ADVERTISEMENT:

 

Pa Donovan en ma Liezel Pennells saam met klein Marli. Foto verskaf.

Ma vertel van alleenpad met outistiese dogter

 

Vir Donovan en Liezel Pennells van Louis Trichardt is 2 April nie net maar nóg ‘n dag nie; dit is Wêreld Outisme Bewusmakingsdag. Deur na hulle verhaal te luister oor hulle dogtertjie Marli, en die deernis en ywer waarmee Liezel dit vertel, kan ‘n mens nie anders as om met nuwe oë na outisme te kyk nie.

Marli is op 12 April 2019 gebore. “Ons het op so 14-15 maande agtergekom dat daar iéts omtrent haar is, maar ons kon dit nie plaas nie. Ons kon nege van die tien tekens op ‘n Facebook-plasing afmerk. Die uitdaging hierna was om ‘n diagnose te bekom,” vertel Liezel. Die tekens waarna Liezel verwys, was ten opsigte van moontlik outisme.

“Omdat Marli nie op haar naam gereageer het nie, moes ons haar na ‘n oor-, neus- en keelspesialis neem. Hy het gesê dat ons kind stokdoof is. Hy het bloot ‘n skool vir dowes, asook ‘n beter mediese fonds vir kogleêre inplanting, aanbeveel,” vertel Liezel. Maar die spesialis se diagnose was verkeerd. Verdere gehoortoetse het bevestig dat niks met Marli se gehoor verkeerd is nie. Intussen het Ilanie Lee (plaaslike arbeidsterapeut) reeds op eenjarige ouderdom met Marli begin werk ten opsigte van lae spiertonus. Sy het die Pennellse verwys na dr. Madeleine Spies, ‘n psigiater in Polokwane, en op 31 Maart 2021 is Marli met vlak drie outisme gediagnoseer.

Outisme is ‘n neuro-biologiese ontwikkelingsversteuring wat deur sosiale kommunikasie en gedragsprobleme gekenmerk word en is moeilik om te diagnoseer. Hoe vroeër ouers die tekens van outisme kan herken en so ‘n kind gediagnoseer kan kry, hoe beter. Hulle is asosiaal, ervaar dikwels angs en het min of geen oogkontak nie. Hulle is sensitief vir klanke, lig, reuke, aanraking en teksture. Hulle verstaan nie liggaamstaal of emosies nie. Hulle kan obsessief wees oor ‘n sekere onderwerp en is gewoonlik heeltemal omvergegooi as roetine versteur word. Lae spiertonus en epilepsie kan ook verband hou met outisme.

“Marli het nie op haar naam gereageer of opdragte uitgevoer nie. Sy het verkies om alleen te speel in plaas van met maatjies, omdat sy sosiaal gesukkel het. ‘n Dogtertjie sal eerder kyk hoe ‘n pop se ogies oop en toe gaan as om werklik met die pop te speel. Hulle sukkel om hulle verbeelding te gebruik. Marli het onlangs eers begin goeie oogkontak maak – net vir kort rukkies; daar is niks mooier as daardie twee oë wat vir jou kyk nie.” vertel Liezel.

Liezel vertel dat sy en Marli eendag in ‘n plaaslike winkel was om inkopies te doen. ‘n Klompie mense het nader gestap om te kom groet en aan Marli te raak. “Elkeen het ‘n ander reuk en dra verskillende teksture klere. Daar was skerp ligte, mense, winkelreuke en musiek in die agtergrond. Marli was sensories heeltemal oorlaai,” sê Liezel. Marli het in ‘n meltdown ingegaan.

“Tydens so ‘n meltdown hou sy aan met huil - asof iemand haar verskriklik seermaak. Ek het op ‘n stillerige plek op die vloer gaan sit en my man gebel. Só ‘n meltdown hou tussen een en vier ure aan,” het Liezel gesê. Wat haar die meeste ontstel het, was toe ‘n ouer vrou verbyloop, haar in die oë kyk en sê: “Vandag se kinders het darem gehoorsame ouers; jy moet dit oorweeg om haar ‘n pakslae te gee.” Liezel het haar geantwoord dat Marli outisties is. “Daardie dag het ek besluit dat ek bewusmaking gaan doen vir outisme.”

Linda van Tonder is die dagmoeder wat voltyds na Marli omgesien het en nou nog in die middae na haar kyk. “Linda het ons al deur goeie en slegte tye bygestaan, sy en haar gesin het vir ons soos familie geword. Toe Marli vier jaar oud word, het ons na ‘n geskikte instansie begin soek waar Marli kon skoolgaan. Daar was niks in ons onmiddellike omgewing beskikbaar vir haar behoeftes nie,” deel Liezel.

Die gesin het dit ernstig begin oorweeg om uit die dorp te verhuis indien nodig. Al hulle ondersoeke en afsprake by moontlike instansies was onsuksesvol. “Ons het toe besluit om hiér te doen wat ons kan met wat ons het. Ons het ongelooflike werkgewers met baie begrip vir ons situasie,” sê Liezel.  

Die Pennellse se buurvrou, en ook ‘n ma van ‘n kind by Green Leaves Academic Wellness Centre, het voorgestel dat Liezel vir Lilla Shaw gaan sien. Ná ‘n twee-ure-lange afspraak was dit duidelik dat Lilla ‘n oplossing vir al hulle uitdagings gehad het. ‘n Toetsperiode van twee weke in Desember het almal se verwagtinge oortref.

“Ons het ‘n ander kind teruggekry,” sê Liezel. “Haar oogkontak het verbeter, sy verkeer sosiaal goed en sy neem deel aan sekere roetines van die skool. Almal is lief vir haar - kinders en personeel. Marli het die gawe gekry om mense se harte te steel … Ons is dankbaar vir Lilla en haar span - wat nie ‘n deur in ons gesig toegemaak het nie - vir soveel tyd, aandag en geduld met haar. Dit was reg onder ons neuse,” sê Liezel.

Liezel het besluit om op ‘n manier terug te gee en het self ingespring om donasies te kry – onder meer vir bande, verf, plaveisel en sand. Na-ure het hulle self die kinders se speelgrond opgeknap. Die kinders se gesiggies het opgehelder toe ‘n tweedehandse swaaistel en wipplank verkry is. Liezel het haarself voorgeneem dat sy meer moes doen. Sy wou ten minste ‘n jungle gym op die speelgrond kry. Terapeutiese speelgoed en -apparaat was ook noodsaaklik. Sy het elke moontlike roete gevolg om donasies te probeer kry.

“Ek het ‘n oproep van mev. Limpopo, Manani Botes, ontvang. Sy wou aan boord kom met die projek en het sosiale media hiervoor ingespan. Jakaranda 94.2 se Good morning Angels was volgende en Lilla Shaw het die onderhoud gaan doen saam met Manani en Martin Bester. ‘n Trampolien, opvoedkundige speelgoed en ‘n sensoriese swaai is geskenk en die jungle gym is afgelewer. Devine De Waal (Tiny) het kolwyntjies gebak en verkoop om fondse in te samel vir die sentrum - alles is uitverkoop! Ons wil graag dankie sê vir almal wat reeds donasies gegee het. ‘n Opvolgstorie met Good Morning Angels sal volg sodra alle donasies ingekom het,” sê Liezel.

“‘n Mens stap ‘n alleenpad met ‘n outistiese kind. Ons is geseënd, al is ons sirkel kleiner,” sê Liezel. Sy het haar dank uitgespreek teenoor Linda van Tonder, Lilla Shaw en span, Ilanie Lee, vriende, familie, werkgewers, kollegas en plaaslike dokters wat hulle bystaan, verstaan en aanvaar.

Liezel wil mense gerusstel dat hulp wel beskikbaar is vir jou kind wat op die spektrum is. “As jy jouself gaan oopmaak om alles te wees vir jou kind wat hy/sy nodig het, dan is dit ‘n baie mooi avontuur om op te wees. My kind is my heldin. Sy is die rede hoekom ek nooit sal ophou baklei vir wat reg is vir haar nie. Al wat ‘n mens vir jou kind wil hê, is dat hulle na ‘n plek toe kan gaan waar hulle aanvaar word, ingesluit word en met liefde en respek hanteer word. Ons wens vir elke ouer wat nie weet watter kant toe nie is dat hulle kind by ‘n Linda van Tonder tipe persoon of  by ‘n plek soos Green Leaves Academic Wellness sal kan uitkom,” sê Liezel.

 

News - Date: 30 March 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: