ADVERTISEMENT:

 

Afgeneem tydens die oorhandiging van die Louis Trichardt Rotariërs se tjek aan die Soutpansberg Dorpswag en Louis Trichardt Plaaswag is, van links na regs, mnre. Wouter Meintjies (ondervoorsitter van die Louis Trichardt Plaaswag), Christo Snyman (voorsitter van die Louis Trichardt Plaaswag), Brian du Plooy (president van die Louis Trichardt Rotariërs), me. Nella Klynhans (voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag) en mnr. Danie Pita (direkteur van die Soutpansberg Dorpswag).

Rotariërs gee stryd teen misdaad reuse hupstoot

 

Die Soutpansberg Dorpswag en die Louis Trichardt Plaaswag het ‘n massiewe hupstoot gekry in hul stryd teen misdaad danksy ‘n skenking van meer as R100 000 vanaf die Louis Trichardt Rotariërs.

Die Rotariërs het ‘n bedrag van R106 789 (en 38 sent, om presies te wees) aan die dorp- en plaaswag geskenk vir die uitsluitlike doel van die aankoop van radio’s. Drie basisradio’s en 28 handradio’s is met die geld aangekoop. Twee van die basisradio’s is by die dorpswagkantoor geïnstalleer, terwyl die derde in die geborgde plaaswagbakkie geïnstalleer is. “Wat dit lekker maak is dat die dorpswag en plaaswag nou op hulle eie basisradio’s funksioneer. Voorheen was daar net een basisradio in die dorpswag se radiokamer. Dan het dit gebeur dat as iemand byvoorbeeld op die Beja-kanaal roep, praat hulle bo-oor die dorpswag kanaal. Nou het elkeen se eie kanaal en kan die radio-operateur dadelik sien wie inroep op die radio … die nuwe stelsel maak ons kommunikasiesisteem baie meer vaartbelyn,” het mnr. Christo Snyman, voorsitter van die Louis Trichardt Plaaswag, gesê.

Mnr. Brian du Plooy, president van die Louis Trichardt Rotariërs, het tydens die oorhandiging die belangrike werk wat die dorp- en plaaswag verrig beklemtoon; daarom die skenking. “Die geld is ingesamel tydens ons jaarlikse gholfdag spesifiek vir dié doel,” het Du Plooy gesê. In dieselfde asem het hy almal wat hul gholfdag ondersteun het, beide die breë gemeenskap en die gholfers, bedank. “Hulle het die skenking moontlik gemaak,” het Du Plooy gesê.

Uit die 28 handradio’s wat ontvang is, is 15 vir die dorpswag gegee en 13 vir die plaaswag.

“Die radio’s gaan hoofsaaklik aangewend word vir die reaksiegroep se lede. Uit hierdie reaksiegroep is daar ‘n taakspan saamgestel wat inskakel by die polisie se landelike veiligheidsplan, en die radio’s sal spesifiek hiervoor aangewend word,” het Snyman gesê.

Me. Nella Klynhans, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, en Snyman het hulle opregte dank uitgespreek teenoor die lede van die Louis Trichardt Rotariërs vir hulle skenking.

News - Date: 18 May 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: