ADVERTISEMENT:

 

CP van Wyk (links) en Alan Gordon afgeneem ná afloop van die vyfde skof van vanjaar se Cape Epic.

CP fokus nou net op fietsry

 

CP van Wyk, oud-Triegie en ‘n boorling van die Soutpansberg, gaan hom vir die volgende jaar of wat voltyds op fietsry toespits. Hy en Alan Gordon van Tzaneen ry vir die Insect Science-span, wat as professionele fietsryspan geregistreer is. Alhoewel hulle fokus op bergfietswedrenne, sal CP en Alan eerskomende Saterdag in aksie wees by die Kremetart fietswedren.

CP en Alan het in Maart vanjaar vir die eerste keer kragte saamgespan en aan die Cape Epic bergfietswedren deelgeneem. Die Cape Epic is een van die strafste kompetisies op die internasionale bergfietskalender en lok die top name van regoor die wêreld. Dit word oor agt dae beslis en vanjaar se roete het gestrek oor net meer as 630 kilometer. Die Insect Science Pro-span het onder die top 10 Suid-Afrikaanse spanne geëindig, met ‘n algehele 35ste plek.

Die vertoning van CP en Alan by die Cape Epic het nie ongesiens verbygegaan nie. Insect Science, die spanborge, het die aanbod aan die twee fietsryers gemaak dat hulle professioneel moet ry. Vir CP, wat op Stellenbosch gestudeer het en ook daar begin werk het, was dit ‘n aanloklike voorstel. “Dit was ‘n geleentheid wat na my kant toe gekom het en iets wat my in staat stel om ‘n droom te verwesentlik,” het CP vroeër die week in ‘n telefoniese onderhoud gesê.

Die Insect Science-span se eerste toets as professionele span was vroeg in Mei vanjaar tydens die Gravel & Grape Extreme resies wat by Rawsonville in die Weskaap geëindig het. Hulle het algeheel tweede geëindig in die kompetisie en die laaste van die drie skofte gewen.

CP het hierna aan die Sani2C wedren oor drie dae deelgeneem wat in Scottburgh aan die suidkus geëindig het. Sy gewone spanmaat, Alan, was nie beskikbaar nie en hy het saam met Matthew Stamatis gery. Te midde van strawwe teenstand, wat top fietsryers soos Matthys Beukes en Philip Buys ingesluit het, het hulle algeheel tiende geëindig. Beukes en Buys, wat vir die Pyga-Euro Steel-span ry, het die resies gewen.

CP se volgende groot uitdaging is die SA Marathon Kampioenskappe. Dit vind op 29 Junie by Buffelsdrift plaas en word beslis oor 90 kilometer.

Hierna vertrek hy op ‘n reis na Europa waar hy beplan om op 21 Julie deel te neem aan die L’Étape du Tour in Frankryk. Dié fietsrit is ‘n nie-amptelike deel van die jaarlikse Tour de France en deelnemers kry die geleentheid om een van die skofte te ry wat die professionele spanne ‘n paar dae later aandurf. Vanjaar durf die fietsryers die 20ste skof aan, wat oor 135 kilometer strek vanaf Albertville en Val Thorens. Die skof eindig in die berge op ‘n hoogte van 2 365 meter bo seevlak.

Vir CP is die toer na Europa hoofsaaklik vir ontspanning, maar ook om te oefen. Hy gaan bietjie vakansie hou en kuier vir een van sy vriende in Brittanje, maar sien uit daarna om Frankryk te besoek en ‘n deel van die roete te ry wat die top fietsryers ter wêreld gaan aandurf. Die Tour de France begin op 6 Julie in Brussels en eindig op 28 Julie in Parys.

Die Insect Science-span se volgende groot uitdaging is die Magoeba Trek-resies wat vanaf 23 tot 25 Augustus in die berge by Magoebaskloof beslis word. Die resies word ook deur Insect Science geborg.

CP is baie optimisties oor die toekoms van bergfietsry in Suid-Afrika. Die internasionale arena word oorheers deur name soos Nino Schurter en Urs Huber van Switserland, maar daar is Suid-Afrikaners wat sterk na vore tree. Alan Hatherly en Matthew Beers het vanjaar algeheel vyfde geëindig in die Cape Epic en het al gewys dat hulle op internasionale standaard is. Dit kos egter baie oefening en toewyding om saam te kan gesels op daardie vlak, sê CP.

Vir die volgende week of wat kuier CP egter in die Soutpansberg by sy ouers op Levubu. Hy sal ook die geleentheid gebruik om te oefen op die roetes in die berg waar hy as jong seun leer bergfiets ry het.

 

Sport - Date: 08 June 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

CP van Wyk (links) en Alan Gordon in aksie tydens vanjaar se Cape Epic. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: