ADVERTISEMENT:

 

Die Strikers het Sondag ‘n sewe-paaltjie oorwinning oor die Drilllers behaal en daardeur die Louis Trichardt Krieketklub se 20-beurt liga beklink. Afgeneem is die wenspan. Foto verskaf.

Strikers gekroon as wenners van 20-beurt liga

 

In ‘n aksiebelaaide naweek van krieket het die Louis Trichardt Krieketklub se plaaslike 20-beurt liga ten einde geloop. Die semi-finaal en finaal van die liga is onderskeidelik Saterdag en Sondag beslis.

In die semi-finaal Saterdag het die Toyota Vikings eerste gaan kolf in hul wedstryd teen die Strikers, maar die lopies het maar stadig gekom. Die eerste ses paaltjies het geval vir slegs 36 lopies, waarvan openingskolwers Louis van Jaarsveld en Craig Viljoen onderskeidelik 11 en 12 lopies bygedra het. Was dit nie vir Kobus Barkhuizen (jnr) wat op nommer sewe ingekom het nie, sou die Vikings vir ver minder as 100 lopies uitgeboul gewees het. Kobus het geëindig op ‘n nie-uit-nie telling van 53 lopies vanaf 40 balle in ‘n kolfbeurt wat vier viere en twee sesse ingesluit het. Die enigste ander kolwer wat dubbelsyfers vir die Vikings kon aanteken, was Bielie van den Berg (15), met die Vikings se beurt wat verstryk het met die telling op 132 lopies vir die verlies van agt paaltjies.

Dirk van den Berg was weereens in verwoestende vorm met die bal. Hy het drie plaatjies platgetrek vir die verlies van 23 lopies in sy vier beurte. Spanmaats Paulo Piorek, JP Coetzee en Riaan Geber het op hulle beurt elk een paaltjie ingepalm.

Dirk van den Berg het nie net met die bal uitgeblink nie. As openingskolwer het hy uiteindelik op ‘n nie-uit-nie telling van 49 lopies vanaf 46 balle geëindig. Sy kolfbeurt het ses viere en ‘n ses ingesluit. Etienne Hendriks en Johan van Rooyen, in op nommer twee en drie, het onderskeidelik 16 en 12 lopies bygedra, met JP Coetzee (nie uit nie) in op nommer vier wat 44 lopies aangeteken het vanaf 32 balle, in ‘n beurt wat ses viere en twee sesse ingesluit het. Die Strikers se goeie vertoning met die kolf het daartoe bygedra dat hulle die wenlopies in 18 beurte aangeteken het, met die telling op 133 vir die verlies van twee paaltjies, wat aan hulle ‘n agt-paaltjie oorwinning besorg het.

Te verstane was die Vikings se boulers almal bietjie aan die duur kant, met slegs Waldo van Deemter en Jandré Hancke wat kon spog met ‘n paaltjie elk.

Die Strikers het Sondag hulle goeie vorm voortgesit met beide die bal en kolf. Die Drillers het eerste ingestap om te gaan kolf, met AC Geldenhuys in op nommer twee wat goed begin het deur 56 lopies te slaan vanaf slegs 40 balle. Sy kolfbeurt het ingesluit sewe viere en twee sesse. Ongelukkig het die paaltjies aan die oorkant bly kantel. Ruan van Tonder (in op nommer sewe) het dapper probeer wal gooi met ‘n vinnige 49 lopies vanaf 35 balle (ses viere en een ses), maar ná sy vertrek het dinge nog net verder uitgerafel vir die Drillers. Alhoewel die span nie uitgeboul is nie, kon hulle slegs 147 lopies vir die verlies van agt paaltjies in hul kolfbeurt aanteken.

Vir die Strikers was dit hierdie keer JP Coetzee wat geskitter het met die bal. Hy het drie paaltjies ingeoes vir die verlies van 23 lopies in sy vier beurte. Spanmaat Etienne van Heerden spog met twee paaltjies vir die verlies van 13 lopies in twee beurte, terwyl Paulo Piorek, Riaan Gerber en Johan van Rooyen elk een paaltjie kon neem. Die gevaarman Dirk van den Berg kon hierdie keer nie een paaltjie vat nie.

Van den Berg het ook nie so goed gevaar met die kolf soos die vorige dag nie. As openingskolwer is hy vir bietjie minder as ‘n lopie per bal redelik goedkoop uitgehaal vir 17 lopies vanaf 18 balle, wat slegs een vier ingesluit het. Hierdie keer sou dit Etienne Hendriks wees, in op nommer twee, wat die grootste skade met die kolf  aangerig het met ‘n blitsige 59 lopies vanaf 42 balle. Dit het ingesluit agt viere en twee sesse. Hy is goed ondersteun deur spanmaat Johan van Rooyen, in op nommer drie, met 28 lopies vanaf 22 balle (drie viere en een ses), terwyl JP Coetzee (16 van sewe balle af) ook daarin kon slaag om dubbelsyfers aan te teken. Die Strikers het die wenlopies in die 15de beurt geslaan en geëindig met ‘n telling van 148 vir die verlies van drie paaltjies, wat aan hulle ‘n sewe-paaltjie oorwinning in die finaal van die liga besorg het.  Dit was ook net gepas dat die liga se beste kolwer en beste bouler afkomstig was uit die twee spanne wat in die finaal teen mekaar te staan gekom het. AC Geldenhuys is aangewys as beste kolwer, terwyl Dirk van den Berg weggestap het met die trofee as beste bouler.

 

Sport - Date: 10 June 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: