ADVERTISEMENT:

 

Heel party oud-spelers en -lede van die Louis Trichardt Rugbyklub het Saterdag die klub se 100ste bestaansjaar bygewoon. Dit het ingesluit die 93-jarige oom Ted Uys, wat in 1941 afrigter en skeidsregter by die klub was. Die oudste speler die dag was die 79-jarige Poen de Bruin. Ander oud-spelers het ingesluit Kobus de Bruin, Buffel du Preez, Dries Rossouw, Wally Denton, Tjorra Nagel, Johan Gilfillan, Hentie Wentzel, Piet van Wyk, Jorrie Jordaan, Dirk du Preez, Grant Phillipson en vele meer.   

Fees van rugby opgedis tydens Conway Rugbydag

 

Die Louis Trichardt Rugbyklub het Saterdag hul 100ste bestaansjaar op luisterryke wyse gevier tydens die hou van die jaarlikse Conway Rugbydag.

‘n Fees van rugby is opgedis, vanaf Bulletjierugby tot ‘n wedstryd vir die klub se oumanne. Die eregaste die dag het egter ingesluit die klub se oud-spelers en -afrigters. Die naam Conway is afkomstig van D. Conway, wat in die 1940’s die Conway-beker vir die klub geskenk het.

Die Louis Trichardt Rugbyklub is in 1919 gestig, nadat die destydse Dorpsraad ‘n stuk grond aan hulle geskenk het by die huidige Hoërskool Louis Trichardt. Onder die eregaste Saterdag was die 93-jarige oom Ted Uys, wat in 1941 afrigter en skeidsregter by die klub was.

Die oudste speler teenwoordig die dag was die 79-jarige oom Poen de Bruin. Interessant genoeg was daar ook drie generasies spelers aan sy broer Steven de Bruin se kant, met die 70-jarige Steven, sy seun Kobus de Bruin (55) en dié se seun, die 27-jarige Jaco de Bruin, wat almal vir Louis Trichardt uitgedraf het. Van die ander oud-spelers wat Saterdag saam kom kuiers het, het ingesluit Buffel du Preez, Dries Rossouw, Wally Denton, Tjorra Nagel, Johan Gilfillan, Hentie Wentzel, Piet van Wyk, Jorrie Jordaan, Dirk du Preez, Grant Phillipson en vele meer.   

Die “oumanne” wedstryd was beslis die lekkerste wedstryd om te kyk, met die span wat die tweedes van Musina 51-0 kafgedraf het.

Die vete tussen Hoërskole Louis Trichardt en Eric Louw van Musina het ook op die dag voortgeduur, met harde rugby wat gespeel is tussen die skole se o.14-, o.15-, o.16- en eerstespanne. Ongelukkig het die vete tussen die twee skole se eerstespanne oorgespoel in ‘n vuisgeveg ná die wedstryd waarin ‘n speler van Triegies van die veld afgedra moes word deur paramedici en die skool se hoof ook ‘n vuishou weg het. Die eindtelling was 14-13 in die guns van Eric Louw.

Buiten hierdie onsmaaklikheid het die res van die dag se wedstryde sonder voorval verloop. Die Louis Trichardt Rugbyklub het al hul wedstryde gewen. Die klub se derdes het Letaba se tweedes 31-10 geklop, waarna die tweedes hul opponente van Kruinies 23-7 die mond gesnoer het. In die hoofwedstryd van die dag het Louis Trichardt se eerstes hulle eweknieë van Noordelikes 15-11 geklop.

Ná die wedstryde, wat almal op vriendskaplike basis beslis is, is daar tot laatnag toe saamgekuier, met ou vriendskappe wat hernu is en staaltjies van vervloë dae wat herleef is.

 

Sport - Date: 19 March 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Die “oumanne” se wedstryd was beslis die lekkerste wedstryd om te kyk, met die span wat die tweedes van Musina 51-0 kafgedraf het. Afgeneem (voor, van links na regs) is oud-spelers TE Smit, Bertie Swanepoel en Rudi Swanepoel. Agter hardloop Paulo Piorek en Carel van der Merwe.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: