ADVERTISEMENT:

 

Triegies se Christelle Coetzer lyk vanjaar onstuitbaar in die junior meisies-afdeling. Sy het Saterdag weer haar afdeling gewen tydens die Tour de Capricorn in Polokwane.

Triegies werk hard vir podiumplekke

 

Bergfietsry as skoolsport groei steeds in gewildheid, met die tweede ronde van die provinsiale Spur XCO-skoleliga, die Tour de Capricorn, wat Saterdag ‘n rekordgetal van 475 inskrywings gelok het.

Die stad van Polokwane het opgetree as gasheer van die ligabepaling, met Hoërskool Louis Trichardt se fietsryspan wat talle Top-10 plekke ingepalm het, asook ‘n paar podiumplekke.

Triegies se Christelle Coetzer lyk vanjaar onstuitbaar in die junior meisies-afdeling, en met twee ligabepalings oor, lyk sy vasberade om as die provinsie se nommer een in dié afdeling te eindig. Sy het die naweek haar afdeling gemaklik gewen en haar voorsprong op die provinsiale punteleer opgeskuif na 30 punte. Triegie spanmaat Jennavieve Truter het op haar beurt vir haarself ‘n algehele tweede plek losgetrap in dieselfde afdeling en sy beklee tans ‘n tweede plek op die provinsiale punteleer met 20 punte, terwyl nog ‘n Triegie, Karla “Vossie” van Zyl, die naweek tevrede moes wees met ‘n algehele vyfde plek na ‘n val vroeg in haar eerste ronde. Sy klou tans vas aan ‘n provinsiale vierde plek met 17 punte.

In die junior seuns-afdeling is dit Triegies se Calvin Lee wat vanjaar goed vertoon. Hy het vir homself Saterdag ‘n vierde plek losgery, terwyl spanmaats Ditau Mandobe en Rohan Cronjé onderskeidelik sewende en agste posisie ingeneem het. Tans beklee Calvin ‘n vierde plek op die provinsiale punteleer met 15 punte, met Rohan in sewende plek met nege punte en Ditau in negende plek met vyf punte.

Triegies het ook ‘n eerste plek in die Youth-afdeling vir meisies ingepalm met Eliz-Mari Pretorius wat hard moes werk tot op die eindstreep vir ‘n wen. Slegs ‘n breukdeel van ‘n sekonde het haar en haar naaste teenstander, Jani Jordaan (King Fisher HS), by die eindstreep geskei. Ook op die provinsiale punteleer gee Eliz-Mari en Jani mekaar opdraande, met Eliz-Mari eerste en Jani tweede, maar beide met 27 punte. Die enigste ander meisie van Triegies wat ‘n Top-10 posisie kon losry, was Michelle Steyn met ‘n agste plek.

In die sub-junior meisiesafdeling spog Hoërskool Louis Trichardt met twee Top-10 posisies. Jessica Brandt het algeheel sesde geëindig, terwyl Mieke Veldman vir haarself ‘n agste plek losgery het.

Wat die totale puntestand van skole na die tweede ligabepalings in die reeks betref, is dit duidelik dat Hoërskool Louis Trichardt vanjaar baie hard sal moet werk. Triegies het vir etlike jare die provinsiale liga gedomineer, maar lê tans vierde op die punteleer met 216 punte. In die derde plek is Merensky met 283 punte en PHS tweede met 292 punte. Stanford Lake College is tans eerste met 300 punte.

Die volgende ligabepaling in die reeks is die Tour de Plaas by Hoërskool Merensky op 17 Augustus. Vir volledig uitslae van die Tour de Capricorn, besoek https://www.webscorer.com/race?raceid=189341.

 

Sport - Date: 02 August 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Triegies se Eliz-Mari Pretorius (links) moes hard werk tot by die eindstreep vir ‘n wen in die Youth-afdeling vir meisies. Slegs ‘n breukdeel van ‘n sekonde het haar en haar naaste teenstander, Jani Jordaan (regs), by die eindstreep geskei tydens die naweek se Tour de Capricorn.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: