ADVERTISEMENT:

 

Beeldmateriaal op die depot se sekuriteitskameras wys hoe een van die gewapende rowers met die 43-jarige mnr. Andrew Goosen stap, kort voordat hy drie keer geskiet is. Wonderbaarlik het Goosen die skote oorleef en is sy toestand Dinsdag beskryf as buite gevaar.

Tonge klap oor diesel-roof

 

Die polisie in Limpopo het ‘n spesiale taakspan aangestel om die waaghalsige gewapende roof by ‘n bekende dieseldepot in Louis Trichardt, Alliance Fuel, die afgelope naweek te ondersoek. ‘n Vragmotorbestuurder is tydens die voorval byna noodlottig gewond, met die rowers wat met sowat R5,5 miljoen se diesel weggekom het.

Die tonge het die afgelope week behoorlik geklap oor die voorval. Volgens die polisie het ‘n ongemerkte dieseltenkwa, ‘n Mercedes-Benz Actros, Saterdag omstreeks 19:00 by die depot opgedaag onder die voorwendsel dat die bestuurder daarvan wou diesel ingooi.

Die depotbestuurder het die hek met sy afstandbeheer oopgemaak, waarna ‘n groep mans skielik uit die vragmotor gespring het. Hulle was gewapen met ‘n pistool en aanvalsgeweer.

Die depotbestuurder is oorrompel, van sy selfoon beroof asook R6 000 in kontant. Die rowers het daarna saam met hom die perseel deurgegaan op soek na ander personeellede, waarna hy in ‘n kamer toegesluit is. Vier ander personeellede is in aparte kamers toegesluit. Almal van hulle is met kabelstroppe vasgebind.

Die rowers het die afstandbeheer gebruik om die hek na die depot oop te maak. Die personeellede kon hoor hoe vragmotors in en uit die perseel ry. Hulle het ook drie skote gehoor. Later sou aan die lig kom dat een van die depot se vragmotorbestuurders, mnr. Andrew Goosen (43), drie keer deur die rowers geskiet is.

Volgens die polisie het die roof tot ongeveer 04:00 Sondag voortgeduur. Die personeellede kon daarna daarin slaag om hulself te bevry, en kort daarna het hulle die swaar gewonde Goosen in sy vragmotor gevind. Hulp is dadelik ontbied.

Beeldmateriaal van die roof is op die depot se sekuriteitskameras vasgevang. Dit wys hoe verskeie ongemerkte tenkwaens die depot binnekom en hulle tenke vol diesel tap.

Die depotbestuurder kon kort voor hy toegesluit is daarin slaag om ‘n gedeeltelike registrasienommer van die Mercedes-Benz Actros te kry. Die voorlopige polisieondersoek het egter gevind dat die registrasienommer dié van ‘n Volvo-sedan van Gauteng is.

Sover vasgestel kon word, is die gewonde mnr. Goosen blykbaar eers na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal geneem. Hy is egter later na die ongevalle eenheid by die Zoutpansberg Privaathospitaal oorgeplaas, waarna hy opgeneem is in die Netcare Pholoso hospitaal in Polokwane. 'n Nie-amptelik bron het sy toestand Dinsdag as “buite gevaar” beskryf.

Provinsiale polisiekommissaris luitenant-generaal Thembi Hadebe het die taakspan opdrag gegee om so gou as moontlike die skuldiges op te spoor en aan die pen te laat ry. Enige iemand met inligting oor die rooftog word versoek om met luitenant-kolonel Richard Boshomane te skakel by tel. 079 894 5501. Alternatiewelik kan hulle die polisie se tolvrye nommer skakel by 08600 10111 of die inligting deurgee by hulle naaste polisiestasie.

Die bestuur van Alliance Fuel het nie gereageer op versoeke om kommentaar te lewer oor die rooftog nie.

 

News - Date: 13 May 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: