ADVERTISEMENT:

 

Van die kameras, nou toegerus met meer effektiewe Litium-batterye, wat aangebring is op strategiese punte en paaie in die Levubu-omgewing. Die oogmerk van die projek is om ‘n ekstra lyn van verdediging en veiligheid daar te stel vir die inwoners. Foto’s verskaf.

Kamera-projek weer volstoom aan die gang danksy gemeenskap

News - Date: 04 July 2024

 

Presies ‘n jaar gelede is inwoners van Levubu en omstreke gevra om Levubu Wes te ondersteun met hulle reeds bestaande kamera-projek. Die oogmerk van die projek is om ‘n ekstra lyn van verdediging en veiligheid daar te stel vir die inwoners van dié gebied, maar die bestaande stelsel het dringende opgradering nodig gehad.

Levubu Wes is ‘n maatskappy wat in 2016 gesamentlik deur die Bridelia Groep en Amana Boerdery gestig is. Die projek het behels die aanbring van geoutomatiseerde hekke en kameras op strategiese punte en paaie in die westelike deel van Levubu. Slegs gemagtigde persone het na-ure toegang tot hierdie paaie, terwyl die kameras hierdie paaie, kruisings en ander bekende brandpunte in die area vanaf 18:00 tot 06:00 via ‘n  beheerkamer monitor. Gekoppel hieraan is ‘n reaksievoertuig wat enige verdagte bewegings in die gebied vinnig kan opvolg.

“Die kerngedagte is misdaadvoorkoming en nie om die polisie se werk oor te neem nie. Ons hou rekord van die bewegings deur die nag en sedert ons begin het in 2016 het die verkeer in die nag deur Levubu met ongeveer 70% afgeneem. Ons het ook ’n groot verbetering gesien in die hoeveelheid avokado’s wat ons kon oes en mark toe stuur, veral die Lamb Hass kultivar wat laat geoes word. Voorheen het die avokado's geweldig deurgeloop onder diefstal,” het Lizelle Venter van Levubu Wes gesê. 

Een van die projek se grootste uitdagings was hoe om die kameras “aan” te hou tydens lang periodes van beurtkrag, asook gedurende die kroniese kragonderbrekings wat Levubu ervaar. Die kameras is aanvanklik met loodsuur-batterye toegerus, maar beurtkrag het sy tol geëis op dié batterye en hulle was gou totaal ondoeltreffend. Dit het weer vir misdadigers ‘n geleentheid geskep om op plase toe te slaan, aangesien hulle presies geweet het wanneer beurtkrag gaan plaasvind en wanneer die kameras se batterye pap was.

Verlede jaar se oproep om hulp was dus spesifiek vir die opgradering van die kameras se batterye. Die reaksie was oorweldigend en weer ‘n bewys van hoe ‘n gemeenskap met een gemeenskaplike doel kan saamstaan. Al die pale se kameras se loodsuur-batterye kon met nuwe en meer effektiewe Litium-tegnologie batterye vervang word.

“Dit is baie beter tegnologie en nie so sensitief vir al die kragonderbrekings wat Levubu beleef buiten die beurtkrag nie en dit hou ook baie langer as ons deur ‘n reeks bewolkte dae gaan sonder sonskyn. Sedert ons die pale se batterye omgeskakel het verlede jaar, het ons nog geen ‘down time’ op hulle gehad nie,” het Lizelle Venter van Levubu Wes gesê.

‘n Groot dankie het gegaan aan die borge van die kamera-pale (ses in totaal) se Litium-batterye, naamlik Grow Fresh Produce Agents, Houers Koöperasie, Water 2000, Laeveld Agrochem, Roto Carb, Dynamis Blouster, Mimi Greyling Rekenmeesters, Exec U Fruit Markagente, Compro IT en Amana Energie Oplossings. Amana Energie Oplossings het ook ’n gedeelte van die herleitoring op die berg se opgradering geskenk en nou kan die stelsel sowat ’n week aanlyn bly sonder sonskyn.

Vir meer inligting oor die projek, skakel Venter by tel. 082 853 8779 of Wiekus van der Walt by tel. 083 784 9964.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: