ADVERTISEMENT:

 

Jan “Slang” van Rooyen kort nadat hy die erg beseerde ystervarkie gevang kon kry. Foto verskaf.

Poging om jong ystervarkie te red eindig in hartseer

 

Slangkenner en diereliefhebber Jan “Slang” van Rooyen van Louis Trichardt het Maandag gesê hy het net weereens verstom gestaan teenoor die wreedheid van die mens, nadat ‘n motoris ‘n jong ystervark in die drop raakgery het en die erg beseerde dier net so gelaat het.

Jan het vertel dat hy laat Sondagmiddag geskakel is om ‘n ystervark naby dr. Lappies se ou spreekkamer (op die hoek van Anderson- en Songozwistraat) te kom vang. “Dit was vir my snaaks dat die arme dier skuiling gesoek het teen die muur en in bosse, eerder as om in ‘n gat te wees,” het Jan gesê.

Met ‘n gesukkel het Jan die jong ystervark gevang gekry, maar hy het opgemerk die dier het baie seer gekry. Maandagoggend vroeg het hy die ystervarkie veearts toe geneem waar dr. Gerhard Klopper die dier ondersoek het. “Daar is X-strale geneem om te sien of daar ‘n kans was dat hy genees kon word om weer terug te keer bos toe. Sy beserings was egter te groot en omdat die diertjie in ongelooflike pyn moes gewees het, is daar besluit om hom eerder uit te sit,” het Jan gesê. Die ystervarkie se rug was ondermeer af en van sy organe het in sy borskas opgeskuif.

Jan sê hy vermoed die ystervarkie moes laat Saterdagaand of Sondagoggend raakgery gewees het. Ystervarke is algemeen in en om Louis Trichardt. “Dit is vir my hartseer dat hierdie pragtige diertjie sy lewe moes verloor. Dit breek my, omdat hierdie arme dier, ten spyte van sy seer, nog so baklei het om te lewe. Ek wens mense wil besef dat diere ook seer kan ervaar,” het Jan gesê. Hy het inwoners versoek om tog maar altyd versigtig te bestuur, al is dit laat en die strate is stil, omdat jy nooit weet wat skielik oor jou pad kan kom nie.

 

News in brief - Date: 03 December 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Nadat X-strale geneem is, is daar besluit dat die jong ystervarkie eerder uitgesit moes word weens sy beserings. Sy rug was ondermeer af en van sy organe het in sy borskas opgeskuif. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: