ADVERTISEMENT:

 

’n Skermgreep van “Profeet” Mudau se Facebook-blad kort ná die voorval, met foto’s van hom wat die uil vashou onder die opskrif: “Another victory in the name of Jesus. An Evil owl was caught during live service @Potter’s House Word Church Muduluni Village Ha-Kutama Limpopo Province”.

Pastoor en gemeentelede swaar gestraf oor dieremishandeling

 

News  Date: 17 October 2024

 

Die pastoor en drie lede van sy gemeente wat op kamera vasgelê is terwyl hulle ’n jong nonnetjiesuil “in die naam van Jesus” tydens ’n Sondagoggenddiens gemartel het, is Donderdag, 10 Oktober, swaar gestraf deur die Tshilwavhusiku-landdroshof.

Die klagte teen Pastoor Charles Mudau (wat homself as Profeet Mudau bekendstel) van die Potter’s House Word Church in die Muduluni-woongebied in die Kutama-gebied, spruit uit ’n insident wat plaasgevind het tydens ’n regstreekse uitsending van een van sy eredienste op Sondag, 16 Julie 2023.

Op dié dag het Mudau, saam met mede-gemeentelede Justice Makushu, Albert Mushiana, en polisie-konstabel Tshililo Mugada, ’n jong Westerse nonnetjiesuil buite die kerkgebou gevang en dit aan ’n “reinigingsritueel” onderwerp. Die uil is na binne geneem, waar Mudau en sy drie medepligtiges die dier gemartel het – eers met ’n hout stok en daarna deur sogenaamde salfolie en wonderwerk-sout oor die uil se kop en in sy oë te gooi. Die dier was duidelik in groot nood en het tevergeefs probeer ontsnap terwyl dit met geweld vasgehou is. Alhoewel die uil later vrygelaat is, was dit sigbaar beseer en het gesukkel om van sy mishandelaars weg te kom.

Die voorval is by die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) aangemeld, waarna senior inspekteur Lawrence Khodobo onmiddellik opgetree en ’n dossier teen Mudau en die drie medepligtiges saamgestel het. Klagte is gelê ingevolge die Limpopo Omgewingsbestuurswet, Wet 7 van 2003, en die Wet op Dierebeskerming, Wet 71 van 1962.

Wat daarop gevolg het, was ’n jaar lange regsgeding deur die plaaslike DBV om geregtigheid vir die jong uil te verseker. Die Nasionale Vervolgingsgesag het ook betrokke geraak, met staatsaanklaer Tula Bekwa wat die saak hanteer het. Die saak is uiteindelik verlede week afgehandel toe die beskuldigdes en die staat ’n pleitooreenkoms bereik het.

As deel van die ooreenkoms het Mudau en sy mede-beskuldigdes erken dat hul optrede op daardie dag verkeerd en onwettig was, met die bedoeling om die uil skade aan te doen. Hulle het ook erken dat hul optrede wreedheid teenoor diere verteenwoordig het, dat hulle geen wettige reg gehad het om die voël te vang of aan te hou nie, en dat hulle bepalings van sowel die Limpopo Omgewingsbestuurswet as die Wet op Dierebeskerming oortree het.

As straf is Mudau, Makushu en Mushiana elk gevonnis tot ’n boete van R35,000 of 24 maande gevangenisstraf op klagte 1 en 4 op die klagstaat. Die boete vir klagte 1, vir die besering van ’n dier ingevolge die Wet op Dierebeskerming, was R20,000, terwyl die boete vir klagte 4, vir die vang van ’n wilde of uitheemse voël sonder ’n permit, R15,000 beloop het.

Polisiekonstabel Mugada se saak is van dié van die ander beskuldigdes geskei om deur die interne prosesse van die Suid-Afrikaanse Polisiediens hanteer te word. Hy is gevonnis tot 40 uur gemeenskapsdiens.

Benewens die opgeskorte vonnis, wat slegs in werking sal tree indien hulle binne vyf jaar ’n soortgelyke oortreding pleeg, is Mudau, Makushu en Mushiana beveel om R22,500 aan die Louis Trichardt DBV te betaal om die vervolgingskoste te dek. Elkeen van hulle moet R7,500 in paaiemente betaal: R2,000 vir die eerste drie paaiemente en ’n laaste betaling van R1,500 teen Januarie volgende jaar. Hulle is ook verbied om in die toekoms enige wilde diere aan te hou of te versorg.

Ter verswaring van vonnis het staatsaanklaer Bekwa beklemtoon dat Artikel 24 van die Grondwet aan elkeen die reg gee op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie en dat die omgewing beskerm moet word vir huidige en toekomstige geslagte. Die Limpopo Omgewingsbestuurswet is ingestel om wilde en uitheemse diere te bestuur en te beskerm en om uitvoering te gee aan grondwetlike bepalings. Bekwa het benadruk dat omgewingswetgewing geen immuniteit aan godsdienstige, kulturele of tradisionele praktyke verleen nie. Sy het die optrede van die beskuldigdes as afskuwelik beskryf en gesê dit toon ’n totale minagting vir dierelewe.

Die pleitooreenkoms en vonnis was vir die Louis Trichardt DBV ’n bittersoet oorwinning, veral vir Khodobo, aangesien die finale lot van die jong Nonnetjiesuil onbekend bly. Nietemin het Khodobo dit as een van die strengste strawwe vir dieremishandeling nog deur plaaslike howe beskou.

Daar is wel ’n mate van troos vir Khodobo: “Die bereiking van ’n pleitooreenkoms toon dat hulle spyt was oor hul optrede,” het hy gesê. Dit is in versagting van die vonnis oorweeg, en die straf wat opgelê is, was die helfte van wat dit kon wees.

Alhoewel wetgewing soos die Limpopo Omgewingsbestuurswet en die Wet op Dierebeskerming bestaan, onderskat baie mense steeds die erns van dieremishandeling. “Ek hoop hierdie vonnis dien as ’n afskrikmiddel. ’n Vonnis lei tot ’n kriminele rekord, en in die geval van Mudau, Makushu en Mushiana is dit iets wat hulle vir die res van hul lewens sal dra,” het Khodobo gesê. Hy het bygevoeg dat die opgeskorte vonnis ook soos ’n swaard oor hulle sal hang vir die volgende vyf jaar.

In reaksie op die vonnis het die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV), advokaat Ivy Thenga, positief gereageer en die hoop uitgespreek dat dit ander sal ontmoedig om dieremishandeling te pleeg. “Ons moet verseker dat diere beskerm word teen skadelike menslike optrede en mishandeling,” het sy gesê. Thenga het ook die pogings van advokaat Bekwa en ander rolspelers geprys wat betrokke was by die suksesvolle vervolging, insluitend Khodobo, wat oor die jare talle veroordelings ten gunste van die plaaslike DBV bewerkstellig het. “Ons sal aanhou om geregtigheid na te streef en nie ophou nie,” het Khodobo bygevoeg.

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.


Search for a story:

 

ADVERTISEMENT

 

Recent Articles

Vhutshilo's 'Mukololo' dinnerware embraces unique Vhavenda culture

News: 29 September 2024 By Maanda Bele

Vhutshilo Ramahanedza is making inroads in the business world with her range of dinnerware, which features a distinctive Vhavenda style. Her brand, Mukololo, meaning "princess" in Tshivenda, reflects Vhutshilo’s strong connection to her heritage and her goal of bringing traditional culture into everyday life.

Man digs well to try and secure water for community

News: 28 September 2024

Thonifhani Dzebu (25), from the water-scarce community of Tshifudi Tshikombole village in Limpopo, has taken bold action to secure water for his community by digging a well that is already more than 15 metres deep.

 

ADVERTISEMENT: