ADVERTISEMENT:

 

Met kontrakteurs wat Woensdag terug was op terrein het die hoop ontstaan dat die deel van Songozwistraat tussen die N1 en Groblerstraat ook spoedig voltooi sal word voor einde Junie, soos aanvanklik aangedui. Teen vroeg Woensdagoggend was die pad reeds weer ‘n stowwerige gemors.

Padprojek kry uiteindelik weer momentum

 

News  Date: 21 June 2024

 

Dat alles nie wel is wat betref die kontrak vir die opgradering van dele van Songozwistraat in Louis Trichardt nie, is duidelik. Konstruksiewerk is weke gelede al gestaak, tot groot frustrasie van motoriste en plaaslike sakelui wat noodwendig deurentyd die stowwerige gemors moet verdra. Wat ook duidelik was, was dat die Makhado Munisipaliteit doelbewus gesloer het om antwoorde aangaande die projek te verskaf.

Kontrakteurs het aan die begin van Mei sonder enige waarskuwing begin om Songozwistraat tussen Groblerstraat en die N1 in Louis Trichardt aan flarde te ruk. Munisipale woordvoerder Louis Bobodi sou later, op 8 Mei, uiteindelik by navraag bevestig dat die kontrak deur die Makhado Munisipaliteit hanteer word vir die opgradering van die pad.

Kort daarna is ook die besige Songozwistraat-kruising met Munnikstraat opgeruk vir herstel, maar baie gou is alle konstruksiewerk gestaak. Bobodi is gevra vir kommentaar oor waarom konstruksiewerk gestaak is en wanneer die munisipaliteit beplan om die projek te voltooi. Op 24 Mei het hy geantwoord dat konstruksiewerk nooit gestaak is nie en dat die kontrakteur bloot gewag het vir die uitslae vanaf die laboratorium oor die basislaag. Hy het bevestig dat die uitslae ontvang is en dat die kontrakteur spoedig weer met die projek sou begin. Bobodi het aangedui dat die voltooiingsdatum vir die projek, wat blykbaar ook die Munnikstraat-kruising insluit, steeds einde Junie sou wees volgens die aanvanklike beplanning.

‘n Week later kon steeds geen teken van die kontrakteur bespeur word nie. Intussen het die pad tussen die N1 en Groblerstraat in so ‘n stowwerige gemors ontaard dat sakelui omliggend tot die projek begin kla oor ‘n verlies aan inkomste weens die swak toestand van die pad en skade aan voorraad vanweë die stof. “Waar is die kontrakteur en by wie kan ons kla oor die stof?!” wou een ontstoke sake-eienaar weet.

Op 4 Junie is Bobodi weer gevra waarom die kontrakteur nie op terrein is nie. Hy is ook gevra wie die kontrakteur is wat aangestel is om die projek te hanteer en spesifieke tydskedules van wanneer die kontrakteur beplan om sekere fases van die projek te voltooi. Die koerant wou ook weet by wie en by watter munisipale departement inwoners kan gaan kla oor skade aan voertuie en voorraad vanweë die gesloer met die projek.

Drie weke later het die koerant steeds gewag vir ‘n antwoord van Bobodi af. Al antwoord wat ontvang is van hom, was op 5 Junie en 17 Junie, dat hy ook wag vir antwoorde. Dinsdag hierdie week is Bobodi weer gedruk vir antwoorde. In reaksie het hy bloot gesê dat die kontrakteur terug is op terrein en dat hy Woensdag sou begin met die herseël van die gedeelte van die pad tussen Groblerstraat en die N1 en die Songozwi/Munnikstraat-kruising. Bobodi is egter daarop gewys dat antwoorde op die ander vrae hierbo genoem ook afgewag word, waarop hy bloot sy kort verklaring van 24 Mei herhaal het.

Wat later sou blyk is dat die rede waarom Bobodi nie op navrae wou kommentaar lewer nie, ‘n betalingsgeskil tussen die Makhado Munisipaliteit en die kontrakteur is. Die koerant het intussen self vasgestel dat Silverwell Business Enterprise as kontrakteur aangestel is, met die terreinoorhandiging wat op 10 Mei plaasgevind het. Die totale waarde van die projek op die kontrakdokumente was R5,999,708.13, met voltooiingsdatum 28 Junie.

Met bietjie meer as ‘n week oor totdat die projek voltooi moet wees, is Bobodi weer gevra om antwoorde oor die projek te verskaf, wat hy toe wel Dinsdagmiddag gedoen het. Hy het ‘n vraag oor details van die betalingsgeskil tussen die munisipaliteit en die kontrakteur geïgnoreer en bloot gesê dat die beplande voltooiingsdatum van die projek steeds einde Junie is, soos aanvanklik aangedui. Volgens hom moes die betrokke dele van Songozwistraat nog net met teer herseël word.

Bobodi het ook bevestig dat Silverwell Business Enterprise wel die kontrakteur is, en dat Moseri Integrated Development as sub-kontrakteur die werk doen. Volgens Bobodi is die kontrakwaarde egter nie net minder as R6-miljoen rand nie, maar R5,5-miljoen. Wat klagtes oor die projek betref, het Bobodi gesê dat alle navrae hieroor aan die kantoor van die munisipale bestuurder gerig moet word.

Die goeie nuus is dat kontrakteurs feitlik klaar was met die herseël van die besige Songozwistraat-kruising met Munnikstraat teen 12:00 Woensdagmiddag. Gemeet hieraan het die hoop ontstaan dat die gedeelte van die pad tussen die N1 en Groblerstraat ook spoedig voltooi sal word voor einde Junie, soos deur Bobodi aangedui.

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.


Search for a story:

 

ADVERTISEMENT

 

Recent Articles

Vhutshilo's 'Mukololo' dinnerware embraces unique Vhavenda culture

News: 29 September 2024 By Maanda Bele

Vhutshilo Ramahanedza is making inroads in the business world with her range of dinnerware, which features a distinctive Vhavenda style. Her brand, Mukololo, meaning "princess" in Tshivenda, reflects Vhutshilo’s strong connection to her heritage and her goal of bringing traditional culture into everyday life.

Man digs well to try and secure water for community

News: 28 September 2024

Thonifhani Dzebu (25), from the water-scarce community of Tshifudi Tshikombole village in Limpopo, has taken bold action to secure water for his community by digging a well that is already more than 15 metres deep.

 

ADVERTISEMENT: