ADVERTISEMENT:

 

Le Roux beklink ‘n algehele  8ste posisie in die Deadlift Hold waar deelnemers moes kyk wie van hulle die langste ‘n 320 kg gewig in die lug kon hou. Foto: Dandré en Mia Le Roux

Le Roux nou 6de op SA-ranglys

 

Plaaslike sterkman Leon le Roux moes behoorlik die afgelope naweek uithaal en wys toe hy tydens die Randse Paasskou te staan gekom het teen van die wêreld se sterkste manne.

Die 44-jarige Le Roux, ’n lid van Lugmagbasis Makhado buite Louis Trichardt, het in die onder 105 kg gewigklas deelgeneem met die kompetisie wat oor twee dae, 15 en 16 April, beslis is. Dit was duidelik geen maklike uitdaging nie, met top name in beide plaaslike en internasionale sterkmankringe soos Frikkie Page (tans nommer een in Suid-Afrika) en Jimmy Johansen van Swede, Gary Piotriowski van Amerika en James Turner en John Richardson van Engeland, wat in dieselfde klas as Le Roux deelgeneem het. “In al die jare wat ek deelneem, was hierdie my moeilikste kompetisie ooit. Op ‘n skaal van 1 tot 10 wat betref moeilikheidsgraad, was die kompetisie definitief ‘n 10,” het Le Roux Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Beide dag een en dag twee se kompetisie het bestaan uit vyf items. Die kompetisie het afgeskop met die Overhand Truck Pull waar deelnemers ‘n 20 ton-trok oor 20 meter moes trek. Nog fris en vars was hierdie Le Roux se beste item vir die naweek en behaal hy ‘n derde plek. Hierna het die Farmer’s Walk aan die beurt gekom waar deelnemers teen tyd ‘n afstand van 20 meter moes stap met 150 kg in elke hand. Hier eindig Le Roux 7de. In die Yoke Carry (’n 380 kg gewig wat oor die skouers teen tyd oor 20 m gedra moet word) was Le Roux 6de. Met die volgende item, die Car Deadlift waar ’n 330 kg kar gelig moes word, het Le Roux egter begin sukkel en kon nie die gewig lig nie. Hy het egter weer punte opgemaak met die laaste item van die eerste dag, die Log Press, waar hy ’n persoonlike beste behaal deur 125 kg met gemak bokant sy kop uit te druk en te hou. Hier behaal hy ook ’n 7de plek.

Vir seer en lam spiere was daar nie tyd nie. Die tweede dag van die kompetisie het afgeskop met die Loading Medley waar Le Roux ’n 120 kg vaatjie, 90 kg betonblok en 120 kg buiteband oor ’n afstand moes dra teen tyd. Sy poging was goed genoeg om hom hier ’n 6de plek te besorg. Volgende aan die beurt was die Tyre Flip waar Le Roux daarin kon slaag om die 450 kg gewig vyf keer oor te rol – weer goed genoeg vir ’n algehele 6de plek.

Teen hierdie tyd het die kompetisie sy tol begin eis. Le Roux het egter vasgebyt en beklink ’n algehele 8ste posisie in die Deadlift Hold waar deelnemers moes kyk wie van hulle die langste ’n 320 kg gewig in die lug kon hou. Volgende aan die beurt was die 120 kg Axle Press, maar Le Roux sê hy kon in daardie stadium net nie die gewig bokant hom uitgedruk kry nie. Met geen rus en moeë spiere, was die volgende item die moordende Atlas Stones waar deelnemers vier ronde betonstene wat wissel in gewig van 110 kg tot 160 kg moes optel, oor ’n afstand dra en bo-op ’n drom plaas. Le Roux kon net daarin slaag om die eerste twee stene met ’n maksimum gewig van 140 kg geplaas te kry.

Dat die kompetisie straf was is verseker met selfs Frans Pretorius van die Suid-Afrikaanse Sterkman-unie wat die toernooi as uiters moeilik beskryf het. Frikkie Page was die algehele wenner van die kompetisie met Suid-Afrika se Kreson Pillay tweede en Swede se Jimmy Johansen derde.

Le Roux eindig na afloop van die kompetisie algeheel 8ste op die internasionale SCL-punteleer (Strongman Champions League). Sy goeie vertoning beteken ook dat hy vanaf die 7de posisie na die 6de posisie opskuif op die Suid-Afrikaanse punteleer.

Le Roux sê hy het die afgelope naweek se kompetisie gebruik ter voorbereiding vir wêreldbekende Arnold Schwarzenegger se internasionale Arnold Classic wat vanaf 5 tot 7 Mei by die Sandton Konferensiesentrum gehou word. Le Roux sal tydens hierdie geleentheid deelneem in die meesters-klas vir deelnemers van 40 jaar en ouer. Die Arnold Classic beloof weereens om top name vanoor die hele wêreld te lok met deelnemers wat die kompetisie sal gebruik as voorbereiding vir die wêreld sterkmankampioenskappe wat in September in Finland beslis sal word.

Sport - Date: 21 April 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Met geen rus en moeë spiere, het Le Roux ietwat gesukkel met die moordende Atlas Stones waar deelnemers vier ronde betonstene wat wissel in gewig van 110 kg tot 160 kg moes optel, oor ‘n afstand dra en bo-op ‘n drom plaas. Le Roux kon net daarin slaag om die eerste twee stene met ‘n maksimum gewig van 140 kg geplaas te kry. Foto: Dandré en Mia Le Roux.

Die kompetisie het afgeskop met die Overhand Truck Pull waar deelnemers ‘n 20 ton-trok oor 20 m moes trek. Nog fris en vars was hierdie Le Roux se beste item vir die naweek en behaal hy ‘n derde plek. In die foto word Le Roux ondersteun deur Suid-Afrika se nommer drie sterkman, Jared Leask. Foto: Dandré en Mia Le Roux.

Le Roux behaal ‘n algehele 7de plek in die Farmer’s Walk waar hy ‘n 150 kg gewig in elke hand oor 20 m moes dra teen tyd. Foto: Dandré en Mia Le Roux.

Le Roux het in die Log Press  ‘n persoonlike beste behaal deur die 125 kg gewig met gemak bokant sy kop uit te druk en te hou. Hier behaal hy ook ‘n 7de plek. Foto: Dandré en Mia Le Roux.

Vir seer en lam spiere was daar nie tyd nie. Die tweede dag van die kompetisie het afgeskop met die Loading Medley waar Le Roux ‘n 120 kg vaatjie, 90 kg betonblok en 120 kg buiteband oor ‘n afstand moes dra teen tyd. Foto: Dandré en Mia Le Roux.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: