ADVERTISEMENT:

 

Die deernispakkies staan gereed om uitgedeel te word. Elke twee weke word die pakkies uitgedeel aan sowat 170 behoeftiges.

Bergcare reik uit na behoeftiges in streek

 

Die diensorganisasie, Bergcare, het die afgelope jaar maandeliks voedselhulp aan sowat 170 inwoners verskaf, wat 56 bejaardes insluit. Sedert die begin van die jaar is reeds 1 872 deernispakkies uitgedeel, wat nie net voedsel nie maar ook noodsaaklikhede soos seep, sjampoe en tandeborsels bevat.

Bergcare se algemene jaarvergadering is Maandagaand gehou en tydens dié sessie het die voorsitter, ds. Jan Pretorius, terugvoer gegee oor die afgelope jaar se bedrywighede. Bergcare is ‘n nie-winsgewende organisasie wat in 2013 gestig is om te help voorsien in die maatskaplike behoeftes in Louis Trichardt en die onmiddellike omgewing. Dit funksioneer as ‘n sambreelorganisasie en is nie verbonde aan ‘n spesifieke kerkgroep of kulturele organisasie nie.

Een van Bergcare se ankerprojekte is die twee-weeklikse deernispakkies wat aan behoeftige families en individue uitgedeel word. Elke geval word eers geassesseer deur ‘n maatskaplike werker, om die nood te bepaal. Die proses word ook geadministreer deur bekwame personeel wat werk vanaf kantore by die NG Kerk Moedergemeente. Bergcare ontvang geen staatsubsidies nie en maak in geheel staat op skenkings wat vanuit die gemeenskap kom.

In ds. Pretorius se verslag meld hy dat teen die einde van November deernispakkies aan 12 gesinne uitgedeel is, wat nege kinders insluit. Saam met die 56 bejaardes wat pakkies ontvang, ontvang 168 individue elke twee weke dié hulp. Die deernispakkies word deur vrywilligers opgemaak en versprei.

Die afgelope jaar moes Bergcare egter ook inspring om te help met die nood wat onder meer deur die Covid-19 inperkings veroorsaak is. “Grendeltyd” kospakkies is ook weekliks uitgedeel aan gesinne wat dit nodig gehad het. Hierdie kospakkies is saamgestel uit skenkings van onder meer groot supermarkte en boere. “Vanaf April 2020 is 4 059 grendeltyd kospakkies uitgedeel,” het ds. Pretorius in sy verslag gesê. Hy het egter bygevoeg dat die situasie baie verbeter het en dat die grendeltyd pakkies teen middel Desember gestaak sal word.

Een van Bergcare se ander projekte is die Huis van Genade. Hierdie fasiliteit dien as oorbruggingsverblyf vir individue of gesinne wat tydelik in nood verkeer. Tans woon sewe mense in die huis, wat twee kinders insluit. Persone in nood gaan deur ‘n keuringsproses en kan teen minimale huur vir ‘n maksimum tydperk van drie maande daar bly.

Bergcare bedryf ook die liefdadigheidswinkel (Charity Shop), wat funksioneer vanuit ‘n winkel op die kerk se perseel in Burgerstraat. Inwoners word uitgenooi om gebruikte goedere of klere aan die winkel te skenk, wat dan weer verkoop word om Bergcare se fondse aan te vul. In verdienstelike gevalle word klere ook aan behoeftiges geskenk.

In sy verslag het ds. Pretorius ook van die ander projekte uitgelig wat die afgelope jaar aangepak is. Een hiervan is die toebroodjieprojek by Laerskool Louis Trichardt. “Hierdie projek bereik 53 behoeftige kinders en vind een keer per kwartaal plaas,” het hy gesê.

Om fondse in te samel het Bergcare ‘n herwiningsprojek, wat veral deur die omgewing se boere goed ondersteun word. Vanjaar is ook ‘n plakkerprojek geloods. Die plakkers kan teen R20 stuk aangekoop word. Sou iemand dus aanklop vir voedselhulp, kan ‘n plakker gegee word, wat geruil kan word vir ‘n ete by Bergcare.

Met die uitdeel van die laaste deernisbokse vir die jaar word kerspakkies ook oorhandig. Die kerspakkies bevat lekkergoed en geskenkies vir onder meer die bejaardes.

Tydens Maandagaand se vergadering is verslag gedoen oor die finansiële stand van Bergcare. Die jaarlikse oudit is gedoen deur NHC Geoktrooieerde Rekenmeesters. Ten spyte van moeilike ekonomiese omstandighede het Bergcare daarin kon slaag om met ‘n klein surplus te eindig.

Ds. Jan Pretorius is herverkies tot voorsitter van Bergcare se direksie.

 

News - Date: 11 December 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: