Search for a story:

Kameraadskap help Johan en JC oor die Cape Epic eindstreep

Sport - Date: 01 April 2022

Written by: Andries van Zyl / Viewed: 1424

 

Ons almal het op een of ander manier ‘n “emmerskoplysie” van dinge wat ons graag in ons leeftyd wil doen, maar min van ons verwesenlik ooit daardie dinge. Johan Furstenberg van Levubu en JC Young van Louis Trichardt is nie twee van laasgenoemde groep mense nie.

Vir die 48-jarige Johan en die 35-jarige JC was dit weliswaar een van die dinge op hulle “emmerskoplysie” wat hulle oortuig het om vanaf 20 tot 27 Maart as span deel te neem aan die moordende Cape Epic bergfietswedren en hulle name in die wedren se Book of Legends te skryf dat hulle dit voltooi het.

“Hierdie is ‘n wedren wat die verbeelding aangryp. Dit toets alles van jou, van jou eie fiksheid en geestesgesondheid, tot jou toerusting soos jou fiets en tegniese vermoëns,” het Johan Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê ná hulle terugkeer vanaf die Cape Epic. JC beaam dit en lag dat Johan goed geoefen het om vinnig uit te cleat, want (soos Johan self erken) sy “tegniese” vaardighede is nie sy sterkpunt nie, veral nie op die roete se uitdagende enkelbaan seksies nie.

Hierdie was nie Johan of JC se eerste ontmoeting met die Cape Epic nie, maar wel die eerste keer dat hulle fisies die wedren gery het. In Maart 2020 was hulle reeds in die Kaap om weg te spring, toe die boodskappe deurkom dat die wedren afgestel moes word vanweë die wêreldwye Covid-19 pandemie. “Ek het toe weer al die gewig opgetel wat ek verloor het in voorbereiding vir die wedren,” lag Johan.

Omdat hulle reeds ingeskryf en betaal het, het Johan-hulle se inskrywing outomaties oorgestaan na ‘n volgende Cape Epic, wat in Oktober verlede jaar beslis is. Johan-hulle was egter steeds skepties dat hierdie wedren sou plaasvind, weereens vanweë die pandemie, en het eerder besluit om in te skryf vir vanjaar se Cape Epic.

Wat deelname aan hierdie voorwaar epiese wedren betref, is voorbereiding alles. Maklik is dit nie en vanjaar se roete het die 520+ tweemanspanne tot die uiterste beproef oor ‘n afstand van 681 km en met ‘n totale klim van 16 900 meter oor agt dae. Die wedren het begin met ‘n opwarmingswedren oor 24 km op 20 Maart, gevolg deur sewe uitmergelende skofte oor die volgende sewe dae. Die Cape Epic word gereken as moontlik die beste bergfietsuitdaging in die wêreld en lok jaarliks die wêreld se top bergfietsryers en professionele spanne. Vanjaar was weer geen uitsondering nie.

“As jy hierdie ding aanpak, moet jy voorbereid wees. Jou huismense en personeel by die werk moet ook voorbereid wees. Niks is maklik van die Cape Epic nie en jy moet weet jou gesinstyd en werkstyd bly in die slag. Die hele wedren is ‘n strategiese, geestelike spel. Fiksheid stel dit net uit,” het Johan gesê.

Wat fiksheid betref het Johan en JC, so tussen die werk en huis deur, vir die afgelope sowat ses maande meer as 300 ure in die sal deurgebring, oftewel tussen 15 en 22 ure se oefening elke week. “Tyd in die saal is die belangrikste. Jou bene moet dit hê, maar meer belangrik moet jy saalfiks wees,” het Johan gesê.

Die groot dag het uiteindelik op 20 Maart vir Johan en JC aangebreek en hulle was bevoorreg dat hulle families daar was om hulle te ondersteun. Wat vir hulle gewag het was egter ‘n week van uiterste “beproewing”.

Volgens Johan en JC was die eerste twee skofte vir hulle die moeilikste. Skof 1 het deelnemers oor ‘n afstand van 92 km met ‘n klim van 2 850 m geneem, gevolg deur die tweede skof van 123 km en ‘n klim van 2 350 m. “Almal het op die eerste dag hulle fietse gestoot, self die pro-spanne. Ons het die middag weggespring op die eerste skof. Toe was die aanvoelbare temperatuur reeds sowat 47 na  48°C. Jy het nêrens gehad om af te koel nie. Enige iets wat soos koelte gelyk het, was toegepak met fietsryers. Een ou moes met ‘n helikopter afgevoer word hospitaal toe. Twee dae later is hy dood,” het Johan gesê. Die tragiese voorval het dit net weereens by hulle tuisgebring dat die Cape Epic nie jou speelmaat is nie. Skof twee was eweneens ‘n uitdaging en die organiseerders moes noodgedwonge ‘n uur bysit by die afsnytyd, het Johan gesê, om te verhoed dat te veel spanne uitgeskakel word. Van die 520 plus spanne wat aan skof een deelgeneem het, het net 474 dit voltooi.

Vir Johan was die tegniese aspekte van die wedren net “next-level”, soos hy dit noem. Die een seksie het hulle blykbaar “play day” genoem. “Maar daar was niks gespeel gewees nie. Dit was net kranse en afgronde,” het Johan gesê en bygevoeg dat sy remskoentjies oortyd gewerk het.

Vir JC was die moeilikste om elke dag 04:00 wakker te skrik en te besef jy het nog 2 500m plus se klim wat wag. “En dan was dit vir my die moeilikste om telkens daardie eerste 50km te ry,” het JC gesê.

Soos reeds vroeër genoem, is die Cape Epic grotendeels ‘n strategiese spel en het beide Johan en JC deurlopend met hulle gedagtes geworstel. “Jy vra jouself: Waarmee is jy besig? Dan sê jy dat dit nie sal snaaks wees om te stop nie, want baie het al gestop,” het Johan gesê.

As teenvoeter vir hierdie gedagtes het JC staat gemaak op hulle kameraadskap. “Ons het nie veel op die fietse gepraat nie. Sou jou maat begin om sterk te trap, dan begin jy sterker trap en so trek die een die ander een op,” het JC gesê. Vir Johan het dit ook gehelp dat hulle geen “verwysingsraamwerk” gehad het ten opsigte van ‘n vorige deelname aan die wedren nie. “Dit was ‘n voordeel vir ons. Ek het eerlikwaar nooit gevoel dat ek wil opgee nie,” het Johan gesê. Tog het beide hy en JC gemeld dat hulle teen dag vier ongelooflik seer was. “Maar ons het voor die tyd vir mekaar gesê ons ry om klaar te maak, nie vir ‘n plek nie,” het Johan gesê. Dit was juis hierdie strategie om hulle pas te reguleer wat hulle tot by die eindpunt gebring het.

En watter belewenis was dit nie om klaar te maak nie! “Dit is vir seker ‘n hoendervleis oomblik. Ek het myself voor die tyd trane belowe en sommer toe oor alles gehuil. Ek het ‘n diepe dankbaarheid dat ek dit kon doen, en dit was lekker dat my familie daar kon wees om dit met my te deel,” het Johan gesê.

Vir JC was dit ook ‘n groot oomblik. “Ek was amper hartseer die laaste 10 km dat ons klaarmaak. Ek wou stop en alles net ‘n oomblik inneem. Jy sien altyd op televisie hoe die pro-ryers die pylvak binnekom … dan besef jy, jy is ook daar,” het JC gesê.

Johan en JC het algeheel 283ste geëindig uit die 359 spanne wat uiteindelik die Cape Epic voltooi het. In totaal het hulle 50 ure en 54 minute in die saal spandeer. Op ‘n vraag of hulle dit weer sal doen, was JC pragmaties daaroor. “Ek is nie ‘n ‘sportiewe’ ou nie, daarom dat ek fietsry gekies het. Ek dink die Epic toets jou op ‘n ander vlak. As jy my laas week hierdie tyd gevra het, sou ek anders gevoel het,” het JC gesê. Hy het verduidelik dat ‘n spesiale toekenning by die Cape Epic gemaak word vir mense wat hom drie keer ry. As jy hom dus een keer gery het, en dalk ‘n tweede keer, sal jy hom beslis ‘n derde keer ry, net om die toekenning te kry.

Johan is ook nog nie heeltemal seker nie. “Ek kan nie nou al regtig vir jou sê nie. Dit is ‘n belewenis. Ek dink egter ek sal dit weer doen,” het hy gesê.

 

Vir die 48-jarige Johan Furstenberg (regs) van Levubu en die 35-jarige JC Young (links) van Louis Trichardt was dit weliswaar een van die dinge op hulle “emmerskoplysie” wat hulle oortuig het om vanaf 20 tot 27 Maart as span deel te neem aan die moordende Cape Epic bergfietswedren en hulle name in die wedren se Book of Legends te skryf dat hulle dit voltooi het. Foto verskaf.

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

Recent Articles