ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike sterkman Leon le Roux (regs) wat die afgelope naweek algeheel derde geëindig het tydens die Arnold Sport Festival sterkmankompetisie in Centurion. Die kompetisie is gewen deur Lourens van Schalkwyk (links) met Nico Opperman (middel) in die tweede plek. Foto verskaf.

Leon laat jongelinge sweet vir top podiumplekke

 

Plaaslike sterkman Leon le Roux van LMB Makhado buite Louis Trichardt het die afgelope naweek ‘n paar jonger manne ore aangesit deur algeheel derde te eindig tydens die Arnold Sport Festival sterkmankompetisie wat by die Valhalla bofbalklub in Centurion aangebied is.

Die 48-jarige Le Roux het deelgeneem in die 105 kg kategorie. “Ek was die enigste Meester en moes deelneem teen die jong manne. Ek was 18 jaar ouer as die oudste jong atleet. Ons was agt atlete in ons groep,” het Le Roux gesê.

Soos genoem het Le Roux ‘n algehele derde plek gekry. “Die stryd om die eerste drie plekke was taai gewees,” het Le Roux gesê. Hy het aan vyf items deelgeneem. Die eerste daarvan was die klipgooi. “Dit was ‘n 15 kg klip wat jy moes kyk hoe ver jy hom kon gooi. Ek het die item gewen,” het Le Roux gesê.

Tweede was die Kettle Bell gooi. “Dit is agt gewigte van 12 kg tot 30 kg wat jy oor ‘n 4m dwarslat moet gooi. Ek het die item ook gewen,” het Le Roux gesê.

In item drie moes Le Roux ‘n kar vier keer rol binne 60 sekondes. Hier het hy derde geëindig. Volgende aan die beurt was ‘n dra-wisselslag. “Dit het bestaan uit drie vaatjies en twee sementballe. Vaatjie een was 60 kg, vaatjie twee 80 kg en die derde vaatjie 100 kg. Die twee balle was 100kg elk. Die voorwerpe was in ‘n kring geplaas, elkeen 15 meter weg. Jy het 75 sekondes gehad om al vyf items in die kring te gaan sit. Dit het goed gegaan tot ek my eerste bal in die kring gesit het. Die bal het uit die kring uit gerol en ek het dit nie gesien. Eers toe ek die tweede bal optel het die een beampte my gesê die bal is uit die kring uit. Ek moes toe eers terug hardloop en die bal gaan terugsit en toe weer teruggaan om die ander bal te gaan haal. Toe ek hom weer optel, was my tyd verstreke en ek het derde geëindig,” het Le Roux gesê. Hy is daarvan oortuig dat as die bal nie uitgerol het nie, sou hy ook dié item gewen het wat heel moontlik aan hom ‘n eerste plek in beide die kompetisie en sy klas sou besorg het.

In die laaste item moes Le Roux ‘n 70 kg gewig met een hand en arm bokant sy kop uitdruk. Hier het hy tweede geëindig.

“Op die einde van die dag het ek eerste plek met 2,5 punte gemis en 2de plek met 1,5 punte. Ek is baie tevrede met my derde plek, siende dat dit saam die jong manne was en die gewigte swaarder is as die Meesters groep. Glo my dat ek die manne laat sweet het vir hul eerste en tweede plekke. Hulle het dit verseker nie op ‘n skinkbord gekry nie,” het Le Roux ná afloop van die kompetisie gesê.

Le Roux was vol lof vir die puik wyse waarop die kompetisie gereël is. “Soos gewoonlik was my vrou [Marihan] aan my sy en met ‘n hees-geskreeude stem. Sy is baie trots op my, veral omdat ek dié keer geen beserings opgedoen het nie. Baie dankie vir my vrou en haar suster, wat net vir die dag van Coligny deurgery het Pretoria toe vir ondersteuning. My vrou is ‘n ware steunpilaar en motiveer my baie,” het Le Roux gesê.

Vir Le Roux is sy puik prestasie die afgelope naweek bitter soet. “Ek kan ongelukkig nie my droom vervul om in November Amerika toe te gaan vir die World Strongman Games nie as gevolg van finansiële redes. Dit is eenvoudig net te duur. Ek kan ook nie Africas gaan doen in November nie. Dit word dié jaar in Mosselbaai gehou. Ek kan ongelukkig ook nie dit bekostig nie,” het Le Roux gesê.

Te midde van die slegte nuus is daar wel goeie nuus, nie net vir Le Roux nie, maar die hele Soutpansberg. “Daar is darem goeie nuus vir Louis Trichardt vir 2022. Die Africa Strongman Union het my gevra om die SA Sterkman Kampioenskappe volgende jaar in Louis Trichardt te onthaal. Ek wag net vir die datum en dan sal ek met die reëlings begin. Dit sal gehou word onder die vaandel van Paul's Body Shop op LMB Makhado,” het Le Roux gesê. Hy het bygevoeg dat dit blootstelling sal gee aan alle sterkmanne in Limpopo en enige persoon sal kan inskryf. “So, Louis Trichardt, maak reg vir SA Sterkman 2022!” het Le Roux gesê.

 

Sport - Date: 01 October 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: