ADVERTISEMENT:

 

Die sesde mees gelese artikel het ook gehandel oor ‘n skietery, maar dié keer deur die polisie en ‘n groep vermeende rowers in Louis Trichardt. ‘n Verdagte is doodgeskiet met die Onafhanklike Polisie-ondersoek Direktoraat (OPOD) wat aangedui het dat hulle die voorval gaan ondersoek.

'n Jaar van uiterste hartseer vir Soutpansberg

 

In hierdie laaste uitgawe van die Zoutpansberger vir 2021 kyk ons terug na die 10 mees gelese artikels die afgelope jaar op die Zoutpansberger se webblad.

Heel bo-aan die lys van mees gelese artikels was die skoknuus van die ontvoering van bekende plaaslike sakeman Shyam Premjee op 9 April vanjaar. Die 36-jarige Premjee was op pad werk toe die oggend toe sy motor deur sy ontvoerders voorgekeer is. Sy voertuig sou later in ‘n stuk veld nie ver vanwaar hy ontvoer is nie gevind word. Vir bykans ses weke het inwoners saam met sy familie gebid vir Premjee se veilige terugkeer – gebede wat einde Mei verhoor is toe nuus ontvang is dat hy veilig met sy familie herenig is. Sy familie het versoek dat hulle privaatheid gerespekteer word en tot op hede is geen addisionele inligting oor sy aanhouding en die voorwaardes van sy vrylating bekend nie.

Die tweede mees gelese artikel was oor die welbekende Manny de Sousa (52) wat op 22 Januarie vanjaar oorlede is nadat hy deur ‘n Swart Mamba gepik is. Die buitengewone oorsaak van sy dood het vir baie as ‘n groot skok gekom. Kort ná sy dood het ‘n huldeblyk oor die lewe van hierdie plaaslike sakeman en liefdevolle pa en vriend in die Zoutpansberger verskyn wat ongekende belangstelling ontlok het en wyd en syd gelees is.

Nog ‘n storie wat mense se tonge behoorlik aan die gons gehad het, was oor die groep jongmense van Louis Trichardt wat op ‘n string kriminele klagte gearresteer is in April vanjaar. Uiteindelik sou sewe jongmense gearresteer word. Hulle was die 27-jarige Richard Petrus Jacobus (Koos) Duvenhage, die 25-jarige Neil Duvenhage, die 30-jarige Zandroux Hibbert, die 29-jarige Christine Labuschagne, die 20-jarige Marvelique van der Merwe, die 26-jarige Wonder Jere en die 36-jarige Francois Vermeulen. Kort ná die aanvanklike arrestasies het een van die jongmense se ma haar lot bekla in die Zoutpansberger. Sy het vertel hoe haar seun in ‘n web van dwelmmisbruik vasgevang geraak het, net soos van die ander jongmense wat gearresteer is. Volgens haar pleeg hulle misdaad, soos diefstal, om hulle dwelmverslawing te finansier. Die klagte teen die ses het ingesluit die onwettige besit van ‘n vuurwapen, huisbraak, veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. In September is die klag teen Van der Merwe tydelik van die hofrol geskrap om die polisie kans te gee om hulle ondersoek af te handel en omdat die uitslag van die ballistiese toetse wat gedoen is op die vuurwapen wat in haar besit gevind is nog nie bekend is nie. Die klagte teen die twee Duvenhages, Vermeulen, Hibbert, Labuschagne, en Jere is in Oktober voorlopig teruggetrek, nadat die hof geweier het om verdere uitstel te gee vir die polisie om hulle ondersoek af te handel. Wanneer die polisieondersoek afgehandel is, sal die saak weer na ‘n Staatsaanklaer verwys word.

In die vierde plek was die aanvanklike artikel oor die moord op die 80-jarige Marthie Pauer in September in haar huis in Forestrystraat, Louis Trichardt. Pauer is in ‘n plas bloed met diep snywonde deur ‘n vriend van die familie gevind, nadat haar seun haar nie op haar selfoon in die hande kon kry nie. Twee dae nadat Pauer se liggaam gevind is, het die polisie ‘n 27-jarige Zimbabwiese man, Trevor Gumbo, in Musina vir die gru-daad gearresteer, nadat hy probeer het om Pauer se bakkie, wat hy gesteel het, te smous. Gumbo is ‘n voormalige werknemer van Pauer wat deur die familie afgedank is nadat hulle hom op die familieplaas gevang steel het.

Misdaad bly maar die topverkoper van nuus te wees, soos ook duidelik gesien kan word in die vyfde mees gelese artikel vir 2021. Dié keer het dit gehandel oor die geldwa wat op 21 Mei vanjaar op die N1-noord naby die Waterpoort-afdraai deur transitorowers voorgekeer en opgeblaas is. Mede-padgebruikers moes egter kort voor dit ‘n wilde oor-en-weer skietery tussen die rowers en die sekuriteitsbeamptes probeer oorleef.

Die sesde mees gelese artikel het ook gehandel oor ‘n skietery, maar dié keer deur die polisie en ‘n groep vermeende rowers in Louis Trichardt. Die skietery op 30 Mei vanjaar skuins oorkant Bridge Motors en die bekende Fire Fly-kafee het ook baie vrae laat ontstaan. Die polisie het blykbaar op ‘n wenk gereageer dat ‘n groep mans in ‘n motor moontlik ‘n gewapende roof beplan. Die voertuig is voorgekeer, waarna die polisie op die mans in die voertuig geskiet het. In die proses is een van die mans wat in die voertuig was, doodgeskiet. Die polisie het ná die voorval geweier om kommentaar te lewer oor die gebeure en alle navrae verwys na die Onafhanklike Polisie-ondersoek Direktoraat (OPOD). OPOD het op hulle beurt bloot gesê dat hulle die voorval ondersoek.

Nog ‘n voorval wat die tonge laat gons het, was die artikel oor die Gripen-vegvliegtuig wat blykbaar “afgeskryf” is nadat dit in ‘n ongeluk op die grond betrokke was op Lugmagbasis Makhado. Aanvanklik wou die Suid-Afrikaanse Lugmag niks sê oor die ongeluk nie, maar ná amper ses weke se aanhoudende navrae van die Zoutpansberger het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se woordvoerder, brigadier-generaal Mafi Mgobozi, uiteindelik bevestig dat ‘n Gripen-vegvliegtuig beskadig is nadat ‘n kabel wat die vliegtuig op ‘n enjintoetsbank vasgehou het, losgekom het op 8 April. Die vliegtuig het losgebreek en blykbaar die bosse ingejaag. Mgobosi wou nie sê wat die omvang van die skade was nie, want volgens hom sou dit die lugmag se “operasionele gereedheid beïnvloed”. Hy het wel bevestig dat ‘n ondersoek na die voorval geloods is. Bogenoemde was die sewende mees gelese artikel vir 2021.

Wat die agtste mees gelese artikel betref, het dit te doen gehad met ‘n onderwerp wat almal van ons die laaste twee jaar op een of ander manier beïnvloed het – die gevreesde Covid-19 virus. Meer spesifiek het dit gehandel oor welbekende jong boer Muller Vermaas (47) wat op 12 Julie sy stryd teen die virus verloor het. Vir sy familie en vriende was dit ‘n wrede herinnering aan hoe ongenadiglik die virus vriende en familielede die afgelope jaar geëis het as deel van die derde vlaag.

Die negende mees gelese artikel het ook gehandel oor ‘n jong boer van die Soutpansberg wat te vroeg deur die dood vanaf sy familie en vriende weggeneem is. Die 29-jarige Hardus Linde is op 6 Februarie op slag dood in motorongeluk op die N1 naby Bandelierkop. Om te boer was van kleintyd af deel van Hardus se lewe gewees. Hy het grootgeword op Dendron, waar sy ouers met aartappels geboer het en hy sou later sy skoolloopbaan by die CVO-skool op Vivo voltooi. Hy en sy vrou Bianca het die afgelope vier jaar net buite Louis Trichardt geboer waar hulle grond gehuur het op die Rondebosch-plotte. Hy was ook gereken as een van die streek se beste professionele jagters.

‘n Motorongeluk was ook die oorsaak van die tiende mees gelese artikel, dié keer oor die dood van bekende sake-egpaar Anthony Scott (68) en sy vrou Norma (65) van Louis Trichardt. Hierdie baie beminde egpaar is vroeg die oggend van 25 Januarie oorlede nadat hulle in ‘n tromp-op botsing op pad na Groblersdal/Middelburg betrokke was. Drie van die vier insittendes in die aankomende voertuig is ook dood. Twee van Anthony en Norma se werknemers wat saam met hulle in die voertuig was, Pheneul Dongola en Desmond Ndibuho Likavha, het die ongeluk oorleef.  

Wat betref 'n algehele oorsig oor die jaar se nuusgebeure was dit beslis 'n jaar van hartseer vir die Soutpansberg en sy mense - 'n jaar van verlies vir baie, veral sterftes vanweë Covid-19 komplikasies te midde van die derde vlaag. Gedurende dié tydperk het die Zoutpansberger vir etlike weke lank telkens verskeie doodsberigte gedra oor ‘n inwoner wat sy of haar stryd teen die virus verloor het. Van die koerant se kant af wens ons elke familie wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan sterkte toe oor die Kersseisoen.

 

News - Date: 24 December 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: