ADVERTISEMENT:

 

Die provinsiale uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in Limpopo het afskeid geneem van die volgende gewaardeerde raadslede. Van links na regs staan Sandra de Wet (Kring 1), Albert Swaters (uittredende voorsitter, Kring 1), Louis Linde (Kring 3), Willie Schoeman (Kring 2) en Ian Taljaard (Kring 1). Afwesig met die neem van die foto was Hennie Coetzee (Kring 1) en Vic Rijnen (Kring 3). Foto verskaf.

Skoolhoofde tree uit SAOU se provinsiale raad

 

Verlede Woensdag, 12 Junie, se vergadering van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se provinsiale uitvoerende raad (PUR) het met gemengde gevoelens gepaard gegaan.

Aan die een kant was die PUR-lede bevoorreg om dr. Louis Swanepoel, nasionale president van die SAOU, by hulle kwartaallikse vergadering by Hoërskool Pietersburg te verwelkom. Andersyds was hierdie PUR-vergadering die laaste vir etlike skoolhoofde wat binne die volgende twee jaar uit diens tree. Die hoofde en departementele amptenaar is geloof vir hulle absoluut onbaatsugtige en uitmuntende diens as PUR-lede.

Die PUR van die SAOU word elke drie jaar verkies en bestaan uit hoofsaaklik skoolhoofde en ander senior posbekleërs. Die volgende verkiesing vind in September 2019  in drie kringe in Limpopo plaas. SAOU-lede nomineer, sekondeer en verkies die kandidate van hulle keuse.  

Dr. Swanepoel het die absolute erns waarmee hierdie verkiesing benader moet word, beklemtoon. SAOU-lede word versoek om slegs kundige onderwysmense te verkies en kandidate moet aan verskeie vereistes voldoen, insluitend toegewydheid, lojaliteit, integriteit, waardegedrewenheid, sowel as visionêre denke, realisme en perspektief, ‘n ingesteldheid van vernuwing en bemagtiging en ‘n beelddraer van die professie.

“Veral die nuutverkose voorsitter moet in staat wees om op ‘n ander vlak as skoolhoof te kan funksioneer. Diensbaarheid en beskikbaarheid is van die allergrootste belang, terwyl sodanige kandidaat die besondere nuanses en ritmes van onderwys moet verstaan. Om op te som: nie die beste kandidaat nie, maar die regte kandidaat,” het Swanepoel in ‘n verklaring ná afloop van die vergadering gesê.

Intussen het die dagbestuur van die PUR daarin geslaag om ‘n tentatiewe afspraak met die nuutverkose LUR vir Onderwys in Limpopo, me. Paulina Boshielo, te maak. Hierdie ontmoeting behoort aan die begin van Julie 2019 te geskied. Dringende sake is steeds die publisering van vakaturelyste vir etlike bevorderingsposte, posvoorsieningskale wat skole betyds moet bereik, uitstaande koshuistoelae en die spoedige vul van ondersteunings-, ad hoc- en waarnemingsposte. “SAOU-lede kan gerus voel in die wete dat hulle vakbond nasionaal gerespekteer word en deurgaans alle lede se beste belang op die hart dra,” het Swanepoel gesê.

 

News in brief - Date: 23 June 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: