ADVERTISEMENT:

 

Lede van AfriForum se Musina-buurtwag met Duke en Hailey, wat gebruik gaan word om smokkelaars op plase aangrensend tot Zimbabwe uit te snuffel. Van links na regs staan Brendon Gaertz, Kobus Rossouw met Duke, Llewellyn Hemmens met Hailey en Du Toit Uys. Foto: AfriForum.

Binnelandse Sake brom oor AfriForum se 'grenswag' projek

 

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ‘n nuwe projek geloods om Suid-Afrika se grense te help beveilig, maar die Departement van Binnelandse Sake is nie te gelukkig oor die projek nie. 

AfriForum het in ‘n verklaring gesê die “Grenswag Inisiatief” is gestig ná die enorme ondersteuning wat die organisasie met die bekendstelling van die dokumentêre film “Open Borders” ontvang het. Die dokumentêr het uitgebeeld hoe swak die grensbeheer tussen Suid-Afrika en Zimbabwe toegepas word en tot watter uiterstes AfriForum se buurtwaglede en plaaswag-vrywilligers moet gaan om hulle gemeenskappe te beveilig.

Volgens AfriForum was die Grenswag Inisiatief se eerste aksie om twee snuffelhonde aan AfriForum se Musina-buurtwag te skenk. Albei die honde (Duke en Hailey) is opgelei om spoor te sny en Duke is spesifiek opgelei om vuurwapens en dwelms uit te snuffel.

Duke en Hailey gaan waardevolle magsvermenigvuldigers wees in die Musina-buurtwag se optrede om smokkelaars en hul smokkelware vas te trek. Die smokkelaars kom gereeld deur dig-bebosde gebiede oor die grens en die honde sal help om vinnig op hul spoor te kom. Duke sal ook gebruik word om wetstoepassers by te staan by padblokkades, omdat hy spesifiek opgelei is om vuurwapens en dwelms uit te snuffel,” het Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, gesê.

Volgens AfriForum sal die Grenswag Inisiatief verder daarop fokus om AfriForum se veiligheidstrukture in grensgebiede reg oor die land te versterk en te ondersteun. Verskeie individue en organisasies het reeds aangedui dat hulle graag toerusting sal wil borg vir die buurt- en plaaswagte in grensgebiede.

“AfriForum se Musina-buurtwag het tussen Junie en September verlede jaar gehelp om beslag te lê op gesmokkelde bates met ’n waarde van meer as R12 miljoen. Dit het ’n wesenlike impak op die onwettige bedrywighede en, volgens inligting wat ons ontvang het, het van die smokkelaars geheel en al tou opgegooi as gevolg van ons lede se aksies. Dít is ’n enorme sukses,” het Broodryk gesê. Tans het AfriForum 155 veiligheidstrukture landswyd en meer as 10 000 vrywilligers wat ‘n reuserol speel om hul gemeenskappe te beveilig.

In reaksie op AfriForum se Grenswag Inisiatief het die Departement van Binnelandse Sake op 20 Junie ‘n verklaring uitgereik waarin hulle “die lug wil suiwer” oor wat hulle bestempel as ‘n “wanpersepsie” wat weens AfriForum se projek ontstaan het wat betref die patrollering van die land se grense, veral langs die Limpoporivier.

“Die departement het bewus geword van ‘n video wat op sosiale media en ander nuusplatforms sirkuleer het wat beweer dat AfriForum beheer oorgeneem het van die verantwoordelikheid om die grenslyn te patrolleer,” lui die verklaring.

“Dit is blatant nie waar nie. Lede van AfriForum in Musina patrolleer hulle eie plase wat aangrensend [tot] die grenslyn is. Hulle patrolleer beslis nie die algemene grens buiten hulle plase nie. Sou hulle dit doen, sou dit onwettig wees,” het die departement gewaarsku.

Gewone landsburgers word egter toenemend onder druk geplaas om verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid te neem in ‘n land wat toenemend deur misdaad verswelg word. Tydens die loods van die vierde kwartaallikse misdaadstatistiek van die land vir 2021/22 op 3 Junie vanjaar, het polisie minister Bheki Cele in sy toespraak gesê dat die eerste drie maande van die jaar “gewelddadig, wreed en onveilig” was vir talle Suid-Afrikaners. In hierdie periode het moord nasionaal toegeneem met 22,2%, seksuele oortredings met 13,7%, poging tot moord met 24,8%, aanranding met die doel om ernstig te beseer met 18,1%, aanranding gewoon met 17,6%, gewone roof met 13% en roof met verswarende omstandighede met 6,5%.

So, waar los dit die gewone man op straat, veral diegene in woongebiede en plase op die noordgrens? Duisende Zimbabwiese burgers kruis maandeliks onwettig die noordgrens op soek na ‘n beter lewe, maar ongelukkig word hierdie tendens vergesel deur ‘n kriminele element. Volgens die aanlynpublikasie defenceWeb het die polisie en Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ‘n totaal van 1 574 onwettige Zimbabwiese immigrante vir Maart/April alleen vanjaar gearresteer.

Wat laasgenoemde betref het die Departement van Binnelandse Sake in hulle verklaring van 20 Junie gesê dat die land se statutêre wetstoepassingsinstansies (soos die weermag en polisie) steeds verantwoordelik is vir die patrollering van die land se grense en dat hierdie verantwoordelikheid nie aan die land se burgers of ‘n burgerregtegroep oorgegee is nie.

Wat grensveiligheid betref, het die departement ook in hulle verklaring verwys na die totstandkoming van die “Border Management Authority” (BMA) en dat die eerste groep “grenswagte” binnekort in probleemareas op die grenslyn ontplooi sal word. Hierdie BMA maak volgens die departement gebruik van wettige vennootskappe met rolspelers, wat insluit die weermag, polisie en gemeenskappe op die grens. Die departement het gesê hulle sal gemeenskappe op hoogte hou van vordering in hierdie verband.

 

News - Date: 24 June 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: