Twee van Hoërskool Louis Trichardt se onderwysers, die 62-jarige Johan van Dijkhorst en 57-jarige Jernay Mcleod, het Saterdag, 10 Augustus, gewys dat hulle geensins terugdeins vir ’n uitdaging nie met hulle deelname aan die moordende Trans Baviaans-bergfietswedren. Dié wedren word geag as een van die wêreld se taaiste enkelskof-wedrenne, met deelnemers wat die afstand van 230 km en sowat 2,500 meter se klim oor onherbergsame terrein binne 24 uur moet voltooi.
Johan en Jernay was deel van digby 800 fietsryers wat in spanverband aan die wedren deelgeneem het. Die wedren strek vanaf Willowmore oor Baviaanskloof tot by Jeffreysbaai. Fietsryers spring redelik laat die oggend om 10:00 weg, wat beteken dat ’n groot gedeelte van die afstand in die aand voltooi word. Die roete is nie gemerk nie en deelnemers moet met behulp van ’n kaart die roete uitwerk en by verskeie verpligte kontrolepunte stop. Spanne moet uit ten minste twee ryers bestaan en spanlede moet binne twee minute van mekaar klaarmaak.
|
|
Die 62-jarige Johan van Dijkhorst (links) en 57-jarige Jernay Mcleod (regs) kort voor die wegspring van die moordende Trans Baviaans-bergfietswedren die afgelope naweek.
Foto verskaf.
|
|
Johan en Jernay het gemik om die afstand onder 17 ure te voltooi, maar oor die eindstreep getrap in ’n tyd van 17:08:47. “Ons het tien minute verloor by die einde, nadat ons ‘n rigtingpyl by ’n draai nie in die donker raakgesien het nie,” het Jernay gesê. Gelukkig kon hulle weer hul pad vind.
Maar hoekom juis hulle twee? Beide Johan en Jernay is aktief betrokke by Hoërskool Louis Trichardt se bergfietsry-span en het aan die begin van die jaar besluit om geld in te samel vir die diens van die skool se “leen fietse” wat deur kinders gebruik word wat nie hulle eie fietse kan bekostig nie. Daarbenewens het die skool ook geld nodig gehad vir ’n nuwe sleepwa, aangesien die bestaande sleepwa waarmee die fietsryspan se fietse vervoer word al redelik gedaan is.
Volgens Johan sou hulle aanvanklik aan die ewe uitdagende Recce Raid oor 200 km en 5,000 meter se klim by Dullstroom in April vanjaar gaan deelneem, maar weens al die skool aktiwiteite en sport het hulle die vensterperiode om te oefen gemis. “Toe ons kyk, twee weke voor die Recce Raid, het ons nog nie eens 300 km gery nie,” het Johan gesê. Jernay het toe voorgestel dat hulle eerder die Trans Baviaans aanpak, wat hulle nie net meer tyd sou gee om te oefen nie, maar ook omdat dit saamgeval het met die huidige XCO-skoleliga waarin Hoërskool Louis Trichardt tans gemaklik voorloop.
Die duo het hard geoefen, want die Trans Baviaans is nou jou speelmaat nie. “Van daardie tyd af [kort voor die Recce Raid] het ons so 3,300 km se oefening ingekry,” het Johan gesê.
Nie Johan of Jernay het al voorheen die Trans Baviaans gery nie, alhoewel Johan vertel dat hy wel al die roete met ‘n motorfiets gery het. “Die eerste 100 km was, ons sal nie sê maklik nie, maar jy ry dit redelik vinnig. Jy moet eintlik seker maak jy ry jouself nie uit die wedren nie. Daar was by die 150 km-merk mense wat te vinnig en te hard gery het, en nie verder kon ry nie,” het Johan en Jernay gesê.
|
Die Trans Baviaans is nie jou speelmaat nie en beslis 'n uitdaging. Afgeneem is Johan by een van die vele waterkruisings en hindernisse wat hulle moes oorkom. Foto verskaf.
|
Die eerste 28 km van die wedren klim jy. Dan val die roete tot by Smitskraal by die 100 km merk. “Daarna slaan jy die berge, eers klein Baviaans, dan is daar die twee ‘Fangs’, waarvan die tweede die steilste is. Die meeste ouens stoot hom uit. Dan kry jy MAC, oftewel ‘the Mother of all Climbs’. Die klim is nie so erg nie, maar die terrein is baie erg,” het Johan gesê.
By MAC, die grootste kontrolepunt op die roete, word sop en brood aan die fietsryers uitgedeel en almal trek droë en warmer klere aan, want van daar val jy see se kant toe, die koue nag in. Johan en Jernay het reeds donker daar aangekom. “Ons het by MAC aangekom waar mense ‘stukkend’ op die grond gelê het. Hulle het so hard gery, dat hulle hulself by die 150 km merk uit die wedren uit gery het,” het Johan gesê. Dit, het hy bygevoeg, is hoekom so baie spanne nie die wedren kon klaarmaak nie. “Ons het van die begin af besluit om eerder terug te hou op die eerste 100 km,” het Johan gesê.
Dit was egter nie die klim en afstand oor die onherbergsame terrein wat Johan en Jernay se uithouvermoë getoets het nie. Die 37 km/h wind was aan die begin van die wedren hulle goedgesind, maar aan die einde van die wedren het die wind gedraai en hulle reg van voor getref. “Hy bring jou spoed af na 9 km/h. Ons het gebrul,” het Johan gesê. Jernay het bygevoeg dat hulle tot op die 180 km merk nog vasberade was om die wedren onder 17 uur te voltooi. “Maar toe slaan ons die wind, met nog sowat 50 km om te gaan,” het Jernay gesê, terwyl Johan bygevoeg het dat die wind hom twee keer die bosse ingedruk het.
Maar uiteindelik was die einde in sig en Johan en Jernay het oor die eindstreep getrap net ná 03:00 Sondagoggend in ‘n tyd van 17:08:47. Johan het die ervaring as ongelooflik beskou. “Dit was ’n ongelooflike ervaring en voorreg om dit te kon doen. Dit is nie maklik nie. Hy is moeilik en jy moet jou maat dra. Julle moenie baklei nie,” het Johan gesê. Vir Jernay was dit eweneens ’n ongelooflike ervaring. “Vir my was die laaste 30 km baie moeilik gewees en ek was baie tevrede met myself gewees om dit klaar te maak. Dit is ’n ervaring! Wat ook in ons guns getel het om klaar te maak en nie moed op te gee nie, was die groter doel [om geld in te samel vir hul skool se fietsryers] waarvoor ons gery het,” het Jernay gesê. Op ’n persoonlike vlak het sy ook gery om geld in te samel vir die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV).
Johan en Jernay se sin vir avontuur het dividende betaal en nie net het hulle nou geld om die leen-fietse te diens nie, maar ook genoeg om vir die skool ’n nuwe sleepwa te koop. Wat dit betref het hulle almal wat op welke wyse ook al finansieel bygedra het, bedank. “Ons wil graag spesiaal dankie sê aan Adriaan en Herman Meiring van Chilltemp Air Conditioning and Refrigeration, Thompson’s Motors, QPro van VKB en Water 2000,” het Johan gesê. Jernay het op haar beurt elkeen van die skool se fietsryers bedank wat met borglyste ook gehelp het om vir hulle geld in te samel. Sy het ook haar familie en vriende bedank wat vir die DBV geld gegee het.
|
Johan en Jernay se sin vir avontuur het dividende betaal en nie net het hulle nou
geld om die leen-fietse te diens nie, maar ook genoeg om vir die skool 'n nuwe sleepwa (bo) te koop. Foto verskaf.
|
Beide Johan en Jernay is nie gretig om so iets weer vinnig te doen nie, veral nie nadat hulle die wedren op “hardtail” fietse gery het nie. “...95% van die deelnemers het die wedren op ‘softtails’ gery. Talle ryers wat verby ons gekom het, het geskreeu: Respek vir julle ‘hardtails’!” het Jernay opgemerk. Intussen het sy en Johan ook vir dr. Casper Venter voorspoed toegewens wat eerskomende naweek ook die Trans Baviaans gaan ry saam met ’n vriend van die Kaap. Dieselfde roete sal gery word, maar daar is geen kategorieë of prysgeld nie.