ADVERTISEMENT:

 

Alan Gordon (links) en CP van Wyk van die Insect Science Pro-span met hul medaljes na afloop van die Absa Cape Epic bergfietswedren. (Foto: Ralda van Wyk)

CP en Alan eindig 24ste in laaste skof

 

Die Insect Science Pro-span het die Absa Cape Epic Sondag op ‘n hoogtepunt geëindig deur 24ste klaar te maak in die laaste skof, slegs 17 minute na die wenners. Hul goeie vertoning het ook meegebring dat hulle twee plekke verbeter het op die algehele lys van spanne en 35ste in die kompetisie geëindig het.

Die span, bestaande uit oud-Triegie CP van Wyk en Alan Gordon van Tzaneen, het Sondag hul beste dag van die Cape  Epic beleef. Dit was vir hulle ook ‘n gepaste einde vir ‘n moordende kompetisie wat oor agt dae en bykans 650 kilometer beslis is. Die Absa Cape Epic lok jaarliks die top bergfietsryers in die wêreld en word allerweë beskou as een van die strafste kompetisies van sy soort.

Sondag se skof het in Stellenbosch begin en 70 kilometer verder by die Val de Vie Landgoed in die Paarl geëindig. Die skof is gewen deur Sergio Mantecon Gutierrez en Ondřej Cink. Hulle het die Suid-Afrikaanse span, Pyga Euro Steel, bestaande uit Philip Buys en Matthys Beukes, met ‘n breukdeel van ‘n sekonde geklop.

CP en Alan het met Sondag se vertoning bietjie vergoed vir die teleurstelling die vorige dag. Saterdag moes hulle tevrede wees met ‘n 70ste plek en dit het meegebring dat hulle teruggesak het na die 37ste posisie. Na die vyfde skof was hulle in die 31ste plek en hulle het gehoop om hierop te kon verbeter.

Wat die Suid-Afrikaanse spanne betref, het CP en Alan in die negende plek geëindig. Die beste Suid-Afrikaanse span was die span van Alan Hatherly en Matthew Beers. Hulle het algeheel vyfde geëindig, wat ‘n skitterende vertoning was gesien in die lig van die internasionale kompetisie.

Die Switserse span van Nino Schurter en Lars Forster was die algehele wenners van 2019 se Cape Epic. Hulle het sowat agt minute voor hul naaste teenstanders, Manuel Fumic en Henrique Avancini, klaargemaak. Damiano Ferraro en Samuele Porro was derde.

Sport - Date: 24 March 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: