ADVERTISEMENT:

 

Die Limpopo Melkery-span wat Sondag in die finaal teen Strikers gewen het.

Limpopo klop Strikers in finaal

 

Die Limpopo Melkery-span het Sondag geseëvier in die finale rondte van die 20 beurt-liga wat deur die Louis Trichardt Krieketklub gereël is. Hulle het die Strikers-span gemaklik met 70 lopies geklop.

Ten einde deur te dring na die finaal moes Strikers Saterdag eers die span van Ridgeway College klop. In dié wedstryd het Ridgeway eerste gekolf. Craig Viljoen (11) en Leon Furstenburg (30) het die lopie-tempo hoog probeer hou. Strikers se boulers, veral Paolo Piorek (1/11 in 4 beurte) en Louis van Jaarsveld (1/13 in 4 beurte) het egter die leisels stewig vasgehou. FC Phillipson het vasgeskop en ‘n haastige 30 lopies van 27 balle aangeteken om die telling na 100/4 na 20 beurte te neem.

Strikers se kolwers het min simpatie betoon met Ridgeway se boulers. Na ‘n vinnige paaltjie geval het, het Albertus Pieterse (16) en Christo Boshoff (26 n.u.n.) die boulers gekasty. Ettienne Hendricks (47 n.u.n. van 26 balle) het egter die lang steel ingelê en Strikers gehelp om die telling in die 11de beurt verby te steek, met slegs twee paaltjies plat.

Ridgeway se enigste bouler wat ‘n mate van sukses kon behaal, was Craig Viljoen wat 2/21 in 4 beurte geneem het.

In Sondag se wedstryd het Limpopo eerste gaan kolf en hul aanvangspaar, Hamid Dukanwala (48 van 32 balle) en Salim (18 van 21 balle) het ‘n 74 lopie vennootskap aangeteken. Nimesh Watekar het hierna ingekom en 10 lopies aangeteken, maar dit was TE Smit (42 van 27 balle) en Wouter Smit (29 van 18 balle) wat verwoesting gesaai het. Aan die einde van die 20ste beurt was die telling 186 met drie paaltjies plat.

Strikers se bouler wat die meeste sukses behaal het, was Riaan Gerber wat 2/20 in vier beurte geneem het.

Limpopo se boulers het Strikers min kans gegun om die teiken te jaag. Wouter Smit (2/17 in 4 beurte) en Vimal Shah (0/13 in 4 beurte) was genadeloos. Albertus Pieterse (16 van 23 balle) en Christo Boshoff (39 van 44 balle) het dapper probeer, maar na hulle vertrek kon slegs Christo Gerber (12 van 12 balle) dubbelsyfers aanteken. Na 20 beurte was die telling op 116 met 8 paaltjies plat.

Buiten Wouter se twee paaltjies, het TE Smit ook 2/20 in twee beurte geneem.

 

(Erratum: In die eerste weergawe van die berig is daar in drie paragrawe na Strikers se span as Vikings verwys.)

Sport - Date: 08 December 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Joubert Fourie ontvang die trofee van Naomi Phillipson van die Louis Trichardt Krieketklub.

 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: