ADVERTISEMENT:

 

Kombo Bere (middel) was die afgelope naweek die algehele wenner van die 70 km Mango Mania-bergfietswedren op Hoedspruit en het daarmee R2 000 gewen. Hy het ook ‘n baanrekord opgestel in die Elite-mansafdeling, wat hy gewen het. Foto verskaf.

Plaaslike trappers skitter tydens jaarlikse Mango Mania

 

Verskeie van Louis Trichardt se bergfietsryers het Saterdag, 17 Februarie, Hoedspruit se hitte trotseer vir deelname aan die gewilde Mango Mania-bergfietswedren en met podiumplekke huiswaarts gekeer.

Kombo Bere trap vir homself ‘n eerste plek los en stel ook ‘n nuwe baanrekord op in die Elite-afdeling vir mans in die 70 km-wedren met ‘n tyd van 2 ure en 24 minute. Sy spanmaat Daan Terblanche eindig sewende in die afdeling en algeheel 20ste in die 70 km. Die Mango Mania het gedien as goeie oefening vir Kombo en Daan ter voorbereiding van hulle deelname as ontwikkelingspan aan die moordende Absa Cape Epic-bergfietswedren vanaf 17 tot 24 Maart. Die wedren strek oor ‘n afstand van 684km, met deelnemers wat ‘n totaal van 16,800m sal klim.

In die 35km-wedren van die Mango Mania het Louis Trichardt se Thabo Mulaudzi algeheel vierde geëindig, maar het ‘n derde plek ingepalm op die podium in die afdeling vir junior seuns.

Een van Louis Trichardt se ster-trappers, die jong André van Ree, het weer geskitter op die podium met ‘n tweede plek in die afdeling vir Youth-seuns en algehele sesde plek in die 35 km. Elanè Visser was die vierde vrou algeheel in dieselfde wedren, maar die eerste sub-junior meisie tuis.

Wat die “ouer” trappers betref, wen Andra Thompson die Groot Meester-afdeling vir vroue en was algeheel 19de in die 35 kilometer, met eggenoot Stanley Thompson wat 34ste algeheel in die 35 kilometer geplaas is.

Die plaaslike groep fietsryers het T-hemde vir ondersteuners wat hulle aan die publiek verkoop. Die fondse wat hulle hierdeur insamel, gaan vir verbeterings waaruit die jeuggroep kan baat. Een voorbeeld hiervan is Kombo en Daan wat vanjaar die Cape Epic gaan aanpak.

 

Sport - Date: 22 February 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

Email:

ADVERTISEMENT: