ADVERTISEMENT:

 

Een van die drie diesel tenkwaens wat Vrydag, 13 Mei, by ‘n depot in Vanderbijlpark gevind is. Die tenkwaens was nog vol diesel, vermoedelik nog die diesel wat by Alliance Fuel op Louis Trichardt die vorige naweek gesteel is. Twee verdagtes is oor die rooftog aangekeer. Foto verskaf.

Twee in hof oor dieselroof, depoteienaar nog soek

 

Die twee verdagtes wat Vrydag, 13 Mei, aangekeer is in verband met die diefstal van sowat R5,5 miljoen se diesel by ‘n plaaslike diesel depot het Maandag in die hof op Louis Trichardt verskyn.

Die gewaagde diefstal het behoorlik die tonge laat klap. Omstreeks 19:00 die aand van 7 Mei het ‘n groep gewapende mans die Alliance Fuel diesel depot in Louis Trichardt se personeel oorval. Die personeel is in kamers vasgemaak en toegesluit. Nog ‘n personeellid, die 43-jarige mnr. Andrew Goosen, is byna noodlottig gewond nadat die mans hom drie keer geskiet het. Wonderbaarlik het hy die aanval oorleef.

Die gewapende mans het met verskeie ongemerkte diesel tenkwaens die perseel ingery en diesel getap tot ongeveer 04:00 Sondagoggend. Hulle het daarna gevlug. Die personeel kon daarin slaag om hulself te bevry, waarna hulp ontbied is. Mediese hulp kon ook aan Goosen verleen word.

Die polisie het egter Vrydag, 13 Mei, ‘n deurbraak gemaak toe hulle gedurende die vroeë oggendure (01:00) op ‘n diesel depot in Vanderbijlpark (Gauteng) toegeslaan het. Knap speurwerk het hulle na dié depot gelei.

Met die polisie se aankoms by die depot het twee mans in hulle Toyota bakkie gespring en weggejaag. Dit het ‘n hoëspoed jaagtog en wilde skietery tussen die verdagtes en die polisie tot gevolg gehad. Die verdagtes kon van die pad gedwing word, waarna een gearresteer is. Die tweede verdagte kon egter daarin slaag om te voet te ontsnap.

By nadere ondersoek is drie ongemerkte diesel tenkwaens op die depotperseel gevind, nog vol diesel - vermoedelik die diesel wat by Alliance Fuel gesteel is. ‘n Vierde dieseltenkwa is omstreek 08:30 dieselfde oggend by die Lebombo grenspos met Mosambiek voorgekeer, waar die tweede verdagte aangekeer is.

Die twee verdagtes, Rokofo Ismael Ramafikeng en Sentsho David Ralinki, het Maandag in die hof op Louis Trichardt verskyn op klagte van onder meer roof met verswarende omstandighede en poging tot moord. Hul saak is uitgestel tot 24 Mei vanjaar vir verdere polisieondersoek en borg. Hulle sal in aanhouding bly tot dan.

Intussen is die polisie steeds op soek na die eienaar van die depot in Vanderbijlpark, ene mnr. William Macholo. Die polisie het gevra dat Macholo sal aanmeld by die naaste polisiestasie, aangesien hy hulle moontlik sal kan help met hulle ondersoek.

Die soektog na die oorblywende verdagtes duur ook steeds voort. Wat dit betref het die polisie gevra dat enig iemand met inligting hieroor vir luitenant-kolonel Richard Boshomane sal skakel by tel. 079 894 5501 of die polisie se tolvrye nommer by 08600 10111.

 

News - Date: 19 May 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: