ADVERTISEMENT:

 

Schoemansdal OOS se slagspreuk is: Ervaringsleer is lewenslange leer / Experience learning is lifelong learning. Sal hierdie uitsonderlike ervaring in die toekoms steeds vir skoliere beskikbaar wees?

Kommer oor toekoms van Schoemansdal 'veldskool'

 

Die twee raakvatters aan stuur van sake by die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum (Schoemansdal OOS), David Pretorius en Carel Kilian, tree albei binne die volgende jaar af. “Wat gaan dan van hierdie spog-opvoedingsentrum word?” is die vraag wat inwoners van die omgewing reeds begin vra. Albei is fasiliteerders en David tree ook op as toesighouer.

Menige skolier het al kennis gemaak met hierdie opvoedingsentrum wat spog met ‘n ryk geskiedenis en voortreflike resultate. Skoolgroepe kan kies en keur van ‘n “spyskaart” wat onder meer die volgende insluit: omgewingsopvoeding, leier-identifisering en –ontwikkeling, avontuurbelewing, sosiale kohesie, spanbou en motivering. “Hierdie is ons direkte opdrag van die Hoof van die Limpopo Departement van Onderwys – onder wie ons in totaliteit funksioneer,” sê David.

David vervolg dat skole ‘n spesifieke behoefte het en hulle dan kom besoek vir ‘n tydperk van slegs ‘n dag tot en met vier nagte. “Waar ons hooffokus vanaf 1993 veral op omgewingsopvoeding was, het dit  geleidelik oor die jare as gevolg van skole se veranderde behoeftes verander. Ons fokus nou hoofsaaklik op avontuur, leierontwikkeling en spanbou,” noem David. 

Behalwe vir die verwysing in Voortrekkerleier Louis Trichardt se dagboek na die eerste skooltjie (1838) in die omgewing van die hedendaagse vliegveld, weet ons dat die Voortrekkerdorp, Schoemansdal, ook ‘n skool gehad het. Sedert die ontstaan van die dorp Louis Trichardt in 1898, het ‘n aantal skole hulle deure oopgemaak.

Die eerste skooltjie op die huidige Schoemansdal OOS se terrein is in 1912 begin en het bekend gestaan as “Happy Rest Plaasskool”. Dit het tot 1952 bestaan, waarna ‘n spesiale skool in 1954 daar begin is. Agt jaar later is hierdie spesiale skool na Nylstsroom verskuif en het dit van toe af bekend gestaan as die Susan Strijdom Spesiale Skool.

In 1962 is ‘n “Kinderwetskool” deur die Nasionale Departement van Onderwys op die terrein begin, wat ná 12 jaar na Natal verskuif is. Gedurende 1972-1973 is die pad tussen Louis Trichardt en Vivo gebou. Dit het ook geleentheid gebied om ‘n behoorlike ingang na die skool aan te bring.  In November 1974 is ‘n “Kliniekskool” tot stand gebring, maar is in Desember 1975 na Potgietersrus verskuif.

Die idee om veldskole te begin het reeds in 1974 posgevat. Die eerste veldskole was te Gravelotte en later te Westfalia. As gevolg van al die reën is dit gedurende 1976 na Schoemansdal verskuif. In 1993 is die naam “Veldskool” na “Omgewingsopvoedingsentrum” verander.

Carel vertel dat 1996 ‘n belangrike jaar was aangesien die voorheen-verpligte agt dae verander is na ‘n keuse van tussen een en vyf dae se bywoning. “In die tydperk 1997 tot 2001 was bywoning nie meer verpligtend vir skole nie,” voeg Carel by. Hy noem ook dat ‘n voortdurende stryd gewoed het om die sentrum onder die korrekte strukture te laat inpas.

“Personeel word deur die Departement [Onderwys] aangestel. Daar was in 1994 agt opvoeders. Sedert 1994 is daar geen nuwe aanstelling gemaak nie. Soos personeel die diens verlaat het, is die poste nie weer gevul nie – finansiële redes is telkens aangevoer. Tans is dit net ek en Carel wat die skip stuur. Ek tree in Desember 2022 af en Carel in Mei 2023,” sê ‘n bekommerde David. “Wat die toekoms van Schoemansdal OOS betref, is ons net so in die duister soos enigiemand anders,” voeg hy by.

Schoemansdal OOS se slagspreuk is: Ervaringsleer is lewenslange leer / Experience learning is lifelong learning. Sal hierdie uitsonderlike ervaring in die toekoms steeds vir skoliere beskikbaar wees?

 

News - Date: 15 May 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: