot einde 2015 wag vir ‘n eerste verhoor. Johann vertel dat hulle deurentyd met vertragingstaktiek te doen gehad het. Buiten dat Toni se regspan telkens versuim het om stukke betyds te liasseer, het die Staat (wat ‘n respondent in die saak was) ook voete gesleep.

Ten einde koste te bespaar en risiko’s te verminder, is die hof gevra om die saak te skei en eers oor ‘n reeks tegniese aspekte in die saak te beslis; onder meer oor aspekte soos jurisdiksie en wanneer sekere wetgewing van krag is of nie meer toepaslik is nie. Hierdie saak het op 31 Augustus 2015 voor die hof gedien en die aansoek is toegestaan.

Die wiele het egter in die agtergrond begin rol om Toni Mphephu-Ramabulana ingehuldig te kry as koning. Masindi se regspan moes die hof nader en ‘n dringende interdik aanvra om die proses te stop. Op 9 September 2016 het regter Khami Makhafola ‘n bevel toegestaan wat die inhuldiging gekeer het.

Die saak het eindelik in Desember 2016 voor regter Ephraim Makgoba gedien, maar dit was vroeg reeds duidelik dat hy nie baie simpatiek teenoor Masindi en haar span was nie. Hy was nie oortuig dat al die opsies om die geskil te besleg gevolg is nie en het ook nie geglo dat geslagsdiskriminasie sentraal tot die saak staan nie. Volgens Johann het hulle vroeg in die verhoor reeds besef dat hulle nie veel van ‘n kans gegun word om hul saak te stel nie.

Ná regter Makgoba mondelings uitspraak gelewer het op 14 Desember 2016 het Masindi se regspan dadelik begin werk aan ‘n appèl, wat die volgende dag geliasseer is. Hulle moes egter wag tot in Januarie 2018 vir ‘n skriftelike uitspraak. Die pleitstukke is gewysig, geliasseer en die aansoek is in Maart 2018 aangehoor.

Regter Makgoba wou egter nie bes gee nie en het Masindi se regspan toestemming geweier om teen die vroeëre uitspraak te appelleer. Dit het hulle genoop om die Appèlhof in Bloemfontein direk te nader.

Johann vertel dat die proses om die stukke gereed te kry vir die Appèlhof kompleks en tydsaam was. Die eskalerende regskostes was deurentyd ‘n probleem. Die Regshulpraad het in Desember 2015 ingestem om by te dra, maar met heelwat beperkings. Masindi se span het van twee advokate gebruik gemaak. Die span moes egter op erg-verminderde tariewe werk en heelwat van die uitgawes is nie gedek nie. Johann se firma moes maar instaan vir die kostes. Die hoër howe het hul eie unieke vereistes vir dokumente, wat beteken het die stapels dokumente moes verwerk, verkort en weer in die regte formaat geliasseer word.

Die Appèlhofsaak het in Desember 2018 begin, wat volgens Johann een van die hoogtepunte in sy regsloopbaan was. Die volbank van regters was uiters simpatiek teenoor Masindi se saak en het besef hoe ‘n belangrike stryd die bevordering van gelyke geleenthede vir vroue is. Die wetgewing is in plek om tradisionele gebruike in lyn te bring met die land se konstitusionele waardes, maar dit gebeur nie altyd nie.

In April 2019 het die Appèlhof uitspraak gelewer wat as ‘n reuse-oorwinning nie net vir Masindi beskou is nie, maar ook vir vroueregte, veral in tradisionele areas. Die hof het Toni Mphephu-Ramabulana se erkenning as koning van die Vhavenda tersyde gestel en gesê dat die proses om ‘n nuwe leier te bepaal onregmatig was. Die saak is terugverwys na die Hooggeregshof, maar met ‘n voorwaarde dat ‘n ander regter dit moes aanhoor.

Die Appèlhof wou egter nie ‘n bevel maak rondom koste nie, wat beteken het Masindi se regspan moes maar steeds rondkrap vir fondse om die saak verder te beveg. Om sake te bemoeilik, het die Appèlhof ‘n skuiwergat gelos deur nie vir Toni van sy waarnemende posisie te stroop nie, wat beteken dat hy steeds betaling ontvang het asof hy die koning was.

Johann vertel dat die proses om die saak verhoor te kry toe weer moes begin, en weer het Toni se regspan gesloer. In 2019 het die nasionale en provinsiale Huis van Tradisionele Leiers, in opdrag van die Appèlhof, ‘n verslag uitgebring waarin hulle onder meer bevind dat Toni nie ‘n geskikte troonopvolger is nie, omdat hy die ndumi was.

Toni Mphephu-Ramabulana was duidelik ietwat in ‘n hoek vasgeverf deur dié verslag. Sy regspan het toe besluit het om teen die Appèlhof se uitspraak te appelleer en dit na die Konstitusionele Hof te neem. Die enigste probleem was dat dit toe alreeds 15 maande te laat was.

Volgens Johann het dit egter die deur oopgemaak vir hulle om sommer hul eie griewe te lug rondom die tekortkominge in die Appèlhof se uitspraak. Hulle het ook ‘n appèl geliasseer en gevra dat die hof onder andere vir Toni moes stroop van sy voordele.

Die Konstitusionele Hof het verlede Vrydag uitspraak gegee in die saak, wat ‘n reuse-oorwinning vir Masindi behels het. Die hof het eerstens besluit om Toni se appèl van die hand te wys. Die redes wat aangevoer is hoekom die aansoek so laat ingedien is, was nie vir die hof aanvaarbaar nie. Ten spyte daarvan was die regters ook nie oortuig daarvan dat hul saak baie meriete het nie.

Die hof was egter wel bereid om na die kruis-appèl van Masindi te luister. Onder meer is bevind dat die Appèlhof gefouteer het deur Toni toe te laat om as waarnemende koning op te tree en die voordele daarvan te geniet. Die hof het voorts ook bevind dat om Masindi te belas met al die kostes nie billik was nie. Interessant genoeg is ‘n kostebevel vir al drie howe waarin die saak gedien het toegestaan teen die President van die land. Die hof se argument was dat die onregmatige aksie van voormalige President Jacob Zuma aanleiding gegee het tot die geding.

Die uitspraak in die land se hoogste hof is ‘n besonderse soet oorwinning vir Johann. Dit het bevestig dat hulle vertroue in Masindi se saak geregverdig was en dat die harde werk van bykans ‘n dekade nie verniet was nie. Die feit dat ‘n kostebevel uiteindelik gemaak is, verlig ook die druk aansienlik op Masindi en hul eie regsfirma.

Die saak is egter nog ver van afgehandel. Johann en sy span het reeds begin om ‘n voorverhoor te probeer reël vir die Hooggeregshofsaak. Die Appèlhof en Konstitusionele Hof het gelukkig reeds uitsluitsel gegee oor heelwat van die tegniese punte, wat meebring dat die saak direk na verhoor kan gaan. Hulle plan is ook om die hof te vra om uitspraak te lewer en Masindi as koningin van die Vhavenda aan te wys.

Johann het baie lof gehad vir die span wat al vir so lank aan die saak werk. Die span advokate het bestaan uit Alan Dodson (SC), Janice Bleazard en Mmakgomo Maenetje. Hy het ook baie respek vir Masindi Mphephu, wat as jong student opgestaan het vir haar en vroue se regte en te midde van geweldige druk aanhou om te veg vir dit waarin sy glo.

 

News - Date: 20 November 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: