ADVERTISEMENT:

 

CP van Wyk en Alan Gordon van die Insect Science Pro-span afgeneem na afloop van die taai vyfde skof. (Foto: Ralda van Wyk)

CP en Alan algeheel 30ste na vyfde skof van Cape Epic

 

CP van Wyk en Alan Gordon het vanoggend (Vrydag) vasgebyt in wat beskou word as een van die taaiste skofte van die Absa Cape Epic bergfietswedren en algeheel 30ste geëindig. Die vyfde skof van die uitmergelende resies is gewen deur ‘n Suid-Afrikaanse span, die PYGA Euro Steel-span bestaande uit Philip Buys en Matthys Beukes.

Die skof het by Oak Valley Landgoed in Grabouw begin en die spanne moes ‘n 100km-roete aandurf wat ‘n klim van 2 850m ingesluit het. Dit het geëindig by die Universiteit van Stellenbosch.

Die Absa Cape Epic bergfietswedren word beskou as een van die hoogtepunte op die jaarlikse fietsrykalender. Die wedren, wat oor agt dae beslis word, lok die top fietsryers van regoor die wêreld. Meer as 670 spanne het Sondag (16de) in Hermanus weggespring. Die wedren eindig Sondag by die Val de Vie Landgoed in Stellenbosch.

CP en Alan jaag vir die Insect Science Pro-span. Nie-amptelik is hulle die “Limpopo”-span by die Cape Epic, synde CP van Levubu af kom en op Louis Trichardt skoolgegaan het. Alan Gordon is van Tzaneen waar hy onder meer ‘n fietswinkel bedryf.

Die goeie vertoning wat die Insect Science Pro-span gelewer het tydens die vyfde skof, beteken dat hulle nou opskuif na die algehele 31ste plek. Volgens die voorlopige uitslae wat Vrydagmiddag beskikbaar gemaak is, is daar net enkele minute wat hulle skei van die twee spanne voor hulle. Hulle is ook in die agste plek op die lys van Suid-Afrikaanse spanne.

Die vyfde skof het heelwat drama opgelewer. CP en Alan het ietwat vinnig begin en was vroeg reeds onder die eerste 25 spanne. Hierna het hulle bietjie teruggesak en kragte herwin vir die steil bergpasse wat gewag het. Hulle het die skof voltooi in 04:56:47 en het so ‘n rapsie meer as 37 minute na die voorlopers by die eindstreep verbygery.

Wat die algehele voorlopers betref, het die skof ook heelwat drama opgelewer. Wêreldkampioen Nino Schurter en sy Switserse spanmaat, Lars Forster het weer gewys waarom hulle in ‘n klas van hul eie is. Hulle het kort op die hakke van Buys en Beukes geëindig, maar meer belangrik ook meer as ses minute voor die span van Manuel Fumic en Henrique Avancini. Dit beteken dat Schurter en Forster weer die draers van die geeltrui is, met nog twee skofte wat wag.

Ná afloop van ses dae se strawwe ryery, is die Insect Science Pro-span algeheel 31ste en in die 30ste plek in die senior mans-afdeling. Hulle is 2 uur en 53 minute agter die voorlopers, Schurter en Forster wat met ‘n tyd van 19 uur 20 minute spog. Fumic en Avancini is net meer as vyf minute agter die voorlopers.

Môre (Saterdag) durf die deelnemers ‘n 85 km sirkelroete rondom Stellenbosch aan wat ook verskeie steil bergpaadjies insluit. Die resies eindig Sondag by die Val de Vie Landgoed in Stellenbosch, maar nie voordat die spanne ‘n 70 km roete, onder meer deur die Kaapse wynlande, voltooi nie.

 

Sport - Date: 22 March 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: