ADVERTISEMENT:

 

Die 54-jarige Casper Venter (regs) en mede-deelnemer Carlo Gonzaga, afgeneem by die eindpunt van vanjaar se moordende Freedom Challenge in Wellington in die Kaap. Hulle vertoon met trots die Basotho-komberse oor hul skouers - al prys wat voltooiers van hierdie uitdaging ontvang. Foto verskaf.

Koue en maaggogga nie genoeg om Casper te stuit nie

 

Hy het nou wel nie sy mikpunt van 15 dae gehaal om vanjaar se Freedom Challenge te voltooi nie, maar vir avonturier en mediese dokter Casper Venter van Louis Trichardt sal sy tweede deelname aan hierdie moordende uitdaging hom weereens bybly as ‘n ongelooflike ervaring.

Die Freedom Challenge Race Across South Africa (Freedom Challenge) oor ‘n afstand van 2 150 km word gereken as een van Suid-Afrika - indien nie die hele suidelike Afrika nie – se taaiste bergfietswedrenne. Die eerste groep bergfietsryers het reeds Maandag, 21 Junie, in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal weggespring, met die wedren wat 26 dae later by Wellington in die Wes-Kaap geëindig het. Die 54-jarige Casper, wat in 2012 die eerste keer aan die wedren deelgeneem het, het op 1 Julie weggespring. Moeg en sat gery het hy op Sondag, 18 Julie, Wellington binnegery om die wedren in 17 dae en agt ure te voltooi.

“Op die ou einde is jy bevoorreg om toegelaat te word om klaar te maak. Vyftien dae was ‘n vae idee. Dit sou nice gewees het, maar die ding en die ervaring van die uitdaging is soveel groter dat dae jou nie regtig pla nie. Ek het in ‘n stadium besef dit gaan nie werk nie, en dit was dit,” het Casper gesê.

Die ding wat Casper die meeste tyd gekos het, was toe hy ‘n maaggogga opgetel het net verby die halfpadmerk by Damsedrif net anderkant Baviaanskloof. Hier het hy amper ‘n dag-en-‘n-half se trap verloor om te herstel voordat hy weer kon verder trap.

Casper was een van slegs 36 ryers van die aanvanklike 55 ryers wat weggespring het om die uitdaging suksesvol te voltooi. In totaal het 35% van deelnemers onttrek, met slegs twee vroue wat die 2021 uitdaging suksesvol kon voltooi. Die uiterse koue het vanjaar ‘n groot rol daarin gespeel dat soveel deelnemers onttrek het.

“Dit was ongelooflik koud gewees. Ek het nog nie die gevoel in my tone en vingerpunte terug nie. Dit was die heeltyd koud. Veral in die vroeë oggendure was dit erg … Dit is lastig as jy 04:00 in die pad val en dit is -18°C. Jy trek alles aan wat jy het, maar jy kry nog steeds koud, veral jou hande en voete. Jou waterbottel vries solied, so jy kan nie water drink nie.  Maar dit is maar deel van die uitdaging … dit is koud, maar jy oorleef – jy moet net aanhou trap!” het Casper gesê.

Vanjaar se uitdaging is gedurende die eerste week ook gekenmerk deur sterk kopwinde wat vordering nog moeiliker gemaak het vir die deelnemers. Die hoeveelheid meters wat jy elke dag moet klim is egter wat deelnemers vang. Oor die totale lengte van die wedren klim fietsryers ‘n totaal van 33 kilometer en dit is nie ongewoon om tussen 3 000 en 4 000 meter per dag te klim nie.

“Almal kyk na die afstand, maar as jy die eerste dag 200 km wil doen, doen jy 6 000 meter se klim. Dan moet jy nog aangaan. Die eerste deel deur die Oos-Kaap het baie berge. Dit is die Drakensberge, en dan is dit die Maluti-berge – daar is net nie ‘n easy day in die Freedom Challenge nie. Elke dag moet jy ten minste ‘n 100 km doen, verkieslik 150 km. So, die verskil om die wedren in 17 dae of 14 dae te doen, klink nie baie nie - net drie dae, maar jy moet baie ander dinge doen om dit reg te kry. Jy gee baie prys. Jy sosialiseer met niemand nie, jy slaap baie minder, jy moet in die nag navigeer, nie wegraak nie en die koue trotseer. So, soms is dit ‘n besluit wat jy neem. Is dit vir jou so belangrik om by 15 dae uit te kom?” het Casper gesê.

Maar ten spyte van die strawwe klim en moeilike weersomstandighede wat vanjaar se uitdaging gekenmerk het, meen Casper hy sal die ervaring vir niks verruil nie. “Ek is baie gelukkig met die uitkoms gewees – om lewendig klaar te maak,” lag Casper. Hy sê hy was verbaas oor die vernuf wat hulle deurlopend aan die dag moes lê om hulle fietse op die pad te hou. “Veral die eerste week. Daar is geen paaie nie. Jy ry op sulke bokpaadjies. As jy daar val, gaan jy vir jouself lelik seer maak. En dit is konstant moeilik – elke dag …  Maar jy gaan in ‘n roetine in … As jy ‘n dag of twee uit die wedren is, is dit baie moeilik om weer in die roetine in te kom. Na my maaggogga het ek maar gesukkel om weer in die roetine in te kom,” het Casper gesê.

So van sukkel gepraat: Casper het wel genoem dat hy hierdie keer bietjie moeiliker getrap het. “Ek dink ek het meer gesukkel as laas op party plekke. Ek weet nie hoekom nie! Andersins het dit weer beter gegaan op ander plekke. Ons navigasie was goed en ons het nie vreeslik verdwaal nie. Ons het die moeilike plekke ge-nail, soos Aasvoëlberg, Mordor, Stettynskloof … Ek het gelukkig ‘n goeie geheue gehad van my vorige keer af, so dit het goed gewerk,” het Casper gesê.

Een van die unieke eienskappe van die jaarlikse Freedom Challenge is dat geen pryse of prysgeld op die spel is nie.  Al “prys” wat jy ontvang by die eindpunt is ‘n Basotho-kombers. Ontvangers van die kombers staan bekend as The Clan of Blanket Wearers. Ander praat weer van The Coveted Blanket.

Casper het nou sy tweede kombers ontvang. “Daardie kombers was ‘worth its weight in gold’. Jy werk hard vir hom! Martin Dreyer [uithou-atleet] sê ‘Giving up is not an option until they put you in an ambulance’. So, om op te gee, is nie ‘n opsie nie,” het Casper gesê.

Skaars terug van die Freedom Challenge kyk Casper reeds na sy volgende uitdaging. “Dalk dié keer iets anders. “Uitdagings soos hierdie is mos maar deel van my,” het Casper gesê.

 

Sport - Date: 30 July 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: