Khosikhulu Makhado “Tshilwavhusiku“ Ramabulana, ook bekend as die “Leeu van die Noorde”, is Louis Trichardt se erfeniskomitee se vyfde “skat” in hul weeklikse skattejag-kompetisie
In die artikel The attempts by Makhado to revive the Venda Kingdom, 1864-1895 skryf Henry Mpahaya Nemudzevhade dat die koms van die Voortrekkers in die Soutpansberge in 1836 en 1848, onder leiding van Louis Trichardt en Andries Hendrik Potgieter onderskeidelik, saamgeval het met ‘n stryd om leierskap tussen Ramabulana en Ramavhoya. Ramabulana het die stryd gewen en sy familie se heerskappy oor die Venda volk verseker.
In 1848 word die Zoutpansbergdorp, later bekend as Schoemansdal, gevestig vanwaar daar gejag en handel gedryf is.
Ná Ramabulana se dood in 1864 het ‘n nuwe stryd om leierskap tussen sy seuns ontstaan. Davhana, oudste van die koning se nege seuns, was die natuurlike opvolger. Hy was egter nie gewild onder die koninklike raad nie, omdat hulle hom gesien het as ‘n diktator. In teenstelling met sy ouer broer, het Makhado die steun van die koninklike raad geniet en was geliefd onder sy broers. Hy was ‘n dapper man en het met die steun van Makhadzi Nyakhuhu en Khosimunene Mhadzie sy vader se troon opgevolg.
Makhado het sy oudste broer Davhana verdryf, wat hom by Luonde gaan vestig het, onder die beskerming van (die Goanese boer en handelaar) João Albasini. Die boere het die troonopvolging van Makhado teengestaan en die vyandige aanspraakmaking op die Venda troon van Davhana ondersteun.
Makhado het die koninklike vesting verskuif na Luatame, oftewel Hanglip, soos ons dit vandag ken. Die hange het sy paleis omring, vanwaar hy ‘n uitstekende uitsig gehad het oor enige naderende vyande. Die veewagterspos was by Tshirululuni, waar Louis Trichardt vandag geleë is.
Makhado het vanuit Luatame vir Davhana by Luonde aangeval. Davhana het met die hulp van Albasini die aanval suksesvol afgeweer. Dit het die gevoel van vyandigheid tussen Makhado en Davhana, asook tussen Makhado en die boeregemeenskap, versterk.
Makhado se visie was om die Venda-koningshuis uit te bou. Hy het verskillende ouderdomsregimente en weermagbataljonne op die been gebring. Die Manuavhata bataljon was gestasioneer by Tshino en was berug daarvoor dat hulle vreesloos en genadeloos was.
Die boere het ook hulle aktiwiteite uitgebrei en teen 1861 was daar al meer as 70 families gevestig by Schoemansdal. Die boeresetlaars wou hulle grondgebied uitbrei en het aangedring dat die Vendas belasting aan die regering betaal in die vorm van arbeiders en vee. Baie Vendas het ook die boere op hulle jagekspedisie vergesel en geleer hoe om vuurwapens te hanteer en het hulleself ook daarmee bewapen.
Die beskerming wat Davhana van die boere en Albasisni geniet het, asook die konflik oor grondeienaarskap, belastings en wapens het die spanning verskerp. President Paul Kruger het ‘n kommando na die Soutpansberge gelei wat Makhado moes kom omverwerp. Hy het nie geslaag in sy ekspedisie nie en het teruggeval na die dorpie Schoemansdal, wat onmiddellik ontruim is. Op 15 Julie 1867 het Makhado se impi’s die dorp aangeval en vernietig.
‘n Groep vrywilligers onder leiding van Stefanus Schoeman het teruggekeer na die gebied en sonder sukses probeer om die republikeinse gesag te hervestig. Dit is gevolg deur ‘n besoek van President M.W. Pretorius en kommandant-generaal Paul Kruger, maar ook dié vredesonderhandelings het misluk. Albasini het met die goedkeuring van die republikeinse regering die Ngoni en Swazi oorreed om Makhado te kom straf. Dit het ook misluk en Makhado het nog sterker uit die stryd getree.
In 1869 het Kruger, RA van Nispen en Kommandant DB Snyman, 80 Venda-hoofde bymekaar gebring om ‘n vredeskontrak met die regering te sluit. Makhado het dit geboikot en geweier om hom deur die samesprekings te laat bind.
Die 1872 het Duitse, en in 1875 Switserse, sendelinge sendingstasies in die gebied kom vestig. Hulle het opgetree as mediators in die voortslepende konflik tussen die Boere en die Vendas. Van 1877 tot 1881 het die Britte Transvaal geannekseer. Intussen het Makhado sy grond- en magsgebied uitgebrei en kleiner stamme by hom ingelyf.
In 1887 is Generaal Piet Joubert gestuur om Makhado se grondgebied vas te pen en hom te oortuig om belastings te betaal. Ook dié pogings was onsuksesvol.
Intussen is die regering se aandag afgelei deur ander, dringender sake en het Makhado se waaksaamheid ook begin verswak. “Makhado became obsessed with his achievements. His moral standards degenerated and he felt free to satisfy his longing for pleasures by leaving the royal residence,” lees ‘n uittreksel uit die boek The attempts by Makhado to revive the Venda Kingdom, 1864-1895. Dit het sy swakhede aan sy vyande uitgewys. Vroeg in September 1895 is Makhado vergiftig deur sy vyande en is oorlede op 11 September 1895. Makhado se dood het die hele Venda geskok. Hy het die historiese toneel in Venda vir meer as 31 jaar oorheers en deur sy leiding die Venda koningshuis herbou. “The warrior-King, Makhado Tshilwavhusiku Ramabulana’s exploits in defence of our land, our dignity and our well-being will forever remain etched in our proud history of resistance to colonialism,” het oud-President Nelson Mandela per geleentheid opgemerk.
Die standbeeld van Khosikhulu Makhado “Tshilwavhusiku“ Ramabulana is op 8 September 2005 onthul deur Premier Sello Moloto. Die standbeeld is voor die Toerisme Inligtingsentrum met GPS-koördinate 22:02:34.6 S en 29:55:01.8 O. Skattejagters moet van hulself ‘n foto (selfie) voor die standbeeld neem dan op die Erfeniskomitee se Facebook-blad ERFENISBEWARINGS- EN BEWUSMAKINGSKOMITEE: LOUIS TRICHARDT EN STREEK oplaai.