ADVERTISEMENT:

 

Die welbekende prof Koos van Rooy en sy vrou Regina het op 15 Desember hulle 65ste huweliksherdenking gevier. Foto verskaf.

Prof Koos en tannie Regina vier 65 goeie jare saam

 

Min egpare het die voorreg om ‘n 65ste huweliksherdenking te vier. Die beminde egpaar Koos (89) en Regina (88) van Rooy is op 15 Desember 1956 getroud. Hulle het mekaar reeds as kinders geken, omdat albei op Ventersburg gebore is. Regina se ouers het daar geboer en Koos se pa Jacs was predikant in die Gereformeerde Kerk in Ventersburg.

Dogter Elsje Linde vertel: “Toe my ma gebore is, het sy slegs 1,2 kg geweeg en die dokter het aan haar ma gesê dat sy nie sal lewe nie. Koos se ma, wat pastoriemoeder was, het kom help met die klein babatjie en met ‘n druppertjie melk in haar mondjie gedrup. Só het sy my ma se lewe gered, min wetende dat haar seun later met dié dogtertjie sou trou. My pa se moeder is in 1941 oorlede toe hy maar nege jaar oud was en nie lank daarna nie het ds. Jacs van Rooy ‘n beroep na Pietersburg aanvaar. Hulle het egter deur die jare bande met die mense van Ventersburg behou.”

Elsje vervolg dat, jare later, toe Koos op universiteit was, hy vriende op Ventersburg gaan besoek het en weer vir Regina raakgeloop het. Die pragtige jong meisie wat so tuis was op ‘n perd se rug het hom dadelik beïndruk, en aan die einde van sy finale jaar in teologie is hulle getroud en het hulle het as sendelingpaar in die destydse Venda begin werk. Hulle het hulle op Siloam-hospitaal gevestig, waar al vier hulle kinders gebore is.

Koos het aanvanklik as sendeling onder die Vendas gewerk en later as Bybelvertaler die Bybel in Venda vertaal en nóg later as professor aan Hammanskraal Teologiese Skool en die destydse PU vir CHO gedoseer. Ná sy ”aftrede” op 65 was hy egter steeds betrokke by ongeveer 14 Bybelvertalingsprojekte en hy het daarmee voortgegaan tot op 85-jarige leeftyd.

Regina was altyd reg om hom te ondersteun en te volg in elke nuwe roeping. In 1974 het hulle met hulle vier kinders vir ses maande in onder meer Israel gaan bly, sodat Koos moderne Hebreeus kon leer. Hulle het in 2008 vir ‘n jaar in Ethiopië gaan bly om daar te help met Bybelvertalingsprojekte en ook later vir ‘n jaar in Pinetown om aan die nuwe Zoeloevertaling te werk.

Koos en Regina se lewe het ‘n Nederlandse skrywer, Jan Klijn, so aangegryp dat hy ʼn boek oor hulle geskryf het, De bergen zullen vrede dragen.

Hulle woon sedert 1976 op hulle plasie in die berg en geniet nog goeie gesondheid. Koos en Regina het juis daar in 1976 begin met proteaboerdery en was baanbrekers op dié gebied in die Soutpansberg, waar proteaboerdery ‘n redelike groot bedryf geword het toe verskeie bure ook daarmee begin het.

Regina het op hulle 65ste huweliksherdenking vir Koos bedank dat hy haar, ”as ‘n boeremeisie van die vaal Vrystaatse vlaktes na ‘n lewe vol avonture gelei het!”

 

News - Date: 24 December 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: