ADVERTISEMENT:

 

Foto's: Instapix.

Johan en Koben wys staal tydens ysterman

 

Ná maande se intense oefening en beplanning het die tyd aangebreek vir Johan van Dijkhorst en die 18-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt se deelname aan die MyWayLife 226 Brick Challenge, ‘n ystermankompetisie wat by die Midmardam naby Howick vanaf 9 tot 11 April aangebied is. Johan-hulle het aan die half-ystermankompetisie, die 113 Brick Challenge, deelgeneem.

Wat die twee se deelname uniek maak, is die feit dat Koben in Mei 2018 sy nek gebreek het tydens ‘n skole rugbywedstryd, ‘n besering wat hom van sy skouers af ondertoe verlam gelaat het. Hierdie jong man se vasberadenheid om eendag weer te loop dien sedertdien as inspirasie vir baie, en tot ‘n groot mate het hy die doel bereik. Alhoewel hy soms nog gebruik maak van sy groen rolstoel, genaamd Shrek, kom hy heel behendig reg met behulp van krukke.

Johan het so middel verlede jaar ‘n uitdaging aan Koben gestel: “Kom neem saam met my aan die uitdaging deel.” Koben het nie twee keer oor sy antwoord gedink nie en hulle het in alle erns begin oefen.

Die MyWayLife 226 asook die 113 Brick Challenge is oor drie dae beslis. Die twee se eerste uitdaging het Vrydagmiddag, 9 April, aangebreek – ‘n 1,9 km swem in die Midmardam. Deelnemers moes twee keer ‘n 950 m roete swem.

“Ons het laat weggespring, want in die harwar om by die dam te kom, het ons die hele krat met al ons swempakke en benodighede by die gasteplaas op die stoep vergeet. Ek moes toe terugjaag om dit te gaan kry, ‘n goeie 20 kilometer weg. Die mense was egter baie tegemoetkomend. Hulle was bereid om te wag, sodat ons op ons eie tyd geswem het. Die uitdaging se hele benadering is rustigheid en om dit te geniet. Dit is waarom die drie items oor drie dae versprei is,” het Johan gesê.

Vir Koben was die swem beslis nie so rustig nie.

“Na die eerste 300 m het ek swaar gekry. Dit was egter presies waarteen oom Johan my gewaarsku het. Hy het vir my gesê my arms gaan gedaan wees ná die eerste 300 m. Met oom Johan se ervaring en raad het ek net aanhou paddle. Glo my, dit is ongelooflik ver. Die ergste van alles is dat jy die ronde twee keer moes doen!” het Koben gesê. Sy arms het beslis daaronder gely, want hy het geensins die gebruik van sy bene gehad nie.

Die swem was Koben se grootste uitdaging van die naweek. “Die probleem was, met die swem kon ek Koben glad nie help nie soos met die fietsry en hardloop nie. Hy was totaal en al op sy eie en moes homself help,” het Johan gesê. “Dit was ‘n taai dag gewees, maar ek het geweet die ergste is verby,” het Koben bygevoeg. Die twee het die afstand in 55 minute en 43 sekondes voltooi, binne die afsnytyd van een uur en 10 minute.

Saterdag het die 90 km padfietswedren op Koben en Johan gewag. Hulle het dit op hul tandem aangedurf. “Ons het voorberei met die wete dat ons ‘n 90 km kan ry, maar ons het ons misgis met die strawwe klim op die 45 km sirkelroete. Ons het weggetrek met ‘n 2 km klim en ek het vir Koben gesê: ‘Laat ons net ons bene warm trap’. Daarna het ons bly sak en sak tot waar ons oor ‘n rivier gegaan het. Toe ons onder kom, het ons besef die enigste manier om van ‘n rivier weg te kom is opdraande! Toe slaan ons ‘n 4 km bergpas! Jy klim en jy klim aanhoudend. Glo my, jy werk! En toe, net voor die einde, wag daar vir ons so ‘n finale, steil klim. Ons het hierdie klim die skerpioenstert genoem, want hy het jou so ‘n laaste steek gegee,” het Johan gesê.

Die tweemanskap het met swoeg en sweet die eerste ronde voltooi. “Die tweede ronde was nogal woes. Van al die klim op die eerste ronde, het Koben se bene in spasma gegaan. Dit was so erg dat Koben se voete uit die pedale se toe caps uitgeruk het. Ons kon nie stop nie, maar gelukkig kon Koben met ‘n gesukkel sy voete terug kry op die pedale,” het Johan gesê. Hy het bygevoeg dat hy nie presies weet hoeveel hulle op die roete geklim het nie, maar dit moes maklik meer as 1 000 m gewees het.

“Dag twee was vir my meer emosioneel uitdagend as die eerste dag. Ek het gehuil op die einde. Oom Johan het vir my gevra of ek oukei is. Dan snik ek hier agter hom en sê: ‘Nee, ek is oukei, oom’,” het Koben gesê. Die twee se rytyd in die saal was uiteindelik vier ure 15 minute en 51 sekondes. Hulle was gelukkig nie laaste nie.

Geestelik was Koben en Johan die meeste voorberei vir die laaste dag [Sondag] se 21,1 halfmarathon. Dit beslaan ‘n sirkelroete van net meer as 10 km. Johan het gedraf en Koben het die roete in sy gemodifiseerde Shrek-rolstoel aangedurf in Triegie-drag. ‘n Derde wiel is vir dié doel vooraan die rolstoel aangebring. “Dit is die item waarvoor ons die minste geoefen het. Ons oefening hier was egter niks teenoor wat ons daar gedoen het nie,” het Koben gesê. “Die eerste ronde was vir ons makliker as die tweede ronde. Op die tweede ronde het ons geweet wat vir ons wag. Op die afdraandes het ek Koben gelos, sodat hy vooruit kon gaan. Die probleem wat ons gehad het, was die draaie in die pad. Dit was teen so ‘n helling dat Koben feitlik geen beheer oor sy rolstoel om die draaie gehad het nie. Toe ek om die een draai kom, sien ek net die rolstoel se agterwiele by die bosse uitsteek. Koben was baie vies vir homself en al sy vingers was weer nerfaf soos hy probeer rem het. Maar ons is daar uit en het besluit dit sou beter wees dat ek die heeltyd saam met Koben hardloop,” het Johan gesê. Hulle het die afstand voltooi in ‘n tyd van twee ure 15 minute en 26 sekondes. Hulle gesamentlike tyd vir die drie items was sewe ure, 21 minute en 20 sekondes.

Koben en Johan sê hulle is oorweldig deur die aanmoediging wat hulle van almal, tot die voorlopers tydens elke ronde, gekry het. Dit was veral vir Koben ‘n spesiale oomblik toe hy die laaste items voltooi het onder luide applous van mede-atlete en toeskouers by die eindstreep. “Ek kan nie die gevoel beskryf nie,” het Koben gesê.

Koben het ná afloop van die byeenkoms gesê dit was vir hom ‘n lewensveranderende ervaring. “Dit is skokkend om te sien waartoe jou liggaam regtig in staat is as jou kop reg is. Jy besef dan dat die enigste limiet jyself is. Ek het nodig gehad dat oom Johan daardie ‘limiet’ uit my uitkry. Al die harde oefening en druk. Niemand sien ooit wat agter die skerms aangaan nie. Oom Johan was die een wat my teen die bulte uitgestoot het en my gemotiveer het. Oom Johan het ‘n man van my gemaak deur net my denkwyse te verander om te weet wat jou liggaam regtig kan doen,” het Koben gesê.

Anders as Koben, was dit nie Johan se eerste driekamp nie. “Ek het al ‘n hele paar driekampe gedoen. Ek het besluit om hierdie uitdaging vir Koben te gee, omdat hy dit relatief rustig oor drie dae kon doen,” het Johan gesê.

Johan en Koben kyk reeds na hul volgende uitdaging, die 5150 driekamp by Bela-Bela op 21 Augustus vanjaar. Johan het gesê hy sal graag wil sien dat meer jongmense saam met hulle begin oefen vir dié uitdaging. Jongmense wat belangstel is welkom om hom te skakel by tel. 082 740 8740.

Johan en Koben het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hierdie ongelooflike avontuur vir hulle moontlik gemaak het. Dit het ingesluit Koben se ouers, Trompie en Annelize, vir hulle finansiële steun en reëlings, asook bydraes gemaak aan die Koben Hofmeyr Fonds vir juis dié doel. Dank het ook gegaan aan E&O Welding Works wat die stootraam vir Shrek gebou het, asook Stanley Thompson wat gehelp het om hulle fiets reg te kry. Waardering is ook uitgespreek teenoor APEX Multisport vir die gebruik van die spesiale swempak vir Koben, asook die Rugby Players Fund vir die fietsrydrag. “Dankie ook aan Hoërskool Louis Trichardt wat ons ondersteun het en toegelaat het om te gaan deelneem,” het die twee gesê.

Op ‘n persoonlike noot het Koben ‘n spesiale dankie aan Johan gerig. “Ek wil spesiaal vir oom Johan dankie sê vir sy belegging in my op my journey op die 113. Een ding wat vir my die meeste uitgestaan het van ons deelname was oom Johan se woorde aan my: Dit is nie uit ons eie krag nie. Alles is net genade,” het Koben gesê. “Uit die aard van die saak was Koben ook vir my ‘n inspirasie en dit was lekker om saam met hom te kon deelneem,” het Johan op sy beurt bygevoeg.

 

Sport - Date: 17 April 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: