ADVERTISEMENT:

 

Die dag se verrigtinge is reeds vroegoggend afgeskop met die massa-optog van atlete, gelei deur Triegies met spankapteine (voor, van links na regs) Mathilda Tebogo Masekela, Benjamin de Waal, FC Phillipson en Vossie van Zyl. Foto verskaf.

Interhoër iets om op trots te wees

 

“Dit het ons trots gemaak om ‘n Triegie te wees!” Dit was die algemene gevoel van ouers, leerlinge en oud-leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt ná afloop van sekerlik een van die beste Interhoër-byeenkomste wat nog plaaslik aangebied is.

Die jaarlikse Interhoër met Triegies as gasheerskool het Vrydag iets van alles vir atlete sowel as toeskouers gebied. Die dag se verrigtinge is reeds vroegoggend afgeskop met die massa-optog van atlete, gelei deur Triegies met spankapteine Vossie van Zyl, Mathilda Tebogo Masekela, FC Phillipson en Benjamin de Waal. Die ander besoekende skole was Northern Academy en Hoërskole Pietersburg (PHS), Tom Naudé, Eric Louw, Frans du Toit en Merensky.

Daarna het die tradisionele en uiters gewilde dirigente “aankoms” gevolg, wat soos gewoonlik nie teleurgestel het nie. Dit was duidelik dat die skole baie moeite gedoen het, veral Hoërskool Louis Trichardt met hul Lion King-tema en Hoërskool Frans du Toit met hulle Pac-Man-tema. PHS het met hul Rock n Roll-tema ook beïndruk.

Met die massa-optog en dirigente aankoms agter die rug, was dit tyd vir ernstiger sake. Vanjaar se Interhoër het regtigwaar puik atletiek opgelewer.

Reeds van vroeg af het PHS se atlete hul stempel afgedruk en hulle het deurlopend die telbord laat aanskuif. Hulle wen algeheel die Interhoër met 1 186.5 punte. Hoërskool Merensky was tweede met 991 punte, met Louis Trichardt wat derde geëindig het met 688 punte. Tom Naudé (651), Frans du Toit (489.5), Eric Louw (349) en Northern Academy (225) was onderskeidelik vierde, vyfde, sesde en sewende.

In totaal het Triegies se atlete 12 eerste plekke ingepalm. Dit het ingesluit rekords vir Boikgantsho Mashela (driesprong seuns o.15) en Luandi van Zyl (driesprong meisies o.16). Daarbenewens het die skool se atlete altesaam 18 tweede plekke verower, wat ingesluit het tweede plekke vir die seuns o.17- en meisies o.16- en o.19-aflosspanne. Aan derde plekke was daar ook nie ‘n tekort nie, met die Triegie-atlete wat gesorg het vir 31 derde plekke. Dit het ingesluit derde plekke vir die seuns o.14- en o.16-aflosspanne.

Algeheel het Triegies se meisiespan derde geëindig op die punteleer, met PHS se meisies eerste en Merensky tweede. Wat die seunspanne betref, was Triegies vierde, met PHS eerste, Merensky tweede en Tom Naudé derde. Triegies se Tshepo Legodi, wat eerste plekke verower het in die 100m hekkies, 200m en spiesgooi vir seuns o.14, is aangewys as die beste junior baanatleet van die dag.

Die groot vraag was natuurlik wie het die sangbeker gewen en wie se dirigente die beste opkoms gehad het? Wat die opkoms betref, het Frans du Toit met die louere weggestap, terwyl Louis Trichardt en PHS die tweede plek gedeel het. Frans du Toit het ook met die sangbeker weggestap, met PHS tweede en Louis Trichardt derde.

 

Sport - Date: 27 February 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Triegies se Tshepo Legodi (links), wat eerste plekke verower het in die 100m hekkies, 200m en spiesgooi vir seuns o.14, is aangewys as die beste junior baanatleet van die dag. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: