ADVERTISEMENT:

 

Die impak van die ongeluk het André Kock (inlas) se motorfiets aan flarde geruk. Sy valhelm is van sy kop afgeruk en dié is sowat 30 meter verder gevind. Foto verskaf.

Bid vir André

News - Date: 05 July 2024

 

Familie van die 44-jarige André Kock van Louis Trichardt het Woensdag gevra dat inwoners vir hom moet bid, nadat hy Vrydagmiddag, 28 Junie, ernstig beseer is in ‘n motorfietsongeluk.

“Maak nie saak wat die omstandighede is nie, ons glo nog steeds God se hand is in beheer. Ons sit al ons vertroue in die Here en ons dank Hom dat Hy sy hand oor André hou,” het broer Michael Kock Woensdagoggend gesê.

Die ongeluk waarin André beseer is, het net ná 17:00 Vrydagmiddag plaasgevind. Hy het gou gery om sy hamburgers, wat hy by die Dopperkuierkafee bestel het, te gaan afhaal. Pas het hy vanuit Rissikstraat in Kroghstraat opgedraai, toe ‘n aankomende motor skielik voor hom ingedraai het. Die voertuig was in die teenoorgestelde rigting op reis en wou blykbaar by die nuwe Shell-vulstasie indraai.

André het weinig kans gehad om te reageer en het die voertuig op die passasiersdeur getref. Omstanders wat die ongeluk sien gebeur het, het dadelik gehardloop om André te help. Die impak het sy valhelm van sy kop afgeruk en dié is sowat 30 meter verder gevind. Sy motorfiets was aan flarde.

“Die motorfiets is afgeskryf. Wat hartseer is, is dat hy nie die versekering op die fiets kon bekostig nie en dit was sy enigste ryding,” het Michael gesê. Almal ken vir André en hoe lief hy vir sy motorfiets en motorfietsry is. Volgens Michael is hy ook sekerlik een van die Louis Trichardt Roadhogs Motorfietsklub se aktiefste lede.

André is nadat hy gestabiliseer is oorgeplaas na die Tshilidzini Hospitaal. Hy het kneusing op die brein opgedoen, asook ‘n lelike neusfraktuur. “Dank die Vader daar is nie bloeding op die brein gewees nie. Dit het ook gelyk of hy ‘n nekbreuk opgedoen het, maar dit was nie die geval nie,” het Michael gesê.

Vandat hy opgeneem is tot Maandag het Michael verskeie besoeke aan André in die hospitaal gebring. Alhoewel hy baie deurmekaar was en gesukkel het om te praat, was hy darem by sy bewussyn, iets waarvoor sy familie baie dankbaar was.

Dinsdagmiddag het Michael-hulle weer by André gaan besoek aflê. Groot was hulle skok toe hulle hom vind in ‘n toestand van ernstige asemnood. Hulle het dadelik alarm gemaak en hulp ontbied. “Dit was touch and go of hy was weg gewees,” het Michael gesê.

Nadat André se toestand weer gestabiliseer is, is hy oorgeskuif na die hospitaal se hoësorgeenheid, waar hy aan ‘n ventilator gekoppel is. Teen Woensdagoggend is sy toestand as stabiel bestempel. “Hulle hou hom egter onder sedasie, want hulle sê sy liggaam baklei teen die masjien en hulle wil hom kalm hou, sodat die masjien sy werk kan doen,” het Michael gesê.

Volgens Michael is dit nou ‘n kwessie van wag en kyk. “Nou is dit net geloof,” het Michael gesê.

Te midde van die ernstige wending wat André se mediese toestand geneem het, het Michael gesê hy voel dit is nodig om almal te bedank wat André en die familie op die toneel behulpsaam was. “Ek moet eerlik met jou wees - ‘n mens raak eintlik emosioneel daaroor as jy kyk hoe die ouens almal kom help het. Jy kan regtig nie een persoon uitsonder nie, want dit sal onregverdig wees,” het Michael gesê. “Ek gaan dus nie name noem nie, maar van ons familie se kant af wil ons aan elkeen wat daar was dankie sê. Dit was fantasties om te sien hoe mense wou help. Hulle was onmiddellik daar en het onmiddellik gehelp. Dit het mens net weer perspektief gegee en ‘n gevoel van absolute dankbaarheid,” het Michael gesê.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: