ADVERTISEMENT:

 

Die voorblad van amateur wetenskaplikes Tuba en Retha van der Walt se nuutste veldgids, 50 Grasse van die Limpopo-vallei. Foto verskaf.

Egpaar publiseer derde veldgids oor Limpopo-vallei plantegroei

 

Tuba en Retha van der Walt se liefde vir die natuur het onlangs gelei tot die publikasie van hul derde veldgids oor die Limpopo-vallei se plantegroei. Hul boek 50 Grasses of the Limpopo Valley / 50 Grasse van die Limpopo-vallei is sedert middel Desember beskikbaar met die doel om grondeienaars in die Limpopo-vallei in staat te stel om met die eerste oogopslag 50 van die mees algemene grasspesies in die area te identifiseer.

Plaaslik het hierdie bekende amateur wetenskaplikes van die plaas Ludwigslust wes van Musina min bekendstelling nodig. Hulle jongste veldgids is voorafgegaan deur die publikasie van Fungi and Lichens of the Limpopo Valley begin verlede jaar ná bykans tien jaar van navorsing. In 2009 het Retha die veldgids Wild Flowers of the Limpopo Valley uitgebring.

Wat hul jongste publikasie betref, sê die egpaar dat die voorkoms van elke grasspesie op ‘n plaas of reservaat dien as aanduiding vir die eienaar van wat besig is om met die grond te gebeur. Om grasspesies te identifiseer is dus belangrik. “Grasgemeenskappe is dinamies en gedurig besig om te verander namate eksterne invloede soos erosie, droogte en brande daarop inwerk. Die natuurlike balans op die meeste plase agter die Soutpansberg is oor die laaste aantal dekades ook versteur deur oorbeweiding, ontbossing, onoordeelkundige belading en die opdeel van plase in kleiner, onproduktiewe eenhede,” lees die inleiding tot die boek.

Volgens Tuba en Retha neig plantgemeenskappe (insluitend gras) voortdurend na ‘n staat van ewewig - ‘n langdurige proses wat as suksessie bekend staan en waargeneem kan word in die spesiesamestelling van ‘n ekologiese gemeenskap. Suksessie bestaan uit drie opeenvolgende stadiums, naamlik die pionierfase, die sub-klimaksfase en die klimaksfase. Elke stadium word gekenmerk deur die aanwesigheid van bepaalde plantspesies. Die klimaksstadium dui op die mees stabiele toestand.

Ekologiese suksessie kom voor omdat elke spesie vasgestelde omgewingstoestande het waarby dit optimaal groei en vermeerder. Grasspesies kan daarvolgens basies geklassifiseer word as afnemers of toenemers. Afnemers is gewoonlik smaaklike meerjarige klimaksgrasse met ‘n hoë weidingswaarde wat in veld voorkom wat in ‘n goeie toestand verkeer, maar wat verminder of heeltemal verdwyn wanneer negatiewe impakte daarop inwerk. Toenemer-spesies daarteenoor floreer in veld wat erg oorbewei en versteur is. Hierdie grasse is gewoonlik onsmaaklike eenjarige pioniers, juis met die doel om verdere beweiding en agteruitgang te probeer verhoed.  Hoewel laasgenoemde grasse van min waarde is as weiding, stabiliseer dit beskadigde grond, help dit reënwater penetreer, bekamp dit erosie en verskaf dit skadu vir ontkieming van die sub-klimaks spesies.

“Daar word beraam dat meer as 70% van die grasbedekking op plase in die Limpopo-vallei tans uit pioniersgrasse bestaan. Goeie veldbestuur is die grondeienaar se belangrikste hulpmiddel om die opeenvolgingsproses tydens suksessie te verseker. Uitgetrapte of versteurde gronde, waar daar steeds genoegsame saad van gewenste spesies beskikbaar is, kan daardeur herwin word. Verder kan dit ook daartoe lei dat veld so benut word dat dit die minste nadelige invloed op die klimaksbedekking uitoefen, terwyl dit steeds genoegsame voer aan diere voorsien,” sê die egpaar.

Volgens Tuba en Retha is nie net kennis rakende wild en vee se voedingsbehoeftes (met ander woorde grasvreters of blaarvreters, selektiewe beweiders of ruvoervreters) van belang nie, maar ook kennis van die verskillende grasspesies wat in ’n area voorkom, die plante se vereistes en hoe dit op beweiding en rus, asook op enige wanpraktyke reageer. “Die ou gesegde dat jy eers met gras moet boer voordat jy ’n wild- of beesboer kan wees, blyk dus waar te wees,” sê die egpaar.

Wat die veldgids self betref, word die identifikasie van grasspesies vergemaklik deur lewensgetroue afbeeldings en basiese beskrywings. Grasse wat met mekaar verwar kan word, is saam groepeer. ‘n Volledige beskrywing vir elke spesie word egter nie gegee nie. Slegs enkele kenmerkende eienskappe word uitgelig, asook die ekologiese waarde van die betrokke spesie.

50 Grasse van die Limpopo-vallei is beskikbaar by Leach Printers op Louis Trichardt teen R165 per kopie. Die boek kan ook bestel word by WhatsApp-nommer 078 536 6478, tel. 079 209 6233 of via e-pos by [email protected]. Die veldgids Fungi and Lichens of the Limpopo Valley is ook nog beskikbaar by Leach Printers teen R380 elk.

 

News - Date: 13 January 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: