ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike sterkman Leon le Roux, ‘n adjudant-offisier van Lugmagbasis Louis Trichardt, het die afgelope naweek weer ‘n podiumplek ingepalm tydens die jaarlikse Arnold Classic. Hy wen die meesterklas van die onder 105 kg-afdeling van die kompetisie. Foto verskaf.

Leon pronk weer op podium

 

Kragman Leon le Roux van Lugmagbasis Makhado het vanaf 17 tot 19 Mei weer spiere gebult saam met van die wêreld se sterkste manne tydens die jaarlikse Arnold Classic by die Sandton Konferensiesentrum in Johannesburg.

‘n Podiumplek vir die 46-jarige  Le Roux is nie ‘n vreemde verskynsel nie, soos hy die afgelope paar jaar al gewys het tydens top nasionale sterkmankompetisies. Dié keer stap hy weg met ‘n eerste plek in die onder 105 kg Pro-meestersklas, asook ‘n sesde plek uit nege deelnemers in die onder 105 kg Pro-klas vir die jong manne.

Die eerste dag van kompetisie was taai. Die atlete se items het ingesluit die Deadlift, Viking Press en Fat Back Farmers Walk.  “Met die Deadlift was ek laaste en kon net 250 kg lig. Die Viking Press was 130 kg en ek kon ongelukkig nie een repetisie (rep) voltooi nie. In die Fat Back Farmers Walk eindig ek egter vierde met ‘n tyd van 27 sekondes. Dit is waar jy met 140 kg in elke hand oor 12 m stap, stop en drie keer af kniel en weer opstaan met die gewig. Dan stap jy weer 12 m, stop weer en staan weer drie keer op met die gewig. Op die derde opstaan stop die tyd,” het Le Roux gesê.

Op dag twee kon Le Roux 110 kg bokant sy kop uitdruk in die Log Press. Dit is opgevolg met die Yoke Walk met ‘n gewig van 400 kg waar Le Roux sesde geëindig het. Hy het hierna die One Hand Front Hold item gewen, nadat hy vir ‘n ongelooflike 44 sekondes met die 130 kg gewig kon staan.

“Dit was ‘n awesome naweek gewees,” het Le Roux gesê. ‘n Hoogtepunt vir hom was die geleentheid om saam met bekende wêreldsterkman en Amerikaanse akteur Arnold Schwarzenegger die verhoog te deel.

“Die reëlings was baie goed en dit was ‘n belewenis om deel te neem. Die kompetisie raak elke jaar strawwer. As dinge goed gaan, kan ek moontlik my uitnodiging na die wêreldkampioenskappe kry,” het Le Roux gesê.

Le Roux het sy dank uitgespreek teenoor almal wat hom ondersteun in sy sport. “Dankie vir Paul's Body Shop op die basis vir hulle ondersteuning. Dankie ook aan my familie, my ma en vier susters met hulle gesinne vir al die boodskappe. Ek het ook ‘n afrigter, Francois van Zyl, wat uit sy pad gegaan het met my voorbereiding. Party dae het ek gevoel ek gaan dood, maar hy het goed gedoen,” het Le Roux gesê.

Le Roux het ‘n spesiale woord van dank gerig aan sy vrou, Marihan, vir haar ondersteuning.  “Sy is eenvoudig net wonderlik en waar ek party dae nie lus was vir oefen nie is ek geforseer om te gaan. Sy is elke tree, elke lig van ‘n gewig, elke teleurstelling en elke blydskap langs my en motiveer my waar ek dit nie meer kan doen nie. Dankie, my Liefling. Sonder my vrou en afrigter sou dit nie vir my moontlik gewees het nie,” het Le Roux gesê.

 

Sport - Date: 24 May 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Le Roux het die kans gekry om spiere te bult met van die wêreld se sterkste manne. Van links na regs is Paul Mwanza van Zambië, Marshall Zinn van Amerika, Alireza Ostad Haji van Iran, Thabani Mthembu van Suid-Afrika, Eben van Wyk van Skotland, Le Roux, Keoman Basil van Nigerië,  Melvin Mweeba van Zambië en Francois Gouws van Suid-Afrika. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: