ADVERTISEMENT:

 

Tans word deernisbokse by 80 bejaardes en 42 gesinne afgelewer. Dit sluit 36 kinders in. Foto: Argief.

Nood in streek neem toe, wys Bergcare se syfers

News in brief - Date: 01 December 2023

 

Dat die behoefte vir hulp in die Soutpansberg-streek aan die toeneem is, blyk duidelik uit die statistieke wat Maandagaand tydens Bergcare se jaarvergadering beskikbaar gemaak is. Dié diensorganisasie het die afgelope jaar bykans 2,500 hulppakkies aan bejaardes en families uitgedeel.

Bergcare is ‘n nie-winsgewende organisasie wat vanjaar al 10 jaar lank aktief in die dorp en omgewing betrokke is en gestig is om duplisering in hulpverleningsaksies uit te skakel en te probeer verseker dat alle persone in nood gehelp word.

Tydens Maandagaand se algemene jaarvergadering het die voorsitter, ds. Jan Pretorius, begin deur te beklemtoon dat Bergcare nie net voedsel en ander benodigdhede uitdeel nie, maar voortdurend assesserings doen om seker te maak dat nood werklik bestaan. Die assessering word met die hulp van ‘n maatskaplike werker gedoen.

Een van Bergcare se sleutelprojekte is die uitdeel van deernisbokse. Hierdie bokse word elke tweede Woensdag van die maand uitgedeel aan bejaardes en gesinne wat bystand nodig het. Tans word deernisbokse by 80 bejaardes en 42 gesinne afgelewer. “Dit sluit 36 kinders in,” het Pretorius gesê. Elke deernisboks bevat genoeg kos vir twee weke, asook produkte soos seep, tandepasta en sjampoe.

Die aantal mense wat daagliks by Bergcare se kantore aanmeld vir ‘n kospakkie het ook toegeneem. “Daar word daagliks aan tussen 30 en 50, hoofsaaklik werklose mans, ‘n kossakkie uitgedeel met kos wat nie gevries kan word nie,” het Pretorius gesê. Bergcare se koeponprojek het ook die afgelope jaar baie momentum gekry. In plaas van om geld te gee aan byvoorbeeld iemand wat op straat bedel, kan mense ‘n plakker of koepon gee, wat die persoon kan inruil vir ‘n bord kos by Bergcare. Die boekies met die koepons kan teen R200 vir 10 kaartjies aangekoop word.

Nog ‘n projek van Bergcare wat goed deur die streek se inwoners ondersteun word, is die Charity Shop. Die winkeltjie maak grootliks staat op skenkings vanuit die gemeenskap, wat items soos klere en meubels insluit. Die wins wat uit die verkoop van die goedere gemaak word, word weer ingeploeg in ander projekte van Bergcare.

Bergcare se Huis van Genade is ‘n ou woonhuis wat gebruik word as tydelike huisvesting vir individue en gesinne in nood - persone wat om een of ander rede nie huisvesting het nie en eers weer op hul voete moet kom. Die huis het vyf kamers wat vir dié doeleindes benut kan word. Streng vereistes geld vir inname, en persone wat hier gehelp word, word vooraf eers geassesseer deur ‘n maatskaplike werker.

In sy jaarverslag het Pretorius melding gemaak van verskeie projekte wat die afgelope jaar suksesvol aangepak is. Dit sluit die toebroodjieprojek by Louis Trichardt Laerskool in, waar kos aan 65 kinders verskaf is. Bergcare se herwinningsprojek help om die inkomste aan te vul, asook die kwekery.

Die ondersteuning van die gemeenskap was egter uitstekend. In Julie vanjaar het Hoërskool Louis Trichardt ‘n Mnr. & Mej. Triegie-funksie aangebied en daardeur meer as R50,000 ingesamel, wat aan Bergcare geskenk is. ‘n Motiveringspraatjie, met Brescia Bianco-Badenhorst as gasspreker, is aangebied en meer as R21,000 is ingesamel. Verder is verskeie kleiner fondsinsamelingsprojekte ook goed ondersteun.

Persone wat belangstel om betrokke te raak by Bergcare se aktiwiteite of die organisasie wil steun, kan die bestuurder, me. Melanie Denner, kontak by 082 9278215.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: