ADVERTISEMENT:

 

'n Deel van die gevangenis se pyplyn wat herstel moes word. Foto: SACM.

Gaan Vhembe se beloftes so leeg bly soos die krane?

News - Date: 12 September 2024

 

Met Louis Trichardt nou al vir die derde agtereenvolgende week sit met droë krane weens die Vhembe Distriksmunisipaliteit (Vhembe) se onvermoë om water vanaf die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam na die dorp te pomp, was daar Woensdag darem weer ‘n belofte dat inwoners teen die naweek sal water hê. Inwoners is egter al daaraan gewoond dat Vhembe se beloftes meestal net so leeg is soos die dorp se krane.

Vhembe munisipale woordvoerder mnr. Matodzi Ralushai is gevra wat die jongste situasie was rondom Louis Trichardt en Tshikota se voortslepende waterkrisis. Hy het bevestig dat Vhembe die afgelope drie weke nog geen water na die dorp kon pomp nie weens kroniese probleme met lekke en pype wat bars.

Louis Trichardt se krane is sedert 21 Augustus al droog, nadat toevoer afgesny is weens ‘n lekkasie by die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam. Nog voordat water enigsins gepomp kon word, was daar weer ‘n probleem met ‘n gebarste pyp op 27 Augustus by pompstasie 3 op die hoof-toevoerlyn na die Mowkop reservoir. Alhoewel hierdie pyp herstel kon word, het verdere onderhoud aan die pyplyn verhoed dat daar weer begin kon word om water te pomp. Die afgelope week, het Matodzi Woensdag gesê, het skade aan een van hulle 400 mm toevoerpype verhoed dat water gepomp kon word. “Die pomp van water het Dinsdag hervat,” het Matodzi gesê.

Inwoners weet nie meer watter kant toe nie met Vhembe se onvermoë om ‘n diens te lewer, en die vraag word al meer en meer gevra hoe dié munisipaliteit nog bestaansreg kan hê met amptenare wat jaarlikse miljoene rande in salarisse trek, sonder enige teenprestasie? Opposisie partye is ook radeloos. Die dorp se benarde watersituasie het aan die begin van Augustus plaaslike DA-raadslid vir Wyk 8 Pierre Smalle genoop om direk aan die portefeuljehoof van die Departement van Waterwese in die Nasionale Raad, mnr. Leon Basson, te skryf en te vra om in te gryp. Ontvangs van sy skrywe is erken, maar tot op hede is nog geen terugvoer ontvang nie.

Verlede week het die bestuur van South African Custodial Management (SACM) se Kutama Sinthumule maksimum sekuriteitsgevangenis ook skerp uitgevaar teen Vhembe. Die gevangenis het aangevoer dat hulle die afgelope 10 jaar weinig indien enige water van Vhembe ontvang het. Tydens die bou van die gevangenis sowat 25 jaar gelede het die gevangenis op eie koste ‘n toegewyde toevoerlyn vanaf die Mowkop reservoir na die gevangenis gebou. Dié toevoerlyn is volgens die gevangenis onlangs deur regeringskontrakteurs beskadig. Ook uit radeloosheid dat die beskadigde pyplyn nie herstel word nie, het die gevangenis self ingespring om saam met Vhembe die pyplyn te herstel teen ‘n koste van R70,000. Hulle het ook mannekrag voorsien. Maandag is nog parte aangekoop deur die gevangenis en vir Vhembe gestuur om te help om die pype te herstel.

Die hartseer is egter dat Matodzi in antwoord op navrae oor hierdie hulp met herstelwerk nie eers wou erken dat hulle hulp van die gevangenis ontvang het nie. Hy het bloot gesê ‘n kontrakteur is aangestel om dit te doen. Wat die gevangenis se aantyging betref dat hulle al 10 jaar sonder water sit, het Matodzi bloot gesê dat hulle wel water kry, tensy iets verkeerd gaan.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: