ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Poen de Bruin (81). Foto verskaf.

Oom Poen (81) oorlede

 

Familie en vriende het Maandagmiddag, 30 Mei, met hartseer verneem van die dood van die 81-jarige oom Koos de Bruin van Louis Trichardt, oftewel oom Poen, soos meeste mense hom aan sy rugbybynaam geken het.

Oom Poen se eggenote, tannie Kittie, en dogter Catò het Dinsdag gesê dat oom Poen op Sondag, 10 April, ‘n beroerte gehad het. Die beroerte het almal onverwags betrap. “Hy het nog ‘n heerlike rolbal-parekompetisie die Saterdag gehad. Met ‘n punt het hy en Marietjie Barkhuizen dit gemis om in die finaal te speel. Dit was vir hom ‘n verskriklike hoogtepunt, want die rolbal was maar sy lewe toe hy oud begin word het,” onthou Kittie.

Oom Poen is ná sy beroerte opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal en vandaar oorgeplaas na die Medikliniek in Polokwane. Ná sowat ‘n week is hy weer terug verplaas na die Zoutpansberg Privaathospitaal, waar hy nog ‘n week gelê het. Hy is toe opgeneem in die siekeboeg by Ons Tuiste Ouetehuis, waar tannie Kittie al etlike dekades optree as bestuurder.

Op 21 April is oom Poen weer in die privaathospitaal in Louis Trichardt opgeneem weens bloeding. “Sy toestand het egter bly verswak,” sê Catò. As familie is hulle dankbaar dat hulle by oom Poen kon wees tot en met sy dood. “Hy het swaar gepraat, maar tot en met Maandag was hy nog ten volle bewus van wat om hom aangaan,” sê Catò.

Oom Poen was jare lank werksaam by die munisipale werkswinkel op Louis Trichardt. In 1995, op 55-jarige ouderdom, het oom Poen vroeë pensioen gevat ná 30 jaar se diens by die stadsraad. Daarna was hy vir sowat 14 jaar werksaam by Bolt & Nut op die dorp.

“Iets wat hy altyd baie trots was om te vertel, is dat sy pa [wyle oom Ben de Bruin] deel was van die span wat die Hendrik Verwoerd Tonnels gebou het en hy het sy pa gehelp met sweiswerk … Oupa Ben se plaas was daar by die tonnels en dit is waar hy groot geword het. Self nou, as ons vir die kinders gaan kuier het en ons ry deur die tonnels, sou hy vir my sê: ‘Onthou jy? Ek het my pa met die tonnels gehelp’,” onthou Catò.

Oom Poen was 'n baie stil mens gewees. “Hy was nie ‘n lawaaierige soort nie,” sê tannie Kittie. Sy en oom Poen was 38 jaar getroud gewees.

Oom Poen mag dalk stil gewees het, maar hy het beslis sy sport geniet. “Hy was ‘n kranige rolbalspeler. In sy jonger dae het hy baie goeie rugby gespeel, en ook tennis. Hy was eintlik ‘n goeie ‘all-rounder’. Hy was ook baie lief vir sy kleinkinders en agterkleinkinders,” sê Catò.

‘n Troosdiens vir wyle oom Poen word Saterdag, 4 Junie, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Kittie, seun Kobus, dogters Catò en Hannie (en skoonseun Fanie Mynhardt), kleinkinders Lenise (en haar man Muller Taylor) en Jaco de Bruin, agterkleinkinders Johanko, Lehan, SJ en Marne en broer Steven de Bruin en susters Joan Vorster, Lia Holtzhausen en Louisa Kruger.

Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, dr. Anton Stroebel vir sy deernis en die bestuur en personeel van Ons Tuiste.

 

News - Date: 03 June 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: