ADVERTISEMENT:

 

Wyle Willie “Attie” de Swardt (84). Foto verskaf.

Wyle Attie se humorsin en glimlag sal beslis gemis word

News - Date: 02 August 2024

 

Sedert die afsterwe van Willie, oftewel Attie de Swardt op 24 Julie vanjaar, stroom die huldeblyke in. Vriende en kennisse verwys na hom op Facebook as “die rustigste man wat ek ooit geken het”, “die man met ‘n ondeunde streep vir poetse bak”, “hy het ‘n groot indruk op my gemaak” en “Hy het ‘n hart van goud gehad”.

Willem Adriaan Frederik de Swardt is gebore op 2 Maart 1940 op Brandfort in die Vrystaat. Sy pa het vir die Vrystaatse Pad-administrasie gewerk en Attie het sy skoolloopbaan aan verskeie skole in die suide van die Vrystaat voltooi.

In 1965 het Attie ‘n B.Com rekeningkunde graad by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verwerf. Sy eerste betrekking was as junior rekenmeester by William’s Hunt motorhawe in Bloemfontein. In 1966 het hy by De Jager & Venter Ouditeure in Louis Trichardt begin, waarna hy ingeskryf het as ouditeursklerk. In hierdie tyd het hy ook vir Rina ontmoet en hulle is getroud op 7 Desember 1968.  In 1975 het hy begin werk by die Venda Ontwikkelingskorporasie (V.O.K.), waar hy deur die hele Venda klein besighede help vestig het. Hy het groot respek en waardering van die plaaslike gemeenskap ontvang. Sy vrou, Rina, onthou hoe passievol Attie sy werk gedoen het en almal altyd met respek behandel het.

Annette Scheepers, Attie se een dogter, vertel tong in die kies dat hy aan die einde van 1982 moes bedank by die V.O.K. omdat laasgenoemde nie vir hom “kraamverlof” wou gee nie. Haar ma was ver swanger met haar, Annette. In hierdie tyd het Rina hulp by haar besigheid, R&S Bouers, nodig gehad. “My pa was ook tesourier van die sakekamer en was ‘n sersant in die polisiereserviste. Die koop van die plaas in 2000 was ‘n lewenslange ideaal van albei. Dit was aanvanklik net ‘n naweekplaas met ‘n paar spekulasiebeeste. Blommetjie was die eerste melkkoei, wat my pa by oom Teddie Uys gekoop het,” sê Annette.

Attie en Rina het Safari Motors besit van 1988 tot 2002. Attie het deurentyd sy hulp verleen aan Rina se bouprojekte. In 2010 het hulle permanent na die plaas getrek. Annette vertel dat Safari Motors haar geleer het van lang ure se harde werk. “Ek het geleer wat uithou- en deursettingsvermoë beteken.”

Attie het gelewe vir sy vrou en sy kinders. Hy en Rina was onafskeidbaar van mekaar en saam was hulle ‘n formidabele span. Rina beaam dit. “Ek mis jou al klaar só baie. Die 56 Jaar wat ons getroud was, was te kort. Dankie dat jy my ruimte gegee het om my eie mens te wees. Saam het ons deur swaar en goeie tye mekaar ondersteun. Ek weet nie hoe ek sonder jou gaan regkom nie. Ek dank die Here vir die tyd wat ons saam kon wees,” sê Rina. Sy voeg by dat hy ‘n wonderlike mens en pa was. “Ek kon die Here nie vir ‘n beter man gevra het nie.”

Ná ‘n hartoperasie in 2013 het Attie wonderbaarlik herstel. In 2022 het hy eers longontsteking en toe hartprobleme ontwikkel. Die dokters was nie baie positief nie. Wéér het hy merkwaardig herstel. Sy dogter, Marina, sê: “Hy het teruggekom, sterk teruggekom. Hy het nooit gesê: ‘nee, jy kan nie’. Hy het altyd gesê: ‘kom ons kyk of ons dit kan doen’”.

In September 2023 het Attie sy heup gebreek en ‘n suksesvolle heupvervangingsoperasie ondergaan. Hy het egter vinnig begin verswak en is aan longontsteking oorlede.

Attie sal onthou word vir sy saggeaarde persoonlikheid en sy sin vir humor. Hy het altyd ‘n grappie gehad om te vertel en ‘n glimlag op sy gesig. “Hy kon die humor in enige situasie raaksien en mense opbeur,” sê Annette.

Marina beaam dat hulle pa ‘n verskriklike skerp humorsin gehad het. “Hy het graag gekgeskeer. Ek sal graag eendag so wil wees – met dieselfde humorsin. Die stories oor sy kindertyd sal ek nooit vergeet nie. Ons was baie naby aan ons pa gewees. Hy was ‘n rots, ‘n steunpilaar. ‘n ‘Go-to’ persoon. Hy was besonder slim, maar het gesukkel om inligting oor te dra!” sê Marina.

Attie was baie lief vir die natuur. Uitstappies na die wildtuin en Tshipise was volop – dit kon maklik oor ‘n naweek ingepas word. Hy het oor ‘n hond wat doodgaan gerou soos oor ‘n kind – só lief was hy vir hulle honde.

“My soet tand en groot liefde vir sjokolade het ek ook by my pa gekry. Sy kas was nooit sonder sjokolade nie en hy het dit maklik uitgedeel vir ontbyt – die beste ontbyt ooit!” sê Annette.

Annette vertel ook dat “Attie” die eerste woord is wat sy gesê het en dink terug aan hoe haar pa haar altyd op die heup gedra het. Haar en Marina se broer, Freddie, sê: “Attie. Ek gun jou jou rus. Jy was ‘n reus van ‘n man. Die skoene wat ek nou moet vol staan is te groot vir my. Attie, ek het nog só baie om by jou te leer. Ek was nog nie reg om jou te laat gaan nie ... Ons sal mekaar weer sien. Dankie Here vir die pa wat aan my geleen is vir 53 jaar.”

Die familie wil graag vir dr. Malan en die personeel van Crestcare Zoutpansberg bedank, wat vir Attie bygestaan het in sy laaste ure. “Ons wil ook vir dr. Badenhorst bedank wat sy dokter was die laaste paar jaar en hom met soveel simpatie behandel het.”

Attie word oorleef deur sy vrou Rina, sy drie kinders Freddie, Marina en Annette, sy twee skoonseuns, Frikkie en Herman, skoondogter Roelien en vier kleinkinders Herman, Michelle, Marna en Drian.

Attie se begrafnisdiens was Woensdag, 31 Julie, om 11:00 vanuit die NG Kerk, Stad op die Berg. Sy wens was om op die plaas begrawe te word.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: