Search for a story:

Depressie: Moenie wag nie, hulp is beskikbaar

News - Date: 07 September 2019

Written by: Andries van Zyl / Viewed: 522

 

Verlede maand het inwoners van die Soutpansberg saam met twee plaaslike families getreur wat geliefdes vanweë selfmoord aan die dood moes afstaan.

Vir baie is die onderwerp van selfmoord ‘n taboe waaroor nie gepraat mag word nie. Die dood van bekende plaaslike sakeman Vic Jacobs (54) en die 26-jarige Iyon de Necker het egter weer die kwessie onder die soeklig geplaas.

Iyon se pa, Anton, het ná sy seun se dood gesê dat hy nie skaam is om te sê dat sy seun selfmoord gepleeg het nie, ook nie dat hy aan ernstige depressie gelei het nie. Anton se oproep was gewees dat mense moet besef dat vandag se mense, veral jongmense, onder geweldige druk is om te presteer en dat die probleem van depressie ‘n realiteit is wat nie weggeredeneer kan word nie. Dit moet oor alle kleur- en geloofsgrense aangespreek word, het Anton gesê.

Anton se standpunt is deur talle inwoners ondersteun, sommige wat self ook deur selfmoord en die probleem van depressie geraak is. “Jy moet nooit vir ‘n persoon wat depressief is sê ‘Ruk jouself reg!’ of ‘Kom oor dit!’ nie. Mense moet besef dat daardie persoon in daardie stadium ‘n ongelooflike emosionele trauma beleef wat met groot deernis en liefde hanteer moet word,” het ds. Etienne van Staden, leraar van die NG Kerk Soutpansberg gesê. Vir baie mense is hul plaaslike leraar of pastoor die eerste stop wanneer hulle met depressie worstel.

Van Staden was ook van mening dat mense daadwerklik die kwessie van selfmoord moet aanspreek. “Medikasie is ‘n kruk, maar daar moet ook berading en gesprekvoering wees oor uitkomste. Mens moet ook die omstandighede aanspreek wat aanleiding gee tot depressie,” het Van Staden gesê. Hy het bygevoeg dat mense weer ‘n fyn aanvoeling moet kweek vir ander se nood.

‘n Groep vrywilligers wat sedert hul ontstaan in September 2012 al geweldig baie gedoen het om die nood van ander raak te sien, is die plaaslike Depressie Ondersteuningsgroep. Die groep funksioneer onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep (SADAG), met plaaslike verteenwoordiger Violet Prins.

Prins het gesê dat depressie definitief ‘n groot probleem is in ons plaaslike samelewing. Sy sê dat hulle ondersteuningsgroep tot drie jaar gelede 133 mense bygestaan en gehelp het. “Vir seker is daar mense wat ons skakel, ten minste eenmaal ‘n maand. Dit is meer oor Desember en met die wisseling van seisoene, veral van winter na lente. Gewoonlik het die persone wat skakel al ‘n poging aangewend om selfmoord te pleeg,” het Prins gesê.

‘n Ontstellende verskynsel is dat selfmoord volgens Prins “aansteeklik” is. “Gewoonlik as daar een is, is daar nog ‘n tweede of derde,” het Prins gesê. Volgens haar is die trauma in die hedendaagse samelewing die grootste faktor wat bydra tot depressie. Dit kan trauma wees wat deur misdaad soos ‘n motorkaping veroorsaak word, die verlies van ‘n geliefde, finansiële probleme of probleme binne ‘n verhouding. “Die probleem is, mense gaan nie vir berading nie. As enige vorm van trauma beleef word, moet daardie persoon gaan vir berading anders is daar ‘n definitief ‘n gevaar dat dit kan oorskakel in depressie,” het Prins gesê.

Prins sê daar is baie “simptome” van depressie waarvoor daar uitgekyk moet word. Dit sluit in dat die persoon van familie en vriende en uit die samelewing begin onttrek, daar ‘n verandering in sy of haar slaap- en eetgewoontes is, ‘n onvermoë om te konsentreer, verwaarlosing van persoonlike netheid, ‘n “nar” voorkoms, persoonlikheidsverandering en die misbruik van dwelmmiddels. “Sommige mense begin hul persoonlike besittings weggee. Ander dreig dat hulle gaan selfmoord pleeg en gewoonlik raak ‘n man fanaties oor hoë-risiko sport,” het Prins gesê.

Sy het egter gewaarsku dat hierdie “tekens” nie noodwendig ‘n aanduiding is dat iemand wil selfmoord pleeg nie. “Dit is wel ‘n aanduiding dat daar iets is wat pla en dat hierdie persoon fyn dopgehou moet word,” het sy gesê.

Prins het bygevoeg dat persone wat met depressie sukkel eerder vroeër as later moet vra vir hulp. “Ken jou siekte en kry soveel inligting daaroor as moontlik. Niemand gaan oorlog toe sonder kennis van sy vyand nie. Moenie wag nie. Moenie dat jou trots jou weghou van genesing nie. Hoe vinniger jy skakel, hoe vinniger kan ons help en ons probeer regtig dadelik help,” het Prins gesê. Sy het bygevoeg dat die anonimiteit waarmee hulle mense ondersteun en help ‘n groot bydrae lewer tot hul sukses as ondersteuningsgroep. “Baie mense wil nie hê mense moet weet hulle sukkel met depressie of het selfmoordneigings nie. Ons kan egter help. Met berading werk jy met die wortel van die probleem,” het sy gesê.

Prins het inwoners wat hulp nodig het versoek om haar so spoedig moontlik te skakel by 072 262 8646 of vir Elize Dercksen by 082 256 6423. “Daar is hulp beskikbaar en ons hulp is gratis. Vir ons is dit ‘n diens aan die gemeenskap,” het Prins gesê. In dieselfde asem het sy gevra dat as daar nog sielkundiges of psigiaters is wat hulle kan help, hulle haar asseblief moet skakel.

 

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

Recent Articles