ADVERTISEMENT:

 

Die wrak van die bakkie waarin die 34-jarige vrou was wat gesterf het. Foto verskaf.

Gelukkig om te leef ná noodlottige ongeluk

 

‘n Noodlottige ongeluk tussen twee bakkies op die Witvlag-pad het Maandagmiddag opnuut vrae laat ontstaan oor die oorsaak van die toenemende aantal ongelukke op die streek se paaie. Feitlik op ‘n daaglikse basis word ongelukke in en om Louis Trichardt gerapporteer en die vraag word gevra of die swak toestand van die streek se paaie te blameer is, of bloot swak bestuurders?

Die 37-jarige Willie Knoetze van Levubu ag homself gelukkig om te leef ná Maandag se ongeluk. Hy het Dinsdag met die Zoutpansberger gepraat oor sy nare ondervinding, wat hom met snye, skrape en kneuswonde gelos het. Een van die ander insittendes van die ander bakkie wat in die ongeluk betrokke was, was minder gelukkig.

Volgens Willie was hy en die 69-jarige oom Nico Bezuidenhout op pad terug na Louis Trichardt van ‘n plaas op die Rietbok-pad (Witvlag) waar hulle besig is om ‘n dam te bou. Agter op sy bakkie was die 45-jarige Patrick Mulaudzi, ‘n vragmotorbestuurder.

“Dit was ‘n lelike een gewees,” het Willie gesê. Hy vervolg: “Daar is so ‘n lelike, lang draai op ‘n blinde heuwel waar [die plaas] Sutton Crest se hekke is. Toe ons op die heuwel kom, toe is ‘n Toyota-bakkie besig om in my baan in te draai na daardie hekke toe. Ek weet nie of hy geskrik het vir my of nie, maar ek het outomaties na regs gegaan, anders sou ek hom op die kant geslaan het. Maar toe hy nou blykbaar skrik, swaai hy ook terug en toe stamp ons mekaar tromp-op,” het Willie gesê.

Willie sê daar was niks wat hy kon doen om die ongeluk te vermy nie. Sou hy weer teruggeswaai het, sou hy steeds die ander bakkie getref het. “Terwyl ek so regs gegaan het, het ek net die stuurwiel vasgeklou,” het Willie gesê.

Binne ‘n sekonde of twee was alles verby. “Al wat ek kan onthou, is dat ek gesien het die [ander] bakkie se neus is op my bakkie se linker neus. Ek het dadelik geweet … hier is nou groot moeilikheid! Daar was net ‘n helse slag met die impak. Die lugsakke het ook ontplooi en my en oom Nico hard getref. Skielik was alles onderstebo!” het Willie gesê.

Skaars het Willie se bakkie onderstebo te lande gekom, of die adrenalien het ingeskop. “Mens probeer net uitkom! Ons het eers ons gatte af gesukkel om by die bakkie uit te kom, want oom Nico het bo-op my geval. Soos wat ek hom probeer regop kry, skreeu iemand van buite af - ek weet nie wie dit was nie – ‘Die bakkie slaan aan die brand, jy moet roer!’” onthou Willie.

Hy kon egter geen van die deure oop kry nie. “Toe begin ek net wild te skop. Ek het die een deur so ’n bietjie oopgekry en kon uitkom. Toe het ek die deur verder oopgebreek, sodat oom Nico ook kon uitkom. Gelukkig was dit nie die bakkie wat begin brand het nie, dit was die stoom uit die verkoeler,” het Willie gesê.

Wonder-bo-wonder het Patrick ook nog geleef. Hy is van die bakkie geslinger en het in die pad te lande gekom. “Ek dink toe my bakkie twist, toe val hy af,” het Willie gesê. Vir hom was Maandag se botsing ekstra traumaties, want op 15 Augustus vanjaar is dit presies twee jaar dat hy sy bakkie op die Levubu-pad gerol het. “Hierdie laaste ongeluk vat aan my … mens voel jy wil dan eerder van die huis af werk,” het Willie gesê.

Ten spyte van swak selfoonontvangs op die berg kon omstanders die nooddienste ontbied. Vir Willie was die rit in die ambulans, blykbaar ‘n privaat ambulans, eweneens ‘n vreemde ervaring. “Ek en oom Nico het aan die spaarwiel agter in die ambulans vasgehou. Dadelik wou hulle ook hê jy moet R850 betaal as jy by die hospitaal stop. Ek het vir die ou gesê: ‘Luister hier! Ry net!’” het Willie gesê.

Buiten vir Willie se skrape en snye was hy oraait. Oom Nico het sy een arm tussen die elmboog en skouer gebreek. Hy is oorgeplaas na die MediKliniek in Tzaneen, waar sy arm Woensdag geopereer sou word. Patrick is opgeneem in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal met vermoedelik ‘n gekraakte pelvis.

Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het by navraag gesê die polisie ondersoek die ongeluk. Sy het bevestig dat drie persone in die ander bakkie was, waarvan twee beseer is en een, ‘n 34-jarige vrou, ongelukkig oorlede is. Die identiteit van die persone in die ander bakkie kon nie bevestig word nie.

 

News - Date: 12 August 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: