ADVERTISEMENT:

 

Die erg beskadigde Toyota Hilux bakkie van die minderjarige bestuurder in die voorgrond. Links staan die 52-jarige Christo Odendaal se Nissan Navara bakkie. Die geweld van die impak was so erg dat een van die Navara se voorwiele afgeruk is. Foto’s verskaf.

Minderjarige agter stuurwiel tydens tromp-op botsing

 

Die tromp-op botsing in Rissikstraat wat op 31 Julie die Sondagoggend-rustigheid in Louis Trichardt versteur het, het oomblikke later tonge aan die gons gehad met beweringe dat die bestuurder wat verantwoordelik was vir die ongeluk minderjarig was en sonder ‘n bestuurslisensie bestuur het.

Die 52-jarige Christo Odendaal was om 09:30 op pad kerk toe en het vanaf die N1 in Rissikstraat afgedraai. Daardie oggend was hy gelukkig alleen in sy Nissan Navara.

Die volgende oomblik, het Odendaal Dinsdag in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê, het hy gesien hoe ‘n Toyota Hilux bakkie aan die verkeerde kant van die pad stroomop op hom afry. Met die besef dat die bakkie hom gaan tref, het Odendaal na die linkerbaan van die dubbelpad oorgegaan. Die aankomende Hilux het egter steeds na sy kant van die pad oorbeweeg en Odendaal het probeer om na regs uit te swaai. Die bestuurder van die Hilux het in daardie stadium blykbaar ook probeer om terug te swaai na sy baan en die twee bakkies het mekaar tromp-op getref voor Action Ford se ingang.

Beide bakkies se lugsakke het ontplooi. Die geweld van die impak was so erg dat die Navara se een voorwiel heeltemal afgeruk is, en die Hilux het met sy neus in die teenoorgestelde rigting tot stilstand gekom. Odendaal en die bestuurder van die ander voertuig was gelukkig om uit die wrakke te klim.

Tonge het egter begin gons toe op die toneel genoem is dat die bestuurder van die Hilux-bakkie minderjarig was en nie ‘n bestuurslisensie gehad het nie. Verdere vet op die vuur was toe die polisie met hulle aankoms op die toneel nie die minderjarige seun kon vind nie.

Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het by navraag gesê die polisie is met hul aankoms meegedeel dat die seun vanaf die toneel verwyder is. Derhalwe het hulle dadelik na al die hospitale gery om uit te vind wat van die seun geword het. “Ons was genoop om die bewering dat die seun minderjarig was en nie ‘n lisensie gehad het nie, dadelik te ondersoek,” het Radzilane gesê.

Geen teken van die seun kon by enige van die plaaslike hospitale gevind word nie. Hulle het toe na die ma van die seun, in wie se naam die Hilux geregistreer is, se huis gery. Daar aangekom, het Radzilane gesê, het die ma die polisie meegedeel dat haar seun met ‘n privaat ambulans na Polokwane geneem is vir mediese behandeling.

Radzilane het bevestig dat die seun wel minderjarig was, gebore op 12 Desember 2004. Sy het ook bevestig dat hy wel nie ‘n bestuurslisensie gehad het nie. Hiervoor is hy deur die plaaslike verkeersafdeling beboet. Radzilane het bygevoeg dat die ma ook beboet is, deur die polisie, omdat sy toegelaat het dat haar voertuig deur iemand bestuur word wat nie ‘n geldige bestuurslisensie het nie.

Tans is die presiese oorsaak van die ongeluk onderhewig aan ‘n polisie-ondersoek. Gelukkig vir Odendaal het hy darem versekering gehad. Of beide voertuie afgeskryf sal word, is nie seker nie.

 

News - Date: 05 August 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

Email:

ADVERTISEMENT: