ADVERTISEMENT:

 

Stephan Gaigher (links) saam met Angel (middel) en Luis (regs) wat hom gehelp het om hierdie reënboogforel van meer as 10 kg te vang. Foto verskaf.

Kyk: Visvang gode beloon Stephan met monster reënboogforel

 

Die visvang gode was avonturier vlieghengelaar Stephan Gaigher van Louis Trichardt weereens goedgesind, met nog ‘n monstervangs wat hy kan doodtrek op sy emmerskoplysie.

Van kindsbeen af was Stephan se droom om eendag die Amasone te besoek. Dié droom was hom beskore en begin November het hy homself saam met sy vrou Lesley in die Amasone-kom bevind. Daar aangekom was die volgende item op sy wenslysie om ‘n monster arapaima met ‘n vliegstok te land. Dit het hy toe wel op 7 November reggekry toe hy ‘n 201 cm arapaima van 150 kg uitgetrek het. Ons het hieroor in ‘n vorige uitgawe berig. Hierna was Stephan se droom om een van die wêreldbekende Jurassic Lake in Argentinië se monster 10kg-plus reënboogforelle met ‘n vliegstok te vang.

So het dit gekom dat Stephan en Lesley (wat natuurlike net so lekker saam hengel en elke dan en wan vir manlief ore aansit met die vliegstok) hulle middel verlede week by die Jurassic Lake, oftewel Lago Strobel, bevind het. Net om dié vulkaniese meer in ‘n afgesonderde Argentynse deel van Patagonië te bereik, was ‘n ekspedisie.

Stephan vertel self dat die meer omtrent sewe ure se ry van enige noemenswaardige dorpe geleë is. “Die omgewing is weereens asemrowend. Dit is 'n dorre landskap wat herinner aan die Karoo. Die enigste groot diere hier is die Guanaco (‘n Llama-tipe dier), die Patagoniese vos en dan die poema. Mens ry vir ure deur hierdie landskap met sneeubedekte berge in die agtergrond, voor jy die ligblou water van die Strobel Meer sien,” sê hy.

Jurassic Lake, oftewel Lago Strobel, is ‘n vulkaniese meer in ‘n afgesonderde
Argentynse deel van Patagonië. Foto verskaf.

Stephan-hulle het oor ‘n tuisgemaakte bruggie die Baronkosa-rivier oorgesteek en by hulle “akkommodasie” aangekom by Estancia Lago Strobel, ‘n bees- en skaapplaas van bykans 38,000 ha. Hul verblyf was primitief, maar ‘n absolute belewenis! Hulle het saam met hulle gashere, Angel en sy vrou Miriam, in ‘n sinkhuis gebly, waar etes saam om ‘n groot tafel geniet is. Ook saam aan die tafel het die plaas se gauchos - regte Argentynse “cowboys” - gesit en saam geëet.

Te midde van die gasvryheid het die grotes in die meer vir Stephan gelê en wag. Dat dit nie so maklik sou wees om een van hierdie monsterforelle te land nie het gou duidelik geword. Die meer is normaalweg onderhewig aan sterk winde van tot 150 km/h of meer, wat met bittere koue gepaardgaan. Maar, soos genoem, was die visvang-gode vir Stephan goedgesind. “Ons het egter uitsonderlike goeie weer gehad. Die eienaars was elke dag verbaas oor die windstil-toestande en warm weer van toe 20° C,” sê Stephan.

Die windstil-toestande het egter die visvang ook bemoeilik, met die vis wat makliker beweging op die oewer kon waarneem. “Ons eerste uitstappie die oggend ná ontbyt was bietjie van 'n teleurstelling aangesien ons baie van die visvang verwag het, maar net een vis kon haak die hele oggend. Ons was onseker of die meer gaan aanbied wat ons verwag het,” sê Stephan. Die vangste daardie middag was nie veel beter nie.

Die volgende oggend het Stephan en sy gids van die kleiner mere rondom Strobel gaan probeer. Stephan het egter agtergekom dat sy gids ietwat onervare was en min hulp aangebied het. “Ek begin toe meer betrokke raak by my keuse van hengelgerei, en ná ure se YouTube-advies begin my geluk skielik draai. Ek vang een na die ander forel, en selfs Lesley spring in en vang ‘n handvol, met natuurlik weer die grootste vis vir die dag!” sê Stephan. Die vangste was egter aan die klein kant, met forelle van so 3 kg – nie die monsters waarvoor Stephan gekom het nie.

Van die “klein” reënboogforelle wat Stephan gevang het voordat hy op die einde van hulle laaste sessie op hulle laaste dag die 10kg-plus reënboogforel geland het. Foto verskaf.

Die middag van dag twee verfyn Stephan-hulle die nuwe tegnieke en stadig maar seker tel hulle vangste in gewig op, met vyf visse in die 4 tot 7 kg klas. Daardie aand is almal in ‘n goeie bui, maar Stephan besef dat die volgende dag hulle laaste dag langs die meer gaan wees.

Op dag drie besluit Angel, die plaas se baas, om saam met Stephan-hulle te gaan. Hy is volgens Stephan ‘n tipiese gaucho - gehard, fiks en entoesiasties, en stop sommer myle van die meer af. Dan verdwyn hy binne minute oor die horison, net om kort daarna weer sy verskyning te maak. “Pesche grande [groot vis] beduie hy met uitgestrekte arms. Ons klim 'n wit kalkkoppie uit saam met hom en loop op 'n nou paadjie om bo die water te kom. Ek kyk deur die helderblou water en sien net 'n boomstomp. Waar is die vis? Skielik begin die boomstomp beweeg. Ek kan my oë nie glo nie!” sê Stephan.

Die boomstomp was inderwaarheid die grootste forel wat Stephan nog ooit gesien het. “En toe begin ek ander ook raaksien. Soos duikbote patrolleer hulle stadig die rand van die water langs die koppie. My hande bewe terwyl ek die visstok regkry,” sê Stephan.

Sy eerste gooi is perfek en die Copper John-vlieg met sy byt-aanduider land so 1,5 m  voor die grootste van die forelle. Dié, sê Stephan, swem stadig nader en stop reg voor die vlieg. “My hart stop ook. Dan skud hy sy kop een keer, so asof om te sê dit is nie goed genoeg nie en swem verder. Weer en weer en weer gooi ek na talle visse in die trofee-klas, en almal ignoreer my,” sê Stephan.

 Lesley het ook ingespring en ‘n paar mooi forelle gevang. Foto verskaf.

Stephan probeer hierna alles in sy arsenaal van vlieë in sy vliegtassie. Selfs Angel gee later moed op en beveel aan dat hulle eerder aan die “Bay of the Old Women” moet gaan en daar probeer. In hierdie stadium is dit belangrik om te noem dat Angel en Stephan se visgids Spaans praat en dat Stephan-hulle glad nie kan verstaan nie. Kommunikasie tussen hom en die Spanjaarde geskiet deur middel van ‘n selfoontoepassing wat Engels in Spaans vertaal en vice versa.

So gesê, so gedaan en ‘n halfuur later bevind Stephan hom in die “Bay of the Old Women”. Stephan hengel op die een oewer, met Angel op die oorkantse oewer. “Die bodem van die meer is baie bedrieglik en kan vinnig in dryfsand verander, dus moet die gids vooruit ingaan om eers die bodem te toets met ‘n stok. Ons staan tot by ons middels in die water in geïsoleerde waders en spesiale stewels. Angel verloor een klein vis en ek het niks om te wys nie,” sê Stephan.

Stephan maak toe ‘n interessante waarneming. Nie ver van hom af nie, spring klein forelle kort-kort uit die water, so asof iets groot hulle jaag. “Ek kies 'n Streamer-vlieg wat bietjie soos ‘n klein vissie lyk. Vir omtrent ‘n uur lank gooi ek sonder sukses en vra die gids Luis om vir my die droë vlieë te bring. Terwyl ek vir hom wag, gooi ek nog ‘n keer en besluit om die terugtrek vinnig te doen met kort stoppe. Amper onmiddellik gryp 'n 5 tot 6 kg forel my vlieg. Ek gaan aan om nog vier te vang in daardie sessie met my nuwe tegniek,” sê Stephan.

Met die aanbreek van die laaste sessie op die laaste dag (8 Desember) is Stephan nog sonder sy trofee forel. Hulle gaan terug na een van die baaie waar hulle eerste die dag was. Weer probeer Stephan sy “visvlieg” en vang gou twee mooi forelle. Kort daarna begin die wind optel. Angel kom later en vang sommer met sy eerste gooi 'n mooi forel. “Die rand waarop ek werk, begin ophou produseer en ek stap terug. Ek begin nou koud kry! Ek sit ook 'n Wooly Bugger-vlieg aan soos Angel en gooi moeilik teen die wind,” sê Stephan. Ná 'n uur, so teen 19:30, vra ek vir Lesley hoe laat dit is. Ek is oorwin, koud en seer en wil huis toe gaan om my wonde te lek. Ek het baie mooi visse gevang, maar nie die trofee nie...” sê Stephan.

Terwyl Stephan vir Angel wag om aan te kom, gooi hy sommer so ‘n lui gooi hier voor in die water, en terwyl hy met Lesley staan en praat, trek hy sy lyn stadig terug. “Ewe skielik voel ek 'n geweldige pluk aand die lyn! Instink laat my kap en die vis is aan. Hy kom egter maklik in en is duidelik nie groot nie. Luis staan bo op die wal en kan beter deur die water sien. Ek sien hy trek weg soos 'n resiesperd vir die skepnet en skreeu op Angel: ‘Grande! Grande!’ Ek draai terug na die vis wat nou in die vlakwater is en besef hy is reg. Dit is 'n enorme forel! Sy weet nog net nie dat sy gehaak is nie,” sê Stephan.

Net daar sit Stephan bietjie meer druk op sy 3X-lyn, en daar trek die forel weg in volle vaart. “Sy vat al die vlieglyn en 'n goeie deel van die ondersteuningslyn. Nou is almal wakker. Luis en Angel gee dik raad in Spaans, wat ek niks van verstaan nie, maar die boodskap is duidelik - moenie hierdie een verloor nie! Die vis is te groot om te spring maar bring haar kop kort-kort uit die water, sodat ek kan sien ek verbeel my nie,” sê Stephan.

Ná nog ‘n paar senutergende hardloopsessies het Stephan die massiewe forel in die vlak water waar Luis haar kan skep. Die skepnet is byna te klein! Dit is duidelik 'n trofee. “Ek vra vir Angel of dit die 20-pond merk haal, en hy beduie 'goed oor'. Volgens hom die grootste vis sover vir die seisoen. Ek en Angel stap saam om die vis vry te laat gaan. Sy swem met een klap van haar stert weg in die blou dieptes in. Ware vissermanne ken hierdie gevoel, en dit is amper, amper, beter as om die vis te vang,” sê Stephan.

Ná die fotosessie besluit Stephan om nog ‘n paar gooie te maak, maar sy hart is nie daarin nie. Die grote is gevang. “Ek gaan sit op die kant by my vrou en verstaar ons net aan die ongelooflike prag van hierdie plek en haar juwele wat sy gekies het om met ons te deel. Dit is voorwaar 'n besonderse plek hierdie!” sê Stephan.

Die volgende dag pak die Stephan en Lesley op. Vandaar is hulle verder suid na Calafate, waarna hulle na Torres Del Paine sou gaan. Dit is salm-wêreld in die Rio Seranno. “Maar ek dink die visvang gode was ons genadig genoeg tot op hede. Van hier af hou ons net vakansie. Gaan nou probeer om 'n poema te sien!” sê Stephan. (‘n Kort video van hoe Stephan die massiewe reënboogforel vang, sal saam met die artikel op die Zoutpansberger se webwerf verskyn).

 

Sport - Date: 15 December 2023

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: