ADVERTISEMENT:

 

Generiese foto.

Strikers gee vir Drillers ietwat van ‘n krieketles

 

Die Strikers het Saterdag die Drillers ietwat van ‘n krieketles gegee met ‘n nege-paaltjie oorwinning in die volgende ronde van die Louis Trichardt Krieketklub se 20-beurt liga.

Die Drillers se kolwers kon maar net nie aan die gang kom nie, met die eerste drie paaltjies wat geval het vir ‘n bydrae van 12 lopies. M Parkin op nommer vier het dapper probeer om die telbord aan die gang te hou met ‘n bydrae van 11 lopies, maar hy is skoon geboul na 14 balle. Met ses paaltjies plat het die kolwers slegs 26 lopies aangeteken, en dit het baie druk op die middel- en stertkantkolwers geplaas. Stephan Otto en Ruben van der Nest, in op nommer sewe en agt, het albei 10 lopies vanaf onderskeidelik 16 en 7 balle aangeteken, terwyl Lukas Visser 12 lopies van 11 balle af gemoker het op nommer nege. Die span is egter uitgeboul in 16,2 beurte met die telling op 79 lopies.

Vir die Strikers het Dirk van den Berg geskitter met die bal. Hy kon spog met goeie syfers van vier paaltjies vir die verlies van slegs 16 lopies in sy vier beurte. Riaan Geber het twee paaltjies platgetrek vir die verlies van ses lopies in twee beurte, terwyl Paulo Piorek, JP Coetzee, Ettienne van Heerden en Amaris Nortjé elk een paaltjie ingeoes het.

Dirk van den Berg het ook met die kolf uitgeblink as Strikers se beste kolwer. Hy het as openingskolwer 50 lopies aangeteken van 41 balle, wat ses viere ingesluit het. Die Drillers het egter verskeie vangskote vanaf Van den Berg se kolfwerk verbrou, wat in ‘n groot mate tot hulle ondergang bygedra het. Van Den Berg het op ‘n nie-uit telling geëindig. Hy is goed ondersteun aan die ander kant van die kolfkampie deur JP Coetzee, wat 20 lopies van 24 balle aangeteken het. Van den Berg het die wenlopies in 11,2 beurte geslaan met die telling op 08/1 in ‘n beurt waarin die Drillers 10 ekstras afgestaan het.

Die enigste bouler van Drillers wat ‘n paaltjie kon laat kantel, dié van JP Coetzee met die Strikers se telling op 68, was Sean Collett. Hy het geëindig met syfers van een vir 20 in drie beurte.

Eerskomende Saterdag sal geen wedstryd gespeel word in die plaaslike liga nie.

 

Sport - Date: 07 May 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: