ADVERTISEMENT:

 

Die skare in die agtergrond se gesigsuitdrukking spreek boekdele. Ndima Manyuha van Hoërskool Louis Trichardt se eerste rugbyspan nael vir die doellyn in hulle Conway-dag kragmeting teen hulle opponente van Hoërskool Piet Potgieter. Triegies het die wedstryd 20-17 gewen. Foto: Anton van Zyl.

Conway-dag lewer weer fees van rugby

 

Louis Trichardt Rugbyklub het Saterdag, 12 Maart, weer gasheer gespeel vir die jaarlikse Conway Rugbydag en oudergewoonte het die dag weer ‘n fees van rugby opgelewer.

Toeskouers is op agt wedstryde getrakteer, met die eerste wedstryd, die o.14 seuns van Hoërskool Louis Trichardt teen Hoërskool Piet Potgieter, wat om 08:00 afgeskop het. Die laaste wedstryd het om 17:30 begin, toe die eerstespanne van Louis Trichardt en Letaba uitgedraf het.

Die dorp se derdespan het 14-12 teen Zimbabwe gewen, terwyl die Louis Trichardt Rugbyklub se tweedes naelskraaps 12-13 teen Musina verloor het. Louis Trichardt se eerste rugbyspan het hulle egter deur niks laat keer nie, met ‘n 28-13 oorwinning oor hulle opponente van Letaba.

Wat die skolerugby betref, het die manne van Hoërskool Louis Trichardt se o.14-span hul opponente van Piet Potgieter ‘n 30-0 loesing gegee. Triegies se o.15’s het ook hulle wedstryd gewen, met ‘n eindtelling van 5-0 op die telbord. Ook Triegies se 0.16-span het as wenners van die veld gestap met ‘n eindtelling van 15-12. Daarna het Triegies se tweedes egter met 5-12 teen Piet Potgieter verloor. Die skool se eerstespan het egter opgemaak vir die nederlaag en Piet Potgieter 20-17 geklop.

Terwyl die skool se rugbymanne sake by die Conway Rugbydag uitgespook het, het Hoërskool Louis Trichardt gasheer gespeel vir Piet Potgieter se meisieshokkie- en netbalspanne. Triegies se o.16-meisieshokkiespan het hul wedstryd 3-2 gewen, terwyl die skool se tweedes 1-1 gelykop speel teen ‘n gekombineerde span van Piet Potgieter bestaande uit eerstespan- en o.16-spelers. Daarna het Triegies se eerstes vir Piet Potgieter 4-1 afgeransel.

Triegies se netbalmeisies het glad nie teleurgestel nie. Die o.14A-span het Piet Potgieter 21-7 vermorsel en die o.14B’s het 8-3 gewen. Die o.15A- en B-meisies het ook nie teleurgestel nie, met eindtellings van onderskeidelik 12-11 en 12-8. Die o.16 meisies het ongelukkig hulle wedstryd 12-15 verloor. Die tweedes het die kompetisie kafgedraf en 18-1 gewen, waarna Triegies se eerstes hulle wedstryd 24-21 gewen het.

 

Sport - Date: 17 March 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

Email:

ADVERTISEMENT: