ADVERTISEMENT:

 

Die welbekende tannie Joan Buitendag het die Soutpansberg vaarwel toegeroep en haar op Swellendam in die Kaap hervestig. Foto verskaf.

Tannie Joan groet die Soutpansberg

 

“Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan.” So skryf die welbekende tannie Joan Buitendag in haar afskeidsbrief aan inwoners van die Soutpansberg.

“Maar hoe sê jy totsiens of tot ons weer sien aan vriende en inwoners van die Soutpansberg – my ondersteuningsnetwerk. Die wat my deur die jare bygestaan het, sodat dit vir my moontlik was om op King’s Kloof te oorleef en daar gelukkig was. Bevoorreg was ek!” skryf Joan.

Joan-hulle het 50 jaar gelede na die Bosveld verhuis. “Ek was ‘n 32-jarige vrou toe ons gesin ons kom vestig het op die plaas Feton [nou Norwich], ‘n area bekend vir sy malaria, slange en luiperds – dit was leeuwêreld,” vertel Joan. Dit nadat die familie hul vervoermaatskappy in Randfontein beëindig het en hulle naweekplasie in die Magaliesberge verkoop het. Gerhardt, Joan en eggenoot Hannes se oudste seun, was in daardie stadium in Standerd 3 en moes koshuis toe. Braam en Chris was onderskeidelik 4 en 2 en André is later op Louis Trichardt gebore.

Ná drie gelukkige jare op Feton verhuis die familie na Nwanedzi anderkant van Tshipise. “Ek kon nie verstaan dat my man die paradys verruil het vir daar waar dit onuithoudbaar warm is nie,” sê Joan.

Hannes het ‘n aanbod aanvaar van Hennie de Klerk, ‘n stoet Simmentaler en stoet Afrikaner beesboer van Winburg in die Vrystaat, om sy beesstoete te bestuur. Hy het Hennie oorreed om ‘n Brahmaanbul aan te koop en met sy stoet Simmentalerkoeie te kruis. “Hy het al die voordele in so ‘n nuwe stoetlyn voorsien en so kry die Simbra-ras sy ontstaan. Hier in die Bosveld. Ek verstaan toé waarom Hannes en Hennie se paaie gekruis het,” sê Joan.

Die regering het toe begin om boere se grond op Nwanedzi uit te koop vir tuislandontwikkeling. “Die area was die beste besproeiingsgrond, beesweiding en wildplase agter die Soutpansberg,” onthou Joan.

Hannes was voorsitter van die boerevereniging daar en die boere gewaarsku dat hulle met geld in die hand sou sit, maar nooit weer sou kon koop wat hulle prysgegee het nie. Tog het die boere verkoop en uitmekaar gespat. “Ons vestig ons op King’s Kloof en Closeburn, buurplase van Feton. Ons wou terug wees waar ons eers gevestig was,” sê Joan.

Joan sê dit was ‘n natuurskoon plaas. “Dit lê in die groenbelt, omring deur berge, valleie, plato’s met Mutambaspruit wat deur die grond vloei en ook sy ontstaan het op Closeburn en King’s Kloof, asook ‘n warmwaterfontein op Closeburn weens jare gelede se vulkaniese uitbarsting,” onthou Joan. Wat wildlewe betref, lewer die plaas trofeekoedoebulle op met jagters wat die grond “Kudu Palace” doop.

“Ek het myself afgevra waarom ons so geseënd was om die eienaars van so ‘n spogplaas te wees? Waarom verdien ons dit? Ek het King’s Kloof met my hele hart lief,” sê Joan.

Ná haar man Hannes se dood, sê Joan, was daar baie harde werk, maar dit was steeds vir haar ‘n vreugde om daar te woon. Sy onthou hoe lekker dit vir haar was om die jagters en gesinne te ontvang en die jag vir hulle aangenaam te maak. “Ek het die berge geklim, geprospekteer, want groot was my belangstelling in die minerale wat op die twee plase voorkom. ‘n Wonderlike, wonderlike voorreg om daar te woon. Almal was welkom op King’s Kloof,” sê Joan.

“Ek groet almal. Dankie vir julle liefde, vriendskap en bystand. Ek sal julle nooit vergeet nie. Hoe bevoorreg is ek nie om so ‘n vriendekring en omgee-mense deur al die jare te hê? Die Here het voorsien,” sê Joan.

Joan het verhuis na die Weskaap waar haar pa in 1911 op Swellendam gebore is. Haar pa was baie lief vir die pragtige Overberge wat Swellendam omring. “Dus sal julle verstaan dat ek nou aan my skadukant van my lewe, terugverlang na waar my voetspore vandaan kom,” het Joan gesê. King’s Kloof is reeds verkoop. Joan sê sy is reeds goed gevestig in Swellendam en het reeds ‘n groot nuwe vriendekring.

 

News in brief - Date: 09 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: